Daar is Afrikaanssprekende mense soos ons van Namaqua, Dama, Ovaherero, en Duitse herkoms. Ons is die afstammelinge van inheemse mense wat 'n wrede gebeurtenis in ons land se geskiedenis oorleef het: die Namaqua-en Hererovolksmoord van 1904 tot 1908.
Sommige geskiedkundiges noem dit die eerste volksmoord van twintigste eeu, andere trek ooreenkomste tussen wat hier gebeur het en die Joodse volksmoord gedurende die Tweede Wêreldoorlog, en daar is 'n klomp mense, hier en oorsee, wat nie stemme soos ons s'n wil hoor nie, wat nooit ons verhale sal lees nie, omdat ons hulle ongemaklik maak.
Laat ons almal net hiervan verseker: ons het byna alles en wat nog gehoor. Van mense wat ons vertel wat hulle dink gebeur het, mense wat reguit vir ons gesê het om van die verlede te vergeet en ''aan te beweeg'', mense wat ons geskiedenis in hierdie land as onbelangrik afmaak, mense wat ons op grond van ons herkoms beledig, ook ons herkoms betwyfel en bevraagteken, tot by mense wat ons daarvan beskuldig dat ons daarop uit is op selfverryking. Gaan lees gerus die kommentaar op Facebook onder artikels oor die volksmoord.
Ondanks ander mense se menings het ons ure by die Nasionale Argiewe van Namibië deurgebring en herhaaldelik die Wetenskaplikegenootskap van Namibië besoek om die legkaarte van ons voorouers en die geskiedkundige gebeure van hul tye aanmekaar te sit. Ons het aktes, fotos, dokumente, berigte, en boedels versamel.
Dis iets wat 'n mens nie kan verduidelik nie, ek weet nie of enigiemand in dieselfde situasie kan nie. Ons oorlede moeder het op haar eie met hierdie proses en soektog begin. Ek het boeke gelees en videos gekyk van oorlewendes van die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog om uit te vind wat moontlik hierdie gevoel veroorsaak - 'n gevoel van iets wat bly knaag aan die onderbewussyn oor dinge in die verlede wat onklaar is.
Drie jaar gelede het ek ons geskiedenis met 'n Duitssprekende geskiedkundige gedeel wat toe voorgestel het dat ons gemeenskaplike trauma (Eng. collective trauma) moet ondersoek en saam met dit, trauma wat aan daaropvolgende geslagte oorgedra word (Eng. transgenerational and intergenerational trauma). Dit gebeur wanneer traumatiese ervaringe deel word van 'n groep se gemeenskaplike bewussyn en geheue, en daaropvolgende geslagte dan sielkundig raak en traumatiseer. Dié veld is nog groen maar voorlopige studies het bewys oorerflike trauma beïnvloed babas vóór geboorte en speel 'n rol in gesondheid op 'n epigenetiese vlak.
Maar, kom ons gaan eers terug na die laat 1800s, na koloniale Namibië, of Duitssuidwes-Afrika (DSWA).
Ons oumagrootjie aan ons ma se kant was van Gibeon (Kk: Khaxatsûs, uitspr. kâ-gâ-tsis) in die suide van Namibië, maar gebore in Warmbad. Toe ek gebore was, het sy Afrikaans, Duits, en Namagowab (Nama taal) gepraat.
Gibeon was in die 1800s deur Kido Witbooi van die Witbooi Namaqua gestig en is vandag in die Hardapstreek geleë. Dit was die hoofsetel van Kaptein Hendrik Witbooi en is wêreldwyd bekend danksy 'n meteoriet wat miljoene jare gelede daar uit die buitenste ruimte geval het. Die Gibeon-meteoriet, wat tans in die middel van Windhoek uitgestal word, is een van ons land se nasionale monumente en lok honderde deskundiges, ruimte-entoesiaste, en toeriste hierheen.
Ons ander oumagrootjie aan ons ma se kant is oorspronklik van Omatjete (Afr. lekker water, uitspr. ô-mâ-tjê-tê) in westelike Namibië. Toe ek gebore was, het sy Khoekhoegowab (Damara taal) en die mooiste, sagste Otjiherero gepraat.
Omatjete het 'n fonteintjie alhoewel die omgewing baie droog is en is vandag in die Erongostreek geleë. Toe ek klein was het ons haar daar en in Otjiwarongo besoek tot haar heengaan in die 1990s, ná Namibië se onafhanklikheid van apartheid Suid-Afrika.
Ons het twee Duitse oupagrootjies. Een was 'n soldaat van Pommern, in westelike Pomerania, Duitsland, en die ander 'n weeskind van Königsberg in Oos-Pruise. Albei het kort ná 1900 in Namibië aangekom, by Lüderitz en Swakopmund onderskeidelik.
Die Nasionale Argiewe het ons oupagrootjies se boedels en die Wetenskaplikegenootskap het ons met die rekords verskaf wanneer hulle hier aangekom het, wat hul beroepe was, waar en wanneer hulle gesterf het. Daar is nie inligting beskikbaar oor hul daaglikse lewens nie maar Duitse berigte en boeke van daardie tydperk bied ons 'n blik op Duitse lewens in koloniale Namibië. Alhoewel nie een van hierdie twee instellings inligting het oor ons inheemse oumagrootjies nie, nie eens hul name nie, is ons bevoorreg om albei persoonlik te kon ken.
Oumamma, oftewel Auma Moedie, was elf (11) toe Generaal Lothar von Trotha die uitwissingsbevel teen die Namaqua in April, 1905, uitgereik het, vyf (5) maande na die uitwissingsbevel teen die Herero in Oktober, 1904.
In 1904 het Von Trotha vir Kolonel Theodor Leutwein vervang as die goewerneur van Duitssuidwes-Afrika. Laasgenoemde, Leutwein, het tot op daardie tydstip nog 'n diplomatiese verhouding met die Namaqua en Herero probeer handhaaf waarvoor hy hewig deur die owerhede in Duitsland gekritiseer is omdat hy, volgens hulle, ''barbare'' soos mense behandel. Dit was egter Leutwein se beleid van verdeel en regeer (Eng. divide and rule) om die Namaqua en Herero teen mekaar af te speel en dan militêre mag te gebruik om Duitse belange plaaslik te beskerm en bevorder.
Vroeër in 1904 het Opperhoof Samuel Maharero 'n boodskap aan Kaptein Hendrik Witbooi gestuur en gevra die Namaqua en Herero moet terselfdetyd teen die Duitse weermag opruk en 'n doeltreffende aanval op ses (6) fronte loots:
''Ons geduld met die Duitsers en ons onderdanigheid help ons niks; elke dag skiet hulle iemand dood sonder rede. Kom ons sterf eerder terwyl ons veg as wat ons sterf as gevolg van mishandeling, in aanhouding, of 'n ander ramp. Laat weet al die kapteins in die suide ons moet saamstaan en veg.''*
Hierdie belangrike boodskap het egter nooit sy bestemming bereik nie. Opperhoof Maharero het die boodskap vir Hermanus van Wyk van Rehoboth gegee om vir Kaptein Witbooi in Gibeon aan te stuur. Van Wyk het albei egter verraai en die boodskap, tesame met briewe van Opperhoof Maharero en Kaptein Witbooi, aan die Duitse owerhede oorhandig. Geskiedkundiges meen dat as Van Wyk die boodskap aan Kaptein Witbooi oorgedra het sou die Namaqua-en Herero-opstande anders verloop het.
In Omatjete het Auma Katrina ('n naam wat sy aangeneem het) en haar familie te hore gekom van die slagting by Waterberg en die grusame moorde op Herero-mense in die Omaheke (Afr. sandveld). Opperhoof Maharero het na Betsjoeanaland (Botswana vandag) gevlug.
Omdat daar Duitse burgers en soldate in hul omgewing was, het Auma Katrina-hulle Omatjete verlaat en in die omliggende gebiede geskuil. In 1906 vlug hulle na Outjob (Outjo), 'n Duitse militêre basis net onder die ''rooilyn'' wat noordelike Namibië van die sentrale dele van die land tot vandag toe skei, en daar het sy tussen die plaaslike bevolking geskuil. Tog was sy 'n aantreklike, elegante, jong vrou, steeds mooi toe ek klein was, wat die aandag van Duitse soldate aangetrek het.
Op 'n Duitser, ons oupagrootjie, se plaas in die Outjo-omgewing het sy huis-en plaaswerk gedoen en op die 16de Januarie, 1914, skenk sy geboorte aan 'n tweeling, my oupa en sy broer.
Na Von Trotha se uitwissingsbevel teen die Herero in 1904, het negentien (19) Namaqua-mans na Gibeon gevlug om vir Kaptein Hendrik Witbooi te waarsku dat hulle moet vlug want hulle het met hul eie oë aanskou hoe die Duitsers die Herero om en by die Waterberg vermoor. Witbooi het dadelik besef die nuwe goewerneur, Von Trotha, wou hom en sy gemeenskap volgende teiken, en het aan 'n strategie begin werk.
Op die 22ste April, 1905, reik Lothar von Trotha toe 'n uitwissingsbevel teen die Namaqua uit. Auma Moedie-hulle het uit Gibeon gevlug, verder suid. Daardie tyd was die suide van Namibië in die volksmond bekend as Groot Namaqualand en was dit geensins hemel op aarde nie; die Namaqua-stamme het gereeld onder mekaar gestry oor leierskap, grond en weiding, sendelinge, soms vee, en die gespanne verhouding met die Duitsers.
Tussen Gibeon en Aroab is ongeveer 335 km, drie tot vier dae te voet, en dis waar Auma Moedie haar bevind in 1905. 'n Arm Namaqua-stam het vir Aroab met Duitsers in 1900 verruil vir gewere en skape, gebeure waarvan Auma Moedie-hulle in Gibeon nie bewus was nie. Die twee Duitsers het die grond tussen hulle verdeel en een van die plase Streitdamm gedoop.
In Aroab het Auma Moedie-hulle baie swaar gekry na die uitwissingsbevel van 1905, is ons vertel. Hul leier, Kaptein Hendrik Witbooi, is dieselfde jaar in Vaalgras oorlede. Hulle het alles verloor; hul grond en vee, groot getalle mense het verdwyn, baie mense was in ''kampe'' het sy gesê, waar hulle gesterf het, en alles was onder die beheer van die Duitse koloniale regering ten spyte van die dapper weerstand wat onse mense gebied het. Hul lewens was vernietig.
Auma Moedie het daarna saam met haar oudste broer en sy gesin van plaas tot plaas in die suide geswerf en by blankes gebedel vir werk, vir iets om te eet, slaapplek, haar broer het skape geskeer, diere versorg, en met vee na beter weiding en water getrek. Hulle was oornag bedelaars op hul eie grond.
Die Unie van Suid-Afrika, onder leiding van Generaal Louis Botha, het in 1915 namens die geallieerdes (Frankryk, Brittanje, Rusland, Italië, Amerika, en Japan) vir DSWA uit die suide en langs die kus binnegeval want Duitsland was hul gemeenskaplike vyand. Botha se Suidwes-Afrika veldtog was suksesvol toe die Duitse magte oorgee en 'n nuwe koloniale tydperk van 75-jaar onder Suid-Afrikaanse militêre besetting in Namibië afskop.
Op die plaas in die Outjo-omgewing het dinge vir Auma Katrina na die tweeling se geboorte onsmaaklik geword en nie lank daarna nie is sy weggejaag. Die Duitsers was egter nie meer in beheer nie. Haar kinders het nog nie name gehad nie maar Auma Katrina was ook nie naïef nie, en het met hulle tot in Otjiwarongo gestap waar sy haar seuns westerse name gegee en op hul Duitse pa se van laat doop het.
Na die ''unie'' vir Namibië oorgevat het, het haar broer vir Auma Moedie in Aroab gaan aflaai waar sy net nog 'n jong, hawelose, werklose, inheemse meisie was tussen vele. Armoede en wanhoop het die land se inheemse bevolking platgelê. Nes Auma Katrina het mans gedink Auma Moedie is aantreklik en in 1920 gee sy geboorte aan haar eersteling van 'n Duitse polisiebeampte.
Die polisiebeampte, ons oupagrootjie, besluit toe om met Auma Moedie te ''trou'' alhoewel die Duitse regering nie huwelike tussen burgers en inboorlinge erken het nie. Ingevolge koloniale wetgewing mog inheemse vroue nie Duitse burgers se eiendom besit en erf nie, was kinders verwek uit sulke verhoudinge en huwelike outomaties buite-egtelik, ook het hulle uitsluitlik aan hul moeders behoort, en was hulle nie geregtig op die voorregte wat Duitse burgers geniet het nie.
Die polisiebeampte het die plaas, Streitdamm, gekoop en sy gesin daar gehuisves. In die verslag wat die Wetenskaplikegenootskap van Namibië aan ons verskaf het verskyn een vae sin wat Auma Moedie se bestaan skrams erken: ''Er heiratet eine Schwarze'' (Afr. Hy trou met 'n swart vrou). Dis al.
***
Deel I van ''Mense soos Ons: Kinders van die Oorlewendes van die Namaqua-en Hererovolksmoord in Nambië'' is geskryf deur Anya Namaqua Links, stigter van die Nossob Skryfgroep.
*Lees oor Opperhoof Samuel Maharero en Kaptein Hendrik Witbooi in Let Us Die Fighting: The Struggle of the Herero and Nama Against German Imperialism (1884 - 1915), geskryf deur Horst Drechsler. Die foto hierby is in 1904 voor die uitwissingsbevel teen Herero-sprekende mense geneem en het in die Berliner Illustrirte Zeitung verskyn. Dis opvallend dat nie een van die vroue in die foto glimlag nie.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking