Die Pyn in ons Onderbewussyn: Gemeenskap-en Groepstrauma

    Het jou gemeenskap hoë vlakke van drank-en dwelm misbruik, kindermishandeling, geslagsgeweld, misdaad (aanranding, moord, en roof), en selfmoord? 

    Is of was jy 'n slagoffer, of ly jy aan depressie...soos een van jou ouers? Sukkel jy of iemand na aan jou met verslawing, of is eetversteurings algemeen in jou familie? 

    Aanskou jy gereeld slegte gebeure in jou gemeenskap? Of, hoor jy daarvan? Ken jy baie slagoffers? Is jy al gewoond daaraan, of hoor jy gereeld negatiewe menings, opmerkings, en self-sieninge? 

    Voel jy knaend angstig, onseker, of onveilig sonder dat iets in jou onmiddellike omgewing sulke gevoelens aanwakker? Wil jy iewers anders woon, of nog erger, wil jy voortdurend wegvlug? 

    Wat van woede? 

    As jy met 'n paar van of met alles hierbo saamstem, is die moontlikheid groot dat jy in 'n getraumatiseerde gemeenskap woon.

    1. Wat is gemeenskap-en groepstrauma? 

    Gemeenskapstrauma vind plaas wanneer 'n groep mense traumatiese gebeure ervaar. Die klem hier val op ''groep'' want die lede het dieselfde traumatiese ervaringe en gebeure in gemeen. Sonder ingryping duur die gevolge van gemeenskapstrauma vir baie geslagte en as dit nie aangespreek word nie, het dit 'n nadelige uitwerking op 'n gemeenskap. 

    2. Voorbeelde van kwesbare en getraumatiseerde groepe in suider Afrika:

  • Kinders (in alle gemeenskappe)
  • Vroue (in alle gemeenskappe)
  • Lede van die LGBTQ-gemeenskap (in alle groepe)
  • Lede van etniese of inheemse groepe
  • Nie-blanke mans (in alle gemeenskappe)
  • Godsdiensgroepe en gelowe
  • Immigrantgroepe en vlugtelinge
  • Kulturele minderheidsgroepe
  • Taalgroepe.

    3. Wat is die oorsake van gemeenskap-en groepstrauma?

    Natuurlike verskynsels soos droogte, waternood, hongersnood (as gevolg van droogte of vloede), plae (byv. springkane en wurms), oorstromings, en vernietigende veldbrande traumatiseer gereeld gemeenskappe en groepe, so het ook verwoestende aardbewings, orkane, tifone, tsoenamies, en vulkaniese uitbarstings dieselfde uitwerking op gemeenskappe. 

    Menslike foute kan gemeenskappe en groepe traumatiseer deur middel van boerdery, bosbou, mynbou, nywerheid, en industriële bedrywighede wat die vernietiging van natuurlike habitat en die omgewing veroorsaak, en veral gemeenskappe en groepe wat afhanklik is van natuurlike waterbronne soos boorgate, ondergrondse water, putte, riviere, en watergate is kwesbaar in hierdie opsig.

    Oordraagbare siektes soos pokke (Eng. small pox), skarlakenkoors, kolera, ebola, MIV en Vigs, en onlangs die COVID-19 pandemie, traumatiseer ook gemeenskappe en groepe. Die COVID-19 pandemie het nie net leefwyses en roetines omvergewerp as gevolg van afstande en afsondering wat gehandhaaf moet word nie, grendels, inperkinge, maskers, ontsmetting, onderbrekings by die werk, by skole, en studies het die normale verloop van menselewens versteur, en gemeenskappe en groepe in elke hoek van die wêreld het ledemate verloor. 

    Die vierde oorsaak van trauma in gemeenskappe en groepe is mense teenoor mense. Regdeur die mens se geskiedenis was traumatiese gebeure doelbewus veroorsaak deur mense wat verskeie gemeenskappe en groepe benadeel het, en sommige traumatiese ervaringe vind steeds plaas soos diskriminasie, rassisme, en xenofobie.

    Gedurende Duitse kolonialisme was hoofsaaklik die Namaqua-en Hererogemeenskappe in Namibië geteiken vir onderwerping en uitwissing maar talle ander groepe soos die Damaqua, die Eerste Nasies (Hai//om, Juu, Khwe, !Kung, en Tuu), en Ovahimba het ook gely. Die meerderheid van inheemse gemeenskappe het 'n groot aantal lede as gevolg van die volksmoord verloor, veral die Hererosprekende gemeenskap, ook is hierdie gemeenskappe hul stamgronde kwyt, het hulle alle menseregte verloor, insluitende toegang tot die land se natuurlike hulpbronne, en het die meeste verskaffers van goedkoop arbeid geword en hul gemeenskappe in armoede verval

    Apartheid, die Angolese-Namibiese grensoorlog wat veroorsaak het dat duisende Namibiese vlugtelinge in politieke ballingskap in buurlande en oorsee leef, en binnelands, tesame met grond-en eiendomsverliese tydens kolonialisme, die gedwonge hervestiging en verwydering van gemeenskappe en groepe met die toepassing van die Groepsgebiedewet 41 van 1950, die instelling van beperkinge op vrye beweging vir nie-blanke groepe, die instelling en toepassing van diskriminerende en vernederende beleide en wette, gebruike soos werkbewaring, die inperking van geleenthede vir nie-blankes om finansiëel te groei, om finansiële onafhanklikheid en selfstandigheid te bereik wat grootskaalse armoede in hul gemeenskappe veroorsaak het, beperkte of swak gehalte dienste en onderwys wat toekomstige geslagte gekniehalter het, beperkte beroepskeuses en geleenthede vir verdere studie wat armoede verdiep en vererger het, geen of min toegang tot inligting, geen regte en toegang tot die benutting en besit van natuurlike hulpbronne, om slegs verskaffers van goedkoop arbeid vir wit besighede en nywerhede te wees, die onderdrukking van teenstrydige menings en stemme, die onderdrukking van politieke deelname, uitdrukking, vryheid, en ontneming van stemreg, onderskryf deur 'n strafkultuur teenoor gediskrimineerde gemeenskappe en groepe waar hulle gereeld opgesluit, geterroriseer, en vervolg was, strawwe wat die mates van oortredings oorskry het om sodoende orde te handhaaf deur middel van dwang, oorheersing, en vrees, en negatiewe opvattings en uitbeeldings van nie-blanke gemeenskappe en groepe afgedwing en beloon was, is maar net sommige van die mees onlangse traumatiese ervaringe en gebeure vir nie-blanke gemeenskappe en groepe in Namibië wat, in die meeste gevalle, reeds deur Duitse kolonialisme getraumatiseer was. 

    Internasionale traumatiese ervaringe wat doelbewus deur mense veroorsaak was soos die Atlantiese slawehandel van mense van Afrika-en inheemse herkoms, slawerny, imperialisme en kolonialisme op vastelande buite Brittanje, Europa, en Noord-Amerika, die gedwonge hervestiging van inheemse Amerikaners op reservate, die Joodse volksmoord, diskriminasie teen minderheidsgroepe soos die Roma (sigeuners) in Europa, die volksmoord in Roeanda, en xenofobie teenoor immigrantgroepe, is wêreldbekend.

    4. Wat is die eienskappe van getraumatiseerde gemeenskappe en groepe?

    Die mense in getraumatiseerde gemeenskappe en groepe ervaar trauma verskillend en reageer verskillend ook. Die newe-effekte van traumatiese ervaringe en gebeure is baie keer nie dadelik opsigtelik of opvallend nie omdat hul verwerking op 'n persoonlike vlak plaasvind.

    Op indiwiduele vlak is emosionele en geestelike gesonde mense beter toegerus om traumatiese ervaringe en gebeure te verstaan en verwerk. Ander mense ervaar weer ten volle die pynlike nagevolge en newe-effekte van traumatiese gebeure en sukkel om hulle te verwerk. In sulke gevalle ontstaan gewoonlik, nie altyd nie, self-vernietigende gedrag en gewoontes om die trauma te probeer hanteer, soos drank-en dwelmverslawing, eet-en slaapversteurings, depressie en gemoedsversteurings, selfsny, onvoorspelbare emosies en gedrag, selfmoordneigings...elkeen reageer verskillend.

    In gevalle waar die voorouers (ouers, grootouers, grootjies, selfs verre voorouers) van 'n getraumatiseerde gemeenskap of groep nie ten volle van trauma genees het nie, of hulle was herhaaldelik oor geslagte heen getraumatiseer, veral in erge gevalle waar hul eie gemeenskappe, gebruike, leefwyses, groepsidentiteit, en taal vernietig was, ontstaan tussen-generasiestrauma wat van geslag tot geslag oorgedra word. Hierdie gemeenskappe en groepe verloor mettertyd hul vermoë om self te herstel. Post-apartheid-en koloniale suider Afrika het baie sulke getraumatiseerde landelike en stedelike gemeenskappe.

    Dis ongelukkig die waarheid dat getraumatiseerde gemeenskappe en groepe se buurte en woonplekke gewoonlik wanordelik en onversorg lyk. Die meeste mense in hierdie gemeenskappe is werkloos en het nie besteebare inkomste nie, is daarom nie in staat om eiendom instand te hou nie en sukkel om openbare dienste te bekostig. Water-en kragtoevoer word gereeld onderbreek en opgeskort. Baie wonings, soos sinkhuise, is onveilige, tydelike strukture sonder krag, water of toilette. 

    Daar is ook 'n hoë mate van onveiligheid in die openbaar. 'n Groot aantal kinders en jeugdiges is verwaarloos, woon nie gereeld skool by nie, en is weerloos tussen volwassenes waar hulle maklik slagoffers van mishandeling en geweld word. Ook is daar hoë vlakke van verslawing onder jeugdiges en jong volwassenes. Geweld en misdaad is algemeen en vind gereeld plaas, en veral moeders in gesinne en vroulike persone word in die openbaar en tuis mishandel. Maatskaplike dienste soos gesondheidsgeriewe, polisiëring, gevangenis is oorbenut of oorweldig soos die gemeenskap voortdurend krisisse ervaar.     

    5. Hoe kan gemeenskappe en groepe die skade berokken deur traumatiese ervaringe en gebeure probeer herstel? 

    Volgens deskundiges is taalgebruik baie belangrik en die eerste stap is om te erken dat traumatiese gebeure plaasgevind het, hulle te beskryf, en om mense aan te moedig om na hulself te verwys as oorlewendes in plaas van slagoffers. Sielkundiges het bewys dat oorlewendes anders optree as slagoffers. 

    Die tweede stap is om die vorm van traumatiese ervaringe en gebeure te verander deur soveel mense moontlik van getraumatiseerde gemeenskappe en groepe aan te moedig om uiting aan hul gevoelens te gee deur middel van digkuns, musiek, literatuur, kuns, en optredes, in plekke waar hulle veilig voel. 

    Die derde stap is gemeenskapsorg wat 'n groot uitdaging vir baie post-apartheid-en koloniale regerings in suider Afrika blyk te wees om die eenvoudige rede daar is 'n groot aantal behoeftiges. 

    Gemeenskapsorg raak aan vraagstukke soos het almal in die gemeenskap drinkwater, het almal veilige beskutting, plek om te bly en te slaap, het mense toegang tot bekostigbare krag, eet almal gereeld (ten minste drie maaltye per dag), is skole en opvoeding bekostigbaar en toeganklik vir almal, is hulp beskikbaar vir mense wat noodsaaklike vaardighede wil aanleer, is hulp beskikbaar vir mense wat verder wil studeer, is daar ondersteungroepe vir slagoffers van geweld waar hulle hul ervaringe met andere kan deel en daaroor gesels, is daar plekke en ruimtes waar mense gratis kan ontspan en hul kultuur beoefen of uitdrukking daaraan kan gee, soos openbare parke met speelgeriewe vir kinders, vir openbare optredes, en ruimtes vir gemeenskapsmarkte waar mense van die gemeenskap hul goedere kan verkoop? Armoede traumatiseer ook gemeenskappe en groepe. 

    Die belangrikste is dat die gemeenskap begrip en empatie vir sy eie lede ontwikkel deur verhoudinge te bou wat in die toekoms as skanse en veiligheidsnette teen traumatiese ervaringe kan dien en veral vatbare en kwesbare kinders en jeugdiges beskerm omdat hulle nie die vermoë het om trauma te verwerk nie. Alle volwassenes kan opbouende rolle in jongelinge se lewens speel. 

    Sommige gemeenskappe en groepe onttrek van alles en almal rondom hulle omdat hulle uitgesonder, uitgesluit, en vernederd voel deur traumatiese ervaringe en gebeure. Dit is daarom belangrik dat die breë gemeenskap hulle moet ondersteun, tegemoetkom, en in openbare ruimtes aanmoedig, beskerm, en verwelkom.

    Om ekonomië te herbou word getraumatiseerde groepe aangemoedig om in hul inheemse goedere, kennis, en vaardighede te belê, in opvoeding veral, en gespesialiseerde kennis in te win soos dokters, verpleegsters, spesialiste, argitekte, prokureurs en ingenieurs, te belê in besighede in hul gemeenskappe en hulle te ondersteun om sodoende reserwes en voorraad van noodsaaklike goedere op te bou wat hul gemeenskappe in die toekoms die nodige buigsaamheid en veerkragtigheid sal gee om traumatiese ervaringe en gebeure die hoof te bied.

    Die pyn in ons onderbewussyn kan met verloop van tyd uit ons gemeenskappe verdwyn mits ons daadwerklik optree en die impak van traumatiese ervaringe op ons en ons voorouers erken en aanspreek.

***

    Hierdie artikel is geskryf deur Anya Namaqua Links, 'n stigterslid van die Nossob Skryfgroep. Alle regte voorbehou. Links het 'n graad in bedryfsielkunde en politieke wetenskap met 'n fokus op arbeidskonflik en oplossing, demokratiese modelle, ontwikkeling, en minderheidsverteenwoordiging in post-apartheid-en koloniale Afrika. Kry ons in die hande en laat weet ons wat jy dink in die kommentaar en opmerkings afdeling, of by nossobgroep@gmail.com.

 



Opmerkings