Nossob Nuus: Volksmoord Groepe lê Klag teen Duitsland by die VN se Menseregteraad (UNHRC)

    Die Ovaherero Tradisionele Owerheid en die Nama Tradisionele Leiersvereniging het 'n klag teen Duitsland ingedien by die Verenigde Nasies (VN) se Menseregteraad (Eng. United Nations Human Rights Council / UNHCR) vir die skending van hul reg tot selfbeskikking en hul reg tot direkte deelname aan onderhandelinge vir skadevergoeding vir die volksmoord van 1904 tot 1908.

    Die voorsitter van die Ovaherero Tradisionele Owerheid se oorgangskomitee, Mutjinde Katjiua (uitspr. moesjinde kasjioe-â), het gesê Duitsland het die Voorkoming van Volksmoord en die Verantwoordelikheid om te Beskermwet van 1948 bekragtig en onderteken wat lidlande verplig om volksmoord te straf, en te verseker dat effektiewe strafmaatreëls daargestel word vir enigiemand wat skuldig bevind word aan kriminele gedrag.

    Die klag by die Menseregteraad beweer dat Duitsland tot op hede geen skadevergoeding vir die volksmoord sonder voorwaardes betaal het nie behalwe om befondsing aan te bied vir nasionale ontwikkelingsprojekte in Namibië. Die onderhandelinge vir laasgenoemde het sonder die betrokkenheid van die gemeenskappe wat deur die volksmoord geraak is plaasgevind. 

    ''Dit is 'n skending van die Verenigde Nasies se Verklaring oor die Regte van Inheemse Volke (UNDRIP) aangesien onderhandelinge tussen die Duitse en Namibiese regerings plaasgevind het sonder kennisgewing, en sonder die insae en toestemming van die betrokke inheemse gemeenskappe,'' lui die klagstaat.

    Mnr. Simon Kooper, die voorsitter van die Nama Tradisionele Leiersvereniging wat tien (10) inheemse owerhede verteenwoordig wat nie by die onderhandelinge betrokke is nie, het onlangs by die ǁKhowesin Tradisionele Fees gesê die Namibiese regering moet ophou daarmee om die geskiedenis van die Herero en die Nama, en die volksmoord, te behandel asof dit onbelangrik is. 

    Kooper het bygevoeg dat inheemse leiers met die volksmoord besprekinge begin het maar dat hulle vandag uitgesluit word.

    ''Hoekom word ons nie die geleentheid gegun om self te praat nie? Ons is die mense wat grond, vee, gesinne, en familie verloor het. Sal ons krete dan net gehoor word as ons deur die regering praat,'' het hy gevra.

    ''Ons het na hierdie regering geluister, ons het hul aanwysings gevolg en opdragte uitgevoer, maar nou moet hulle ook verstaan dat ons voorouers se bloed nie hul speelding is nie,'' het Kooper bygevoeg. 

    'n Voorlegging by die VN se sekretaris-generaal van die Vereniging vir Bedreigde Volke lui dat die Duitse regering weier om met die werklike afstammelinge van die volksmoord se slagoffers, naamlik Herero-en Nama verteenwoordigers, te onderhandel. Die internasionale prokureursfirma, McCallion and Associates LPP, die Europese Menseregtekommissie, en ander minderheidsregte groepe het die klagstaat saamgestel.

    ''Laasgenoemde het vele kere en op verskeie geleenthede sonder sukses die onderhandelingspartye, naamlik Duitsland en die Namibiese regering, gevra om hulle by onderhandelinge in te sluit,'' lui die klagstaat. 

    Katjiua het gesê die Ovaherero Tradisionele Owerheid, wat vyf-en-dertig (35) erkende inheemse owerhede verteenwoordig, en die Nama Tradisionele Leiersvereniging is nooit deur die president na 'n vergadering genooi nie. 

    ''Na herhaalde versoeke het die president nog net een keer met ons ontmoet waartydens ons om wysigings aan die raamwerk van die volksmoord gevra het. Die president het gesê dat hy ons binne sewe (7) dae terugvoering sou gee maar tot vandag toe het hy nie,'' het Katjiua gesê.

    Katjiua het ook gevra: ''Die Nama Volksmoord Tegniese Komitee en die Volksmoordstigting van die Ovaherero Tradisionele Owerheid was in kennis gestel dat die president vir wyle Dr. Zed Ngavirue as spesiale gesant van die volksmoord se onderhandelingspan aangestel het. Die Nama Tegniese Komitee en die Volksmoordstigting val onder die Ovaherero Tradisionele Owerheid en die Nama Tradisionele Leiersvereniging, onderskeidelik...waar is ons, die Ovaherero Tradisionele Owerheid en die Nama Tradisionele Leiersvereniging, se kommunikasie en uitnodiging?'' 

    Oor die kwessie van skadevergoeding het die Vereniging vir Bedreigde Volke verklaar dat die skuldige party skadevergoeding aan die werklike slagoffers moet betaal en mag dit slegs 'n staat (regering of land) vergoed wat reeds skadevergoeding aan slagoffers betaal het. 

    ''Volgens die Vereniging vir Bedreigde Volke is dit nie geval in Namibië nie wat beteken dat die Duitse regering se betaling van skadevergoeding aan die Namibiese regering nie voldoen aan die vereistes van skadevergoeding vir die werklike afstammelinge van slagoffers van die volksmoord nie,'' lui die verklaring.

    Op hierdie stadium lyk dit asof Duitsland wil vermy om skadevergoeding aan die afstammelinge van die Herero-en Nama volksmoord se slagoffers te betaal deur voor te stel om fondse oor 'n tydperk van dertig (30) jaar aan die Namibiese regering beskikbaar te stel vir nasionale ''ontwikkelingsprojekte''. Die Namibiese regering, op sy beurt, het nie skadevergoeding betaal aan die afstammelinge van die volksmoord se slagoffers nie. Namibiese tradisionele owerhede het Duitsland en die Namibiese regering se voorstel verwerp.

***

    Hierdie artikel is geskryf deur Ellen Albertz vir The Namibian koerant. Lees die oorspronklike artikel hier in Engels: https://www.namibian.com.na/107381/read/Genocide-affected-groups-lay-complaint-with-UNHRC?fbclid=IwAR2pUWgwPfzBdy2pxDYeHx-W9v4FCQxOU3epXz4pBYSfndJym5vpfQT9yEo 

    Die vertaling was behartig deur Anya Namaqua Uanje Links vir die Nossob Skryfgroep. Die foto is verskaf deur Reuters. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com. 

Opmerkings