Geslag en Identiteit: Watter Politieke Doel dien Swapo se Homofobie in Namibië?

    ''Enige plek behalwe hier,'' sê Jessie*. ''Ek kan dit nie meer hier verdra nie.''

    Dis die derde keer in tien jaar dat sy, 'n biochemikus by 'n maatskappy in Windhoek, vir haar familie en vriende sê sy wil die land verlaat. Hierdie keer wil sy oppak en Kanada toe. Haar beste vriend, Kenny*, is al sedert begin verlede jaar, voor COVID-19, in Londen. 

    Jessie is veertig (40), godsdienstig, en gaySy verdien 'n goeie salaris en betaal elke maand inkomstebelasting. As 'n Namibiese burger stem sy al sedert haar agtiende verjaarsdag. 

    Drie jaar gelede het sy iemand spesiaal by 'n kerk in Kaapstad ontmoet. Vir meer as 'n jaar lank het hulle beurtelings tussen Kaapstad en Windhoek gevlieg om hul verhouding aan die gang te hou maar alles het opgehou nadat Jessie haar maat in kennis gestel het dat sy haar nie aan haar familie kan voorstel nie, nog minder in haar kerk, en dat hulle nie in haar tuisland kan trou nie.

    Haar begeerte om te emigreer het opnuut opgevlam nadat Namibië se voormalige jeug minister en Swapo-partylid, Jerry Ekandjo, onlangs homofobiese uitlatings in die parlement gemaak het. Hy het ook uitgevaar teen veilige en wettige aborsies...en daggarokers. 

    ''Ek kan nie sien waarom ek hier moet bly waar ek nie regte het nie,'' het Jessie, wat graag kinders wil aanneem, gesê.

    Jessie is nie alleen in hierdie bootjie nie. 'n Geraamde 2% van mans en 5% van vroue identifiseer as gedeeltelik of heeltemal biseksueel, lesbies, en homoseksueel. Wêreldwyd identifiseer minder vroue (87%) as mans (93%) as heeltemal heteroseksueel, en meer mans as vroue identifiseer as heeltemal homoseksueel. As gevolg van hul toenemende sigbaarheid en uitgesprokenheid, word biseksuele, lesbiese, homoseksuele en oorgangspersone ook toenemend slagoffers van geweld.  

    Maar, waarom word hierdie minderheid in Namibië gereeld geteiken deur haatspraak? Hoekom word hulle hul volle regte as burgers deur die Swapo-regering geweier? Dien Swapo se homofobie 'n politieke doel?

    Twee navorsers, Rita Schäfer en Eva Range, het in 2014 bevind dat politieke homofobie in Afrika bewyse is van ''...swak leierskap in die regering, 'n gebrek aan die begrip van demokrasie, 'n manier om die media te muilband, onvoldoende beskerming van mense teen geweld, minagting van menseregte, onverdraagsaamheid, en gebrekkige geslagsbeleide.''

    Dis veral in tye van ekonomiese krisis, wanneer regerings in die openbaar beskuldig en gekritiseer word oor begunstiging, buitensporige korrupsie, magsmisbruik, en die misbruik van fondse en hulpbronne, dat 'n klein regerende elite soos presidente, ministers, en parlementslede dikwels die homofobie kierie optel om mense van verskillende seksuele oriëntasie of geslagsidentiteit aan te val deur media wat ''goedgesind'' is teenoor sulke regerings, soos staatsmedia. 

    Dis presies wat in Simbabwe gebeur het toe President Robert Mugabe in 1995 die media en die wêreld se aandag wou aflei van grootskaalse korrupsie in sy regering en magsmisbruik onder sy leierskap deur homofobiese haatspraak te gebruik om terselfdetyd ook sy aanspraak en reg op leierskap te verdedig op grond van sy rol in die land se teen-koloniale vryheidstryd. Hierdie patroon is dan herhaal deur ander politieke leiers in Namibië, Sambië, en Oeganda.

    In Oeganda strook die homofobiese beleid van die huidige regering met die houding en oortuigings van charismatiese en pinkster kerke teenoor die LGBTQIA+ gemeenskap. Dis nie so per toeval nie. Die grootste kerke in Oeganda ontvang ondersteuning en fondse van evangeliese kerke in die suide van Noord-Amerika wat standpunt inneem dat homoseksualiteit 'n ''euwel'' is wat ''genees'' kan word. 'n Groot aantal politieke leiers in Oeganda, insluitende die president en sy vrou, woon charismatiese en pinkster kerke by wat, ondanks die politieke beginsel om kerk van staat te skei, die kerke toelaat om politieke invloed te hê op beleide en wetgewing.

    Dit was egter Ashley Currier van die Texas A & M Universiteit wat in 'n studie* gewys het hoe die Swapo party van Namibië politieke homofobie aanwend om openbare kritiek teen die party en onenigheid onder sy lede te onderdruk, en om die manlike status van die party se leiers as bevryders van die land te versterk. In hul studie het Currier ook gewys hoedat Swapo politieke homofobie gebruik om die uitsluiting van geslag-en seksuele andersdenkendes in die amptelike geskiedenis van die land te regverdig, veral met betrekking tot vroue en mense met ander geslagsidenteite.    

    Vroeg in 2000 was spanning hoog in noord-oos Namibië. Ten minste ses (6) kinders is vermoedelik deur Unita vermoor nadat die Namibiese regering die Angolese weermag toestemming gegee het om Unita magte op Namibië se grondgebied vas te trek. Later dieselfde jaar is die regering hewig gekritiseer oor sy gewillige-aankoper-en-verkoper grondverkrygingsbeleid nadat president Robert Mugabe by 'n Swapo saamtrek in Ondangwa die party se ondersteuners opgestook het om ''grond te gryp''.  

    Kort daarna het Jerry Ekandjo, destyds die Minister van Binnelandse Sake, nuwe polisiebeamptes beopdrag om gay mans en lesbiese vroue in Namibië ''uit te wis'' omdat 'n ''nuwe soort misdaad'' toeneem, naamlik mense wat homoseksualiteit beoefen. Ten spyte van sy kommerwekkende, gevaarlike homofobiese uitsprake oor die jare heen bly hy steeds 'n Swapo party-en parlementslid.

    Onlangs het die sogenaamde ''Fishrot'' korrupsie skandaal, wat in 2018 op die lappe gekom het, die Namibiese regering in 'n krisis gedompel. Die beskuldigdes se onthullings voor die hof van miljoene dollars en luukse lewenstyle sorg vir skokke in 'n land met 'n wankelrige ekonomie, hoë werkloosheidsyfer, toenemende misdaad, waar meer as die helfte van die bevolking onder die broodlyn in tydelike behuising woon sonder basiese geriewe soos krag, toilette, en water. Twee voormalige Swapo ministers is betrokke. Die kiesers is woedend.

    Ekandjo het hierdie week in die parlement gesê dat seksuele omgang tussen mans nie in Namibië toegelaat mag word nie tydens 'n bespreking van die nasionale begroting. Ondanks sy blatante homofobie, bly hy op die regerende party se lys omdat homofobie deur Swapo in Namibië gebruik word om 'n politieke status quo vir die regerende elite te handhaaf, om dié party se mag en invloed te konsolideer, en nes wyle Robert Mugabe in die negentiger jare, om die aanspraak van ''bevryders'' op die land se leierskap te regverdig, ongeag wie daaronder ly. Alhoewel ander parlementslede vir Ekandjo se uitlatings gelag het, kry die breë gemeenskap die indruk dat die grondwet se artikels nie van toepassing is op Swapo partylede nie, dat geweld en haatspraak teen ander geslagsidentiteite aanvaarbaar is, en dat hooggeplaastes in die regering homofobie goedkeur.

    Dit is nie 'n grap nie, dis gevaarlik. Dis 'n skending van Namibiese burgers se menseregte en hul reg op privaatheid. 

    Jessie sien nie uit na kersfees nie. Sy voel ontuis en onveilig in haar eie gemeenskap, in haar eie land. Ná Ekandjo se uitlatings vroeër in dié week was sy vir 'n dag lank nie op Facebook nie om negatiewe kommentaar en die voorspelbare onverdraagsaamheid te vermy. Toe sy weer inteken was sy 'n bietjie bly en verbaas om te sien dat meer mense as voorheen mense soos sy en Kenny verdedig en het sy ook 'n uitnodiging gesien na Pride Week

***

    *Nie hul regte name nie

    Lees hier verder:     

    1. Schäfer, R. en Range, E. The Political Use of Homophobia: Human Rights and Persecution of LGBTI Activists in Africa (March, 2014): https://library.fes.de/pdf-files/iez/10610.pdf

    2. Currier, A. Political Homophobia in Postcolonial Namibia, Gender & Society, Vol. 24, February, 2010: https://www.jstor.org/stable/20676848;

    3. Amupadhi, T. Eliminate Homosexuals, says Minister, Mail & Guardian, 6 October, 200: https://mg.co.za/article/2000-10-06-eliminate-homosexuals-says-minister/ 

    Hierdie artikel is geskryf deur Anya Namaqua Links. Die foto was deur Roberto Igual geneem vir sy artikel: Windhoek Celebrates LGBT Pride after Hate Attacks (Mamba Online). Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.   

Opmerkings