Die Namaqua Afrikaner: 'n Inheemse Skaapras Besig om te Verdwyn

    ''Dourie jare het ons van plek tot plek met die skaap getrek, op soek na water en weiding. Dit was droogte. En erg. Die reën wou nie kom nie. In die dag het ek en die skaap onder bome gerus en in die aand, wanneer dit koel was, het ons getrek. Ek sal dit nooit vergeet nie, al het hulle drie of vier dae laas 'n bietjie water gedrink, het die skape aanhou loop. En ons moes vêr loop.'' - Boetie Piet (86), Gibeon, ǁkharasstreek

    Skape was een van die eerste diere wat die mensdom mak gemaak het en een van die oudste inheemse skaaprasse in suider Afrika, die Namaqua Afrikaner, is besig om te verdwyn. Dit is vandag 'n bedreigde skaapras in sy eie omgewing omdat min indiwidue van hierdie antieke, geharde ras tans nog leef. 

    In 2010 het die Grootfontein Landbou-ontwikkelingsinstituut (Eng. Grootfontein Agricultural Development Institute) in Suid-Afrika die laaste ooie onder beskerming geneem ter bewaring van die ras. Nog 'n groep beskermde ooie word in die Noord-Kaap, naby Upington, in die skaapras se natuurlike omgewing, aangehou. Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling van Suid-Afrika stel die beskermde diere beskikbaar aan museums en soortgelyke ondernemings om sodoende die Namaqua Afrikaner se seldsame genetiese materiaal beskikbaar te stel aan mense wat daarin belangstel om die skaap aan te teel.

    Die Namaqua Afrikaner is 'n redelike slank skaapras met lang bene en 'n vet stert waar meer as 35% van die skaap se liggaamsvet geberg word. Alhoewel die lyf met wit of roomkleurige hare bedek is, is die kop met rooi of swart pels bedek. Dit is hierdie einste skaapras waarmee die Khoekhoense groepe, veral die Namaqua (Nama), van suider Afrika vir duisende jare geboer het en word ook geraam dat die ras reeds tussen 200 en 400 jaar voor Christus (400 V. C.) teenwoordig was in die suide van Namibië, Suid-Afrika, en Botswana.

    Navorsing, wat beskikbaar is van die National Center for Biotechnology Information (NCBI) in Amerika, het bevind dat die Namaqua Afrikaner skaapras se genetiese verskeidenheid beperk is en toon min verskeidenheid in vergelyking met ander skaaprasse in suider Afrika wat algaande met Europese en Asiatiese rasse na die aanvang van die koloniale tydperk gekruis is. 

    Hierdie taai skaapsoort is gemaklik in uitermatige temperature en kan in gebiede waar reënval laag en ongereeld plaasvind, sonder probleme lam. Dit is ook waargeneem dat ten spyte van lae reënval en min weiding, die Namaqua Afrikaner baie vrugbaar is (86%) en dat ooie swaar lammers selfs in ernstige droogtoestande kan speen, met 'n oorlewingsratio van 91%. Die ooie het ook uitstekende moederlike instinkte, gedrag wat gewoonlik net by wilde diere opgemerk word, in die dat hulle hul lammers teen mense en roofdiere sal beskerm.

    Die ooie word vroeg ryp en kan gesond en suksesvol regdeur die jaar paar. In 'n vrye paarstelsel, waar die ramme vrylik tussen die ooie beweeg, lam die ooie elke 8 of 9 maande. 

    Die Khoekhoen (uitspr. koh-heh-koh-hen) het hoofsaaklik met die Namaqua geboer vir sy vleis, vet stert, melk, en pels. Die vlees het die kenmerkende sterk reuk van skaapvleis en uitstekende nuus, baie minder vet as gewone skaapvleis.

    Die huid (skaapvel), waarmee die Khoekhoen hul kenmerkende karosse (komberse wat ook as vloerbedekkings en sitplekke gedien het), klere (die ''leervoorskoot''), mantels (wat om die nek of skouers gedra was), babasakke (of dra-velle), en sandale gemaak het, is ook uitstekend vir stewels, skoene, en handskoene. Die Namaqua Afrikaner skaap verhaar in die lente. 

    Namate ander skaaprasse na suider Afrika gebring is en nuwe kruisings ontstaan het, soos die Dorper ('n kruis tussen die Persiese skaap, die Dorsetskaap, en die rondeborsras van die Namaqua) wat tans Namibië se mees winsgewende skaapras is, en die Karakoel wat in 1907 in Namibië aangekom het, het die Namaqua Afrikaner se gewildheid skerp gedaal en is hierdie merkwaardige ras nou op die rand van uitsterwing.

    Boetie Piet trek lankal nie meer met skape agter water en weiding aan nie. Hy het nooit die geleentheid gekry om skool toe te gaan nie maar het ''darem oorleef'', soos hy sê, deur plaaswerk te doen. Hy maak sy eie velskoene en vleg swepe wat hy verkoop, en wanneer hy oor sy jong dae praat, staar hy soms oor die vuur die donkerte in asof 'n bondel langbeen skape iewers vir hom wag.    

Lees hier verder, in Engels: 

  1. Qwabe, S. O., Van Marle-Koester, E., Visser, C., 2013: Genetic Diversity and Population Structure of the Endangered Namaqua Afrikaner Sheep: https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/22930466/ 
  2. Grootfontein Agricultural Development Institute, 2010: Namaqua Afrikaner Sheep: http://gadi.agric.za/articles/Snyman_MA/namakwaalg.php
  3. Farmer's Weekly, 2021: All About the Namaqua Afrikaner: https://www.farmersweekly.co.za/farm-basics/how-to-livestock/all-about-the-namaqua-afrikaner/  
    Geskryf deur vryskut skrywer, Anya Namaqua Links, ter viering van Nasionale Erfenis en Herkoms Week, 20 - 26 September, 2021. Alle regte voorbehou. Die foto hierby is verkry van die Grootfontein Agricultural Development Institute van Suid-Afrika se webwerf. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.     

Opmerkings