deur Mûs ||Arebē
Dink hieroor want nes daar nie leemtes in die natuur bestaan nie bestaan hulle ook nie in menslike geskiedenis nie. Leemtes in geskiedenis insinueer dat plekke, mense, gebeure en monumente sonder agtergrond óf verhaal bestaan wat onmoontlik is want alles en almal het 'n agtergrond, 'n herkoms, 'n oorsprong, waarvandaan hulle kom.
'n Goeie voorbeeld van 'n geïnsinueerde leemte is Haai-eiland (Eng. Shark Island), 'n klein skiereiland aangrensende die kusdorp, Lüderitz, in die ||Kharasstreek van Namibië.
Haai-eiland is ongeveer veertig (40) hektaar en was 'n eiland voor dit deur middel van 'n verbinding gebou in 1906 'n skiereiland geword het. 'n Britse skeepskaptein, by name Alexander, het dit Star Island in 1795 gedoop.
Haai-eiland was die terrein van 'n doodskamp vir inheemse mense tydens Duitse kolonialisme in Namibië, vanaf 1880 to 1919. Dit word as die eerste van sy soort in die twintigste eeu beskou: 'n grootskaalse doodskamp wat die doodskampe van Nazi-Duitsland vooruitgegaan het.
Gedurende Duitse kolonialisme in Namibië is krygsgevangenes tussen 1905 en 1907 daarheen gestuur met sinistêre voorneme: uitwissing. Fotos van daardie tyd wys egter dat die sogenaamde ''krygsgevangenes'' hoofsaaklik inheemse vroue en kinders was.
Hoekom dan Haai-eiland? Volgens geskiedkundiges het die Duitse koloniale regering vir Haai-eiland as die ideale ''laaste oplossing'' beskou om ontslae te raak van inheemse mense. Dit is afgeleë en toegang tot die eiland is streng beheer. Inheemse mense is op die eiland aangehou tot hulle gesterf het, onder omstandighede wat hul heengaan sou bespoedig.
Nes daar nie leemtes in die natuur bestaan nie is daar ook geen in Namibië se koloniale geskiedenis nie.
Ná die Ovaherero-en Nama opstande van 1904 en 1905, gevolg deur die Duitse generaal Lothar von Trotha se uitsetting-en uitwissingsbevel teenoor die Herero in 1904, en die Nama in 1905, is die uitwissing van die inheemse bevolking doelbewus deur die Duitse koloniale regering onderneem om sodoende grond beskikbaar te stel vir besetting deur, en die vestiging van, Duitse setlaars. Veral ná die opstande, was hul doel met Haai-eiland om vir eens en altyd ontslae te raak van die bedreiging wat inheemse mense ingehou het.
Almal wat op Haai-eiland gesterf het is belangrik en een van daardie slagoffers is Hoofman Cornelius Fredericks van die !Aman. Hoofman Fredericks is saam met 1,800 ander mense op Haai-eiland aangehou vanaf 1906 tot sy dood in 1907. Nes die meeste mense daar, is hy oorlede as gevolg van erge mishandeling.
Dit was die Duitse polisie en weermag se gebruik om die dooies van Haai-eiland se liggame in die sand op die strand met laagwater te begrawe sodat die liggame teen hooggety in die see moet verdwyn. Cornelius Fredericks is op die 16de Februarie, 1907, te Haai-eiland oorlede. Syne is een van die skedels wat Duitsland toe gestuur is vir ''antropologiese navorsing'' en volgens sy oorlewende familielede is sy skedel nog nie aan hulle terugbesorg nie.
Haai-eiland se ander naam is ''Doodseiland'' en was een van vyf (5) konsentrasiekampe vir inheemse mense in koloniale Namibië. Sy doel was egter anders, soos vroeër genoem, omdat niemand die eiland lewendig moes verlaat nie. Vanaf sy amptelike opening in 1905 tot met sy sluiting in April, 1907, het 3,000 inheemse mense na raming daar gesterf. Die werklike getal is vermoedelik hoër omdat die Duitse weermag blykbaar nie alle sterftes aangeteken het nie.
Die Duitse koloniale regering het aanvanklik 'n beleid gevolg om ''Hottentot'' (Nama, insluitende Saan) gevangenes na konsentrasiekampe in sentraal Namibië te stuur en ''Herero'' (insluitende Damara) gevangenes na konsentrasiekampe in Swakopmund en Lüderitz. Teen die middel van 1906 het Windhoek se Duitse inwoners egter oor die hoeveelheid gevangenes op die dorp gekla waarna gevangenes in veekarre na Haai-eiland gestuur is.
Die omstandighede op Haai-eiland was so swak dat 59 mans, 59 vroue, en 73 kinders binne twee (2) maande gesterf het. Kinders... Ten spyte daarvan het die Duitse koloniale regering aangehou mense daarheen stuur onder die voorwendsel dat daar nie voedsel vir hulle in die binneland is nie.
Die gevangenes is in Lüderitz as dwangarbeid gebruik om, onder andere, 'n treinspoor tussen dié kusdorp en Aus aan te lê. 'n Posruiter het die volgende geskryf:
''Die vroue wat gevange geneem en nie tereggestel is nie werk as gevangenes vir die weermag... het talle gesien by Angra Pequeña (d.w.s. Lüderitz) wat die hardste gewerk is en so uitgehonger dat hulle niks behalwe as vel en been is nie... Hulle kry amper niks om te eet nie, en ek het dikwels gesien hulle tel weggooi kos op. As hulle gevang word dit doen word hulle gesjambok.''
August Kuhlmann, 'n Duitse burger wat Haai-eiland in September, 1905, besoek het is geskok om die mishandeling van die gevangenes te aanskou:
'''n Vrou wat so verswak deur siekte is dat sy nie kon loop nie het na die ander gevangenis gekruip om water te bedel. Die opsigter het vyf skote op haar afgevuur. Twee skote het haar getref: een in die bobeen en een in die voorarm. Sy is dieselfde aand nog oorlede.''
Baie gevalle van verkragting van die eiland se gevangenes is by die kamp aangemeld en wanneer hulle voedsel ontvang het was dit 'n handvol ongekookte rys.
Met sy sluiting in 1907 was daar 245 mense op Haai-eiland. Die oorlewendes is na 'n ander konsentrasiekamp naby Radfordbaai oorgeplaas waar die sterftesyfer steeds hoog was.
Die geskiedenis van Haai-eiland, en ander konsentrasiekampe, is ondenkbaar grusaam. Dit is verbysterend om daaraan te dink, om kennis te dra dat inheemse mense so wreed behandel was.
Die sluiting van Haai-eiland was egter nie die einde van hul uitwissing nie...
Historiese of geskiedkundige uitwissing is gedefinieer as die uitsluiting van 'n minderheidsgroep, groeplid, of groepe, van die optekening en herdenking van amptelike geskiedkundige gebeure. Dit sluit aan by gesprekke rondom kulturele herstelling, versoeke om geregtigheid, die agtergrond en teenwoordigheid van minderheidsgroepe in bevolkings, hul ervaringe en herinneringe, en hul perspektiewe van geskiedenis.
In September, 2021, het die staatsonderneming Namibia Wildlife Resorts (NWR) se besturende direkteur trots aangekondig dat Haai-eiland se ''opknapping'' byna voltooid is. Hy het gesê die opknappingsprojek se totale onkoste beloop N$ 3, 1 miljoen om sulke ''geskiedkundige plek'', wat terugdateer na vóór Namibië se onafhanklikheid in 1990, sorgvuldig te restoureer. Hy is veral trots daarop dat vier (4) plaaslike maatskappye by die projek betrokke is.
Op die tweede November, 2021, verskyn 'n advertensie op NWR se Facebook-blad met die opskrif: Welcome back to Shark Island!
In die daaropvolgende weke het openbare verontwaardiging op sosiale media gegroei. Mense het gevoel die NWR se hantering van die eiland is ''onsensitief'', en genoem dit is ''pynlik'' om te verneem dat Haai-eiland 'n kampeerplek is. Die NWR se bestuur het tot op hede geen bevredigende antwoorde verskaf nie behalwe om in 'n persverklaring te sê dat die ''opknappings'' nie die begrafplaas op die eiland raak nie.
Dit is egter verstommend, vir almal, veral vir die betrokke inheemse gemeenskappe, dat Haai-eiland, die berugte doodskamp van koloniale Namibië, tans dien as 'n selfsorg kampeerplek vir toeriste en word as sulks deur die NWR bemark. Dis verstommend dat die eiland nie deur die Namibia Heritage Council as 'n nasionale monument of museum gebruik word om onbegryplike pynlike gebeurtenisse in hierdie land se geskiedenis te herdenk nie. Dis verstommend dat besoekers en toeriste nie bewus gemaak word van die belangrikheid van Haai-eiland in wêreld geskiedenis, in die ontplooiing van die Joodse volksmoord, in die ontstaan en ontwikkeling van Nazisme in Duitsland nie.
Alhoewel die besturende direkteur van die NWR vaagweg na Haai-eiland se ''geskiedkundige waarde'' verwys het, is min daarvan op die eiland te sien en is geen inligting oor die eiland se agtergrond of geskiedenis op die NWR se webwerf beskikbaar nie. Die toilette en stortgeriewe is egter opgeknap, die veldkombuis is oorgedoen, die vuurtoring is byna volkome herstel, toeriste word 'n ''uitstekende uitsig'' oor die baai belowe, waar hulle pelikane en robbe kan sien...
Alle bewyse van inheemse mense se lyding op Haai-eiland is uitgevee, nes hul liggame op die strand begrawe is om weg te spoel met hooggety. Boonop kom dit voor asof die opknapping en bemarking van die kampeerplek insinueer dat Haai-eiland 'n leemte is, sonder sy afgryslike geskiedenis.
Op hierdie stadium is dit nog onduidelik waarom die Namibiese regering, deur middel van sy staatsonderneming, die NWR, die publiek se kwellinge aangaande Haai-eiland ignoreer en nie die eiland in ere herstel om sodoende belangrike geskiedkundige gebeure in perspektief te plaas nie. Die NWR se stilte oor die aangeleentheid, tesame met die regering se houding, dui egter daarop dat die uitwissing van inheemse mense voortgesit word.
***
Bronne
- Shark Island Concentration Camp: https://en.wikipedia.org/wiki/Shark_Island_concentration_camp
- Shark Island, Namibia: https://en.wikipedia.org/wiki/Shark_Island,_Namibia
- Shark Island: Uproar over Concentration Camp Campsite. 2021. Finck, Otis Daniels, Erongo News: https://www.erongo.com.na/news/shark-island-uproar-over-concentration-camp-campsite2021-11-04
- Namibia Wildlife Resorts (NWR): Shark Island: https://www.nwr.com.na/resorts/shark-island/
- Shark Island Campsite to Reopen Soon, New Era newspaper: https://neweralive.na/posts/shark-island-campsite-set-to-reopen-soon
- Foto 1: Shark Island Self-catering Camping in Lüderitz, Info-Namibia
- Foto 2: ''Hottentot'' krygsgevangenes te Haai-eiland
- Foto 3: Onbekende onthoofde ''Hottentot'' vrou van die Haai-eiland konsentrasiekamp
Opmerkings
Plaas 'n opmerking