Mening: Is Duitsland gereed om Verskoning te Vra vir die Herero-en Namavolksmoord? deur Sima Luipert

21 Desember, 2021

Maltahöhe, ǁkharasstreek

Namibië

    Die heropbouings-en versoeningsooreenkoms tussen Duitsland en Namibië: Is Duitsland gereed om verskoning te vra vir die Herero-en Namavolksmoord, of is dit 'n manier om hierdie hoofstuk van sy koloniale verlede te begrawe?

    Te oordeel aan die inhoud en onderliggende toon van die heropbouings-en versoeningsooreenkoms tussen die Federale Republiek van Duitsland en die Republiek van Namibië, oor die volksmoord teen die Herero en Nama etniese groepe, is dit duidelik nie 'n amptelike vraag om verskoning nie omdat daar nie skulderkenning is nie. 

    As 'n mens die inhoud lees en na die toon daarvan luister word slegs melding gemaak van die Herero-en Namavolksmoord in die teenwoordige tyd, met ander woorde, ''volksmoord vanuit 'n moderne oogpunt''.

    Dit impliseer dat die misdade wat Duitsland in die verlede gepleeg het nie volksmoord was toe dit plaasgevind het nie, en dus was Duitsland daarop geregtig om die inheemse Nama-en Ovahereromense te vermoor omdat laasgenoemde nie geregtelike bestaansreg gehad het nie. 

    Die verstommendste is dat die ooreenkoms die onvolledigheid van beide Duitse en Namibiese geskiedenis uitwys: aan albei kante word die Duitse koloniale tydperk in Namibië ontken en uitgewis.

    In Duitsland word sy gruweldade verhaal vanaf die Joodse volksmoord tydens die Tweede Wêreldoorlog. Enige misdade wat Duitsland vóór die Joodse volksmoord gepleeg het was dus nie misdade nie en het Duitsland die reg gehad om enigiemand te vermoor wat nie wit en Duits was nie. Dit beteken ook dat slegs die massamoord van blankes as krimineel beskou en erken word. 

    Deur slegs die Joodse volksmoord te erken probeer Duitsland die indruk skep dat die Joodse volksmoord eienaardig en teënstrydig was met Duitse beskawing en daarom was dit noodsaaklik om die slagoffers te vergoed.

    Die Duitse oogpunt weier, byvoorbeeld, om ten spyte van oorweldigende bewyse, die verband tussen Auschwitz se gaskamers en Shark Island te sien. 

    Daar is klink klare geskiedkundige bewyse dat pseudo-wetenskaplike eksperimentering en navorsing op mense wat nie deel van die sogenaamde ''suiwer Duitse ras'' was nie op Shark Island in destydse Groot Namakwaland begin het, so het ook die gebruik om mense kaal uit te trek vir die gaskamers en gifstorte eintlik op Shark Island en in Hereroland begin.

    Shark Island en alle konsentrasiekampe in destydse Herero-en Namakwaland was proefbuise vir groter projekte wat daarop gemik was om Duitse heerskappy en oppergesag af te dwing. 

    In Namibiese geskiedenis word vinnig gespring na die vorming van die Owambo Peoples Organisation (OPO) wat later die South West African Peoples Organisation (SWAPO), in die 1960s, geword het. 

    Hier sien 'n mens weereens verstommende ooreenkomste tussen Duitsland en Namibië se geheueverlies. Nes geen gruweldade vir Duitsland bestaan voor die Tweede Wêreldoorlog nie, bestaan geen gruweldade in Namibië voor die stigting van SWAPO nie. 

    Die verhaal wat vandag by Namibiese kinders ingeprent word laat dit lyk asof Namibië nie 'n koloniale geskiedenis had, of dat daar geen koloniale teenwoordigheid voor die stigting van SWAPO was nie, en, nog erger, ás daar 'n koloniale teenwoordigheid was, was gruweldade wat vóór 1960 gepleeg is nie so gruwelik en krimineel soos gruweldade wat ná 1960 gepleeg is nie. Dis hoekom die lewens van mense teen wie koloniale misdade ná 1960 gepleeg is vandag in Namibië gevier en vereer word terwyl diegene vóór 1960 ontken word.

    Namibiese geskiedenis versuim ook om SWAPO se Tanganjieka misdade van die 1970s en die Lubango kerkers van die 1980s te vertel en sodoende word Namibiese geskiedenis twyfelagtig in plaas van op feite gebaseer, en is dit afhanklik van wie genoegsame politieke mag het om te bepaal watter geskiedenis word oorgedra. 

    Dit is hoe die lewens van sommige betekenisvol en andere s'n onbelangrik word want dit word bepaal deur wie politieke mag in Namibië het. 

    Met onafhanklikheid in 1990, het die Namibiese regering, onderleiding van die SWAPO-party, 'n spesiale Regstellende Aksieprogram ingestel om die lewens en waardigheid van veterane van die vryheidsoorlog te herbou en herstel met die gevolg dat hierdie politieke party se oorlogsveterane die enigste helde en heldinne in die land geword het.

    Wie 'n oorlogsveteraan is word vir die nasionale regering bepaal deur die regerende party en die kwalifiserende riglyne was, en is, dat slegs SWAPO se ondersteuners oorlogsveterane is. Dit maak nie saak of daar teen-koloniale oorloë, opstande, en verset vóór die stigting van SWAPO was nie want die lewens van SWAPO se ondersteuners word meer belangrik geag as dié van mense wat voor die stigting van SWAPO geleef en gesterf het, en nie SWAPO-lidmaatskapkaarte gehad het nie.

    Wanneer 'n mens dan die Gesamentlike Verklaring tussen die Duitse en Namibiese regerings lees, sluit die ontkenning en onvolledigheid van Duitsland se koloniale misdade ook in die misdade wat SWAPO se hooggeplaastes en hul handlangers in ballingskap gepleeg het. 

    Die kolonialistiese streep in die Gesamentlike Verklaring waarmee Duitsland vir Namibië boelie om sy misdade weg te steek en geheim te hou is voor die hand liggend, en Namibië stem toe in ruil vir armsalige sentjies. Dit is klaarblyklik die aard van die verhouding tussen Duitsland en Namibië; dié van baas en dienskneg. Die dienskneg paai sy koloniale baas omdat albei geraamtes in hul kaste het waarvan ieder wil vergeet. 

    In die Gesamentlike Verklaring word melding gemaak van twee Bundestag mosies, in 1989 en 2005 onderskeidelik, waarin Duitsland sy ''spesiale verhouding'' met Namibië verklaar sonder om die aard van die verhouding te verduidelik. Hierdie ''spesiale verhouding'' dien as vertrekpunt vir Duitsland se bereidwilligheid om die Namibiese regering te help en ondersteun met infrastruktuurontwikkeling mits die Namibiese regering nie vir Duitsland hof toe sleep oor menseregte misdade nie. Die mosies is stilletjies aangeneem om vir Duitsland vry te skeld. 

    Die Namibiese regering, onderleiding van die SWAPO-party, het ook stilletjies samesprekinge probeer hou om skikkingsooreenkomste te bereik met Lubango slagoffers en oorlewendes, om hulle 'n paar voordele te gee in ruil vir hul stilswye oor SWAPO se menseregte misdade teen hulle, en andere, in ballingskap.

    Albei kante, Duitsland en Namibië, weier om die gevolge en werklikhede van hul misdade te erken en daarom moet onder-die-tafel transaksies plaasvind, die een party deeglik bewus van die ander se misdade. Finansiële beloning word gebruik om monde te snoer en geskiedenis toe te smeer. 

    Die Gesamentlike Verklaring is daarom net 'n openbare skouspel vir die skakelbeamptes van die twee lande se onderhandelingspanne want albei partye se misdade moet weg van openbare ondersoek gehou word. Enige erkenning van die volksmoord en menseregte misdade beteken die verlede moet oopgevlek word en meer as 'n eeu en dekades lange leuens wat vir die wêreld en aan ons nasies vertel is moet herskryf word. Die eienaardige ding van leuens wat oor en oor vertel word is dat hulle op die een of ander manier 'n verstrengelde waarheid word.

    Die Nama-en Ovahereromense en hul leiers se eise is duidelik en bestendig; hulle eis dat Duitsland skuld moet erken vir die volksmoord, dat Duitsland amptelik verskoning moet vra vir die volksmoord, dat Duitsland skadevergoeding moet betaal vir die skade, sterftes, en verliese wat hulle gely het, dat Duitsland gesteelde goedere aan hulle moet terugbesorg, en 'n plegtige, openbare belofte moet maak dat so iets nooit weer plaasvind nie. 

    Die Duitse regering hou egter voet by stuk dat misdade wat daardie tyd gepleeg is tegnies gesproke nie misdade was nie omdat internasionale wetgewing daardie tyd glo nie die menseregte van ''onbeskaafde barbare'' beskerm en erken het nie. 

    Intussen word SWAPO se politieke leiers gyselaar gehou omdat hul baas bewus is van hul misdade en daarom smeek hulle die afstammelinge van die Herero-en Namavolksmoord se slagoffers om stil te bly deur hulle uit onderhandelinge te sluit.

    Met die Gesamentlike Verklaring swaai Duitsland 'n wortel voor die oë van brandarm swartmense en dring dit tergelykertyd aan om die oorhand te hê as gevolg van sy finansiële mag. Ons weet teen hierdie tyd dat ontwikkelingshulp nie welwillendheid is nie maar wel 'n manier om sistemiese afhanklikheid en subtiele slawerny te skep. 

    Die indruk wat ook geskep word is dat slegs hul regering namens inheemse mense mag onderhandel omdat inheemse mense nie die verstandelike vermoë het om op hul eie te kan dink nie, wat nog van vir hulself onderhandel. Hierdie neerhalende, rassistiese onderstrominge vervat in die Gesamentlike Verklaring is lagwekkend en laat lyk dit asof die Nama-en Ovahereromense nie bevoeg is om besluite in hul eie belang te maak nie, in die 21ste eeu, nes hulle nie oor die verstandelike vermoë beskik het om besluite te kon neem in die 19de eeu nie, gedurende Duitse kolonialisme. 

    Die wortel wat geswaai word moet misdade begrawe. Die Gesamentlike Verklaring weerspieël ook beide Duitsland en Namibië se onvermoë om in die spieël te kyk en die bose geeste te sien wat terugstaar. Dis makliker om die spieël te verwyder, om die Nama-en Ovahereromense van die onderhandelingstafel te verwyder, sodat hulle nie grusame feite en waarheid moet weerkaats nie. Albei lande het die onderhandelingsproses op so 'n manier opgestel en ontwerp om geskiedenis te onderdruk. 

    Die hele onderhandelingsproses is net 'n openbare skouspel wat daarop gemik is om die indruk te skep dat iets gedoen word terwyl dit eintlik reeds in 1989 ooreengekom is dat niks gedoen sal word nie. 

    'n Mens kan ook aggressie in die Gesamentlike Verklaring bespeur wat weer gemeenskaps-en generasiestrauma oor die volksmoord opnuut by Nama-en Ovahereromense aanwakker.

    Die Gesamentlike Verklaring tussen Duitsland en Namibië oor die volksmoord is nie net 'n verspeelde geleentheid nie, dit het teruggeslaan en die koloniale verhouding tussen dié twee lande openbaar.  

    Dit is duidelik die Duitse regering is nie gereed om verskoning vir die Herero-en Namavolksmoord te vra nie en dit is ewe duidelik die Namibiese regering is nie bereid om vir Duitsland verantwoordelik te hou nie.    

***

    Hierdie artikel is oorspronklik in die Ingels geskryf deur Mev. Sima Luipert (Goeieman) en het Vrydag, 24 Desember, 2021, in die Namibian Sun koerant verskyn. Die foto hierby is verkry van Sima Luipert se Facebook-blad. Die vertaling in Afrikaans is behartig deur Mû ǁAres vir die Nossob Skryfgroep. Raak deel van ons gemeenskap by nossobgroep@gmail.com

Opmerkings