Klassieke Khoekhoense Verhale: Die Mense wat Riete Gaan Haal Het

    Khoeb het vrou gevat. 

    Op 'n dag het hy en sy vrou en sy broer op die gomab (Afr. bul) se rug geklim en uitgery om riete bymekaar te maak vir nuwe slaapmatte (beddens). 

    Toe hulle by ǁgam'i (Afr. water) kom het hulle die gomab afgesaal en die twee mans het verder geloop om riete te gaan sny. 

    Die vrou het na ǁgam'i gegaan om haar te was en terwyl sy haar was, klim 'n padda-vrou uit ǁgam'i, en trek die vrou se rokhoes (Afr. rok / romp) aan.

    ''Padda, trek uit my rokhoes!''

    Maar die padda sê: ''Toemaar, Ausi, ek pas net jou rokhoes aan.''

    Toe die vrou haar klaar gewas het, sê sy: ''Gee terug my rokhoes, padda!''

    Maar die padda hardloop weg en gaan na die plek waar die gomab staan en gras eet. Die vrou was tao (Afr. skaam) sonder haar rokhoes en het in die bosse weggekruip, en toe sien sy haar man vat die padda-vrou want hy dink dit is sy vrou.

    Elke keer wanneer die man en sy mense uitgaan om riete te gaan sny, kom sy regte vrou uit die Veld en vee die hut uit, maak die potte skoon, maal die Sâb (Afr. boegoe / buxu) fyn, maak botter in die kalbas, en gee vir haar blinde, ou skoonma vars melk om te drink. Dan gaan kruip sy weer in die Veld weg. 

    Op 'n dag praat die blinde ou vrou met haar seun: ''Axab, rol jou op in hierdie rietmat en wag. Kyk tog vir my watter persoon kom altyd hier.''

    Terwyl hy so opgerol in die rietmat lê, kom sy regte vrou uit die Veld. Sy gaan sit, tel die kalbas op, en terwyl sy botter maak, spoeg hy in haar rigting. Die vrou skrik en hardloop weg, maar die man sit haar agterna en vang haar. 

    Toe sê sy vir hom: ''!gû! (Afr. Loop!) Gaan terug na jou padda-vrou, jy, wat 'n padda-vrou het en vir my gelos het!'' 

    Toe sy weer weghardloop, vang hy haar weer en lei haar terug na die hut.

    Intussen kom die padda-vrou en sy broer by die hut aan op die gomab se rug. Die padda-vrou beveel die man: 

    ''Haal my af!'' sê sy. 

    Maar niemand antwoord haar, of reageer nie. Toe vat die man die goman (Afr. beeste) se sweep en looi haar daarmee. 

    Die padda-vrou het van die gomab se rug afgespring en gegil: 

    ''Hou op, hou op! Ek is 'n padda! Ek bly in ǁgam'i!'' 

    En, sy hardloop weg na ǁgam'i, spring in, en verdwyn. 

    Die man het sy vrou weer gevind en weer met haar getrou.

***

    Hierdie ou Khoekhoense verhaal handel oor ontrouheid in tradisionele Khoekhoense verhoudings (losweg ook ''huwelike''). In teënstelling met ander Afrika-stamme van dieselfde tydperk, ongeveer 500 tot 600 jaar gelede, was die Khoekhoe-stamme hoofsaaklik hetero-monogamies; met ander woorde, twee (2) mense van die teenoorgestelde geslag wat deur middel van 'n sosiale ooreenkoms in 'n langtermyn verhouding met mekaar verbind is.

    Dit is inderdaad 'n voor-koloniale verhaal en word as antiek (of klassiek) beskou oor die motiewe daarin vervat soos die padda-vrou wat haar voordoen as die man se regte vrou en hom dan verlei, die bymekaarmaak en sny van riete (vir slaapmatte), die water, en die bul wat gery word, vóór die aankoms van perde tydens Europese kolonialisme in suider Afrika. 

    Met verwysing na die belangrikste motief, het die ou stamme geglo paddas bring ongeluk, en is hulle die verwesenliking van afstootlike gedrag. Hulle was derhalwe simbole van kwaadwilligheid binne die raamwerk van Khoekhoense morele waardes. 

    Dit is ook 'n seksistiese (Eng. sexist) verhaal omdat ''padda-vrou'' 'n belediging is wat veelseggend verwys na die wydgesplete voorkoms van 'n padda se agterbene. Namate Khoekhoense kultuur en samelewing as gevolg van Europese kolonialisme verbrokkel het, en die meeste stamme oorgeskakel het na uitheemse gelowe, so het ook die padda en sy betekenis gelydelik uit inheemse verhale verdwyn.

    Dit is 'n groot eer vir die Nossob Skryfgroep om hierdie eg, inheemse weergawe van Die Mense wat Riete Gaan Haal Het hier bekend te stel. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.

Opmerkings