Klassieke Khoekhoense Verhale: Die Leeus se Lokval

Twee leeus was moeg nadat hulle baie ver moes loop op soek na 'n vangs. 
    Hulle ruik en sien toe 'n jakkals kom van vooraf aan en besluit saam jakkalsvleis is beter as niks.

Omdat hulle te moeg is om te jag, het hulle op die grond gaan lê en gemaak asof hulle dood is. 
    Die jakkals het nikswetend nader gekom. 
    Toe hy die twee lêende leeus sien, briek hy in sy spore en bekyk hulle aandagtig. 
    Hy breek 'n stukkie gras af, loop versigtig nader, en raak aan een van die leeus se holletjie met die grashalmpie. 
    Toe sien die jakkals die leeu se holletjie knyp toe! Hy besef opeens dis 'n lokval en dat die leeus net maak asof hulle dood is; hulle wil hom vang en opeet. 
    “Kai aiôs, Tsû||goab, vir hierdie heerlike leeue!'' sê die jakkals hardop. 
    Die twee leeus lê roerloos. 
    Die jakkals maak toe 'n vuurtjie met gras. 
    Wag, laat ek eers vuurhout gaan soek om hierdie leeue te eet,” sê hy en loop 'n entjie weg. 
    Terwyl hy kamma vuurhout soek, loop hy al verder en verder weg van die twee leeus. 
    Toe hy ver genoeg weg is, hardloop hy teen 'n koppie uit en skree: 
    Ek het aan julle se gatte gesien dat julle my wil vrek maak!” 
    Dit is presies wat daai jakkals geskree het. 
    Die leeus was egter te moeg om hom agterna te sit. Hulle het met moeite weer opgestaan en verder geloop om 'n vangs iewers anders te gaan soek.

***

Die jakkals is 'n ingewikkelde karakter in Khoekhoense kultuur en mitologie. Dis egter 'n baie ou karakter. Ou verhale soos hierdie met uitsluitlik pratende diere as hoofkarakters is gewoonlik metafories en wanneer die jakkals die hoofrol speel, het dit te doen met strategie, intelligensie, hoe om uitdagings en struikelblokke te oorkom, en gedugte vyande soos twee leeus, nie net een nie, uit te oorlê. In hierdie geval verteenwoordig die leeus 'n onmoontlike situasie en hul gedrag is eg eie aan lokval roofdiere. 
    Daar is nie 'n enkele, eenvoudige verduideliking vir die jakkals se rol in Khoekhoense verhale nie behalwe dat sy handelinge, sêgoed, en stories sterk herinner aan 'n veel ouer inheemse godheid wat op soortgelyke manier almal uitoorlê het, wat bekend was vir sy slimheid, ondeundheid, truuks, en vandag algemeen verteenwoordig word deur die bidsprinkaan (“hottentotsgod”). 
    Dié pragtige foto van twee swartrug jakkalse (black backs in die Ingels) is in 2022 deur Gerbus Vermaak in die Kgalagadi Frontier Park geneem.

Opmerkings