Kommentaar: Duitse Skadevergoeding aan Namibië sit druk op ander Voormalige Koloniale Moonthede

    Koloniale misdade is nou 'n warm onderwerp nadat hulle vir 'n lang tyd geïgnoreer was. Duitsland is op hierdie stadium die voorloper om sy skuld te erken alhoewel dit hoofsaaklik onafgehandelde besigheid bly, volgens die bekende NAI (Nordiska Afrikainstitutet / The Nordic Africa Institute) navorser, Henning Melber. 

    'n Nuwe boek, Kritik des deutschen Kolonialismus (Afr. 'n Beoordeling van Duitse Kolonialisme), handel oor Duitsland se koloniale geskiedenis en mede-redakteur, Henning Melber, is trots daarop dat skrywers van Afrika oor hul lande se koloniale ervaring geskryf het.

    ''Hierin spreek stemme uit Afrika die onregverdighede van die verlede aan deur hul ervaringe en oogpunte met 'n Duitse gehoor te deel,'' sê hy. 

    Na vyf (5) jaar se onderhandelinge het Duitsland uiteindelik ingestem om die slagting van die Ovaherero en Nama etniese groepe in Namibië as volksmoord te erken. Die Duitse regering het boonop skadevergoeding ter waarde van 1.1 miljard Euro oor 'n tydperk van dertig (30) jaar aangebied vir ontwikkelingsprojekte. 

    Volgens Melber is dit 'n merkwaardige erkenning maar dis 'n geval van ''te min, te laat''. 

    ''Dit veroorsaak sweerlik verontrusting by ander voormalige koloniale moonthede wat rede het om hulself voor te berei vir hewige debatte oor hul koloniale gruweldade. Kolonialisme het immers bygedra tot wêreldwye ongelykheid. Ons bevoorregte leefstyl in die globale noorde spruit uit die uitbuiting en uitwissing van andere,'' sê Melber. 

    Volgens hom het geen ander voormalige koloniale moontheid veel meer gedoen behalwe om vaagweg na hul koloniale geskiedenis te verwys en te praat oor gesteelde kulturele goedere en kunswerke wat terugbesorg moet word. Amptelike erkenning van en vergoeding vir die gruwels van hul koloniale tydperke is nie ter sprake nie. 

    ''Dit is moeilik om skuld te erken. Dit is emosioneel en sielkundig uitdagend om te erken ons voordele en voorregte is afkomstig van ander mense se lyding. Dit veroorsaak ook gevoelens van hulpeloosheid omdat ons nie die verlede kan verander nie.''

    Duitsland was al van tevore deur 'n soortgelyke proses maar ten spyte daarvan bly dit terselfdetyd 'n sensitiewe onderwerp om oor 'n Duitse volksmoord in Afrika te praat, merk Melber op, want dit betwis die eienaardigheid van die Joodse volksmoord. 

    ''Ons wil hê Duitse mense moet weet en verstaan dat Duitse geweld nie met die Joodse volksmoord begin het nie.'' 

    Noudat Duitsland ten volle verantwoordelikheid vir die Joodse volksmoord aanvaar het, beweeg die land nou ook in die rigting van sy koloniale gruweldade en om die leier op hierdie gebied te wees is slim. 

    ''Om skuld vir koloniale misdade te erken is 'n goeie strategie om gemeenskapskapitaal en steun in te win. Dit is soortgelyk aan die Nordiese lande se openbare ondersteuning vir die vryheidstryd in suider Afrika,'' merk Melber op. 

    Daar is egter nog baie wat die Duitse regering en volk moet doen. Die belangrikste vraag is seker in watter mate hul bewustheid van Duitse koloniale misdade die alledaagse kultuur van Duitse samelewing sal verander. 

    ''Versoening gaan eintlik oor mense. Regerings kan slegs hierdie proses vergemaklik en dit is iets wat hulle beslis moet doen,'' sê Melber ten slotte. 

***

    Hierdie artikel is geskryf deur Johan Sävström vir Nordiska Afrikainstitutet (The Nordic Africa Institute). Lees die oorspronklike artikel hier in die Ingels: https://nai.uu.se/news-and-events/news/2021-12-01-german-compensation-to-namibia-puts-pressure-on-other-former-colonial-rulers.html. Die foto hierby is geneem deur Raymond June. Die vertaling was behartig deur Anya Namaqua Uanje Links vir die Nossob Skryfgroep. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com. 

Opmerkings