Nossob Nuus: Ovaherero en Nama aan Duitse en die Namibiese Regerings: ''Hou by die Volksmoord Mosie van 2006.''

    Op Vrydag, die 19de November, 2021, het Berlin Postkolonial, 'n Duitse nie-regeringsorganisasie, 'n geskiedkundige perskonferensie in Berlyn gehou, bygewoon deur die Nama Tradisionele Leierskapsvereniging (NTLA) en die Ovaherero Tradisionele Owerheid (OTA).

    Christian Kopp van Berlin Postkolonial het gereël vir die perskonferensie om by nommer 92, Wilhelmstrasse in Berlyn plaas te vind, in dieselfde gebou waar die Konferensie van Berlyn (Eng. Berlin Conference) in November, 1884, gehou is. 

    Mev. Sima Luipert van die NTLA, en Mnre. Ngondi Kamatuka en Veraa Katuuo van die OTA, het die perskonferensie bygewoon met die hulp en ondersteuning van change.org, die Europese Sentrum vir Grondwetlike-en Menseregte (ECCHR: European Centre for Constitutional and Human Rights), en die GfbV (Gesellschaft für bedrohte Völker / Afr. Vereniging vir Bedreigde Volke).

    Een-honderd-en-sewe-en-dertig (137) jaar na die berugte Konferensie van Berlyn het drie (3) afstammelinge van die slagoffers van die Ovaherero-en Nama volksmoord in Namibië in dieselfde gebou byeengekom ''...waar 'n klomp bejaarde wit mans onderhandel het oor hoe om die naburige vasteland beter te koloniseer,'' het Christian Kopp gesê.

    Gedurende die perskonferensie het Luipert, Kamatuka, en Katuuo namens die tradisionele owerhede benadruk dat die Namibiese en die Duitse regerings by die Volksmoord Mosie van 2006 moet hou wat stipuleer dat Ovaherero en Nama verteenwoordigers leiding moet neem in direkte samesprekinge en onderhandelinge met Duitsland, en dat die Namibiese regering slegs 'n belanghebbende party tot die samesprekinge en onderhandelinge moet wees. 

    Vyftien (15) jaar na die Volksmoord Mosie in 2006 is die verhouding tussen die Ovaherero en die Nama, aan die een kant, en die Duitse en Namibiese regerings, op die ander kant, in 'n kommerwekkende toestand. Daar is duidelik 'n gebrek aan vertroue in die voornemens van albei regerings. 

    Die Namibiese regering het die Volksmoord Mosie van 2006, wat stipuleer dat die regering slegs 'n belanghebbende party by die volksmoord onderhandelinge is, oortree deur sy eie volksmoord onderhandelingspan saam te stel sonder oorleg met die Ovaherero en Nama tradisionele owerhede. Daarna is die tradisionele owerhede opsy gestoot deur die regering en was hul versoeke om deelname en leiding in die verrigtinge geïgnoreer.  

    Op sy beurt gooi die Duitse regering wal teen direkte onderhandelinge en samesprekinge met die Ovaherero en Nama tradisionele owerhede deur aan te voer dat dit nie die soewereiniteit van Namibië wil ondermyn nie. Dis duidelik vir die Ovaherero en die Nama tradisionele owerhede dat die Duitse en Namibiese regerings kat-en-muis met hulle speel.

    Mev. Sima Luipert het ook gesê dat die Nambiese en Duitse regerings geskiedenis moet herskryf want die gruweldade wat koloniale Duitsland in Namibië gepleeg het word nie huidiglik as deel van Duitsland se geskiedenis beskou nie. 

    ''Op soortgelyke manier begin ook Namibiese geskiedenis met die vryheidsbeweging van die sestiger jare, en dit is wat ons kinders sedert onafhanklikheid leer. As die volksmoord erken word, sal Namibiese geskiedenis herskryf moet word om erkenning te gee aan die mense en gemeenskappe wat eerste 'n gewapende stryd teen kolonialisme gevoer het. Die uitsluiting van die Nama en Ovaherero is doelbewus,'' het Luipert by die perskonferensie gesê.

    Mnr. Ngondi Kamatuka het weer gesê die Namibiese regering wil ''politieke punte aanteken'' deur die gesag van die Ovaherero Tradisionele Owerheid en die Nama Tradisionele Leiersvereniging te ondermyn. Hy het bygevoeg die regering se onderhandelingspan het nie integriteit nie en beskik ook nie oor die ''intellektuele bevoegdheid'' om met Duitsland te onderhandel nie.

    ''Ons sit in die gebou waar die Konferensie van Berlyn in 1884 plaasgevind het, waar koloniale magte sonder ons medewete en toestemming besluit het om ons grond van ons te vat. Dis presies wat onlangs weer met die gesamentlike verklaring* tussen die Duitse en Namibiese regerings gebeur het. Die Nama en Ovaherero tradisionele owerhede beskou die gesamentlike verklaring as 'n voortsetting van die 1884 en 1885 konferensies.''  

    Mnr. Veraa Katuuo het gesê hy hoop die nuwe Duitse regering sal die regte ding doen deur direk met die wettige leiers van die Nama en Ovaherero-mense te onderhandel want dit is die enigste manier om 'n blywende ooreenkoms te bereik. Hy het ook bygevoeg dat die afstammelinge van die volksmoordslagoffers wat tans in ander lande soos Botswana, Suid-Afrika, en Kanada, onder andere, woon slegs die Nama en Ovaherero tradisionele leiers en owerhede as hul wettige verteenwoordigers erken.

    Ten slotte, in Oktober, 1904, het Duitsland 'n uitwissingsbevel teen die Ovaherero-mense uitgereik en dit opgevolg met 'n uitwissingsbevel teen die Nama-mense in April, 1905. Volgens geskiedkundiges en die tradisionele owerhede was 80% van die Ovaherero-mense en 60% van die Nama bevolking uitgewis. In 1907 en 1908, onderskeidelik, het Duitsland ordonnansies uitgereik dat geen Ovaherero en Nama grond in Namibië mag besit nie, en ook dat geen Ovaherero of Nama vee mag aanhou nie. Die Duitse koloniale regering het reservate gestig wat in plek gehou is deur die Britse koloniale regering na die Eerste Wêreldoorlog, en toe deur die Suid-Afrikaanse apartheidsregering tot in 1990. 

***

    Hierdie artikel is geskryf deur Anya Namaqua Uanje Links vir die Nossob Skryfgroep. Die foto is verskaf deur Christian Kopp van Berlin Postkolonial. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com. 

    Klik op die skakel om die volle video van hierdie geskiedkundige perskonferensie by nommer 92, Wilhelmstrasse in Berlyn te kyk: PK - It Can't Be About Us Without Ushttps://www.youtube.com/watch?v=UDOnuXrKhDk 

Opmerkings