'n Gedig deur Diana Ferrus

Wat is dit

hierdie diep hartseer wat in my maag kom sit

Dit, terwyl my wange gloei

Die bloed in my vingers om en om vloei

Wat is hierdie diep hartseer wat my kop skuins draai

Dit, terwyl my voete spring 

Want die riel-ritme is in hulle gelaai?

Wie het my hierdie onwaarhede geleer, 

Wie het my vorentoe-beur gekeer

Wie het my die water geskink maar my nie laat drink, 

wie is dit wat nie ophou wink


Los my alleen, hoor jy my

Ek's moeg van teen myself stry

Ek pas nie in die vierkant waarin jy wil hê ek moet dans

daar is te veel wat ek dan moet verskans

Ek is nie een nie, ek is twee, drie en vier

Ek kan tien wees, feit is ek is hier

Ek is gister, vandag en wie weet miskien

Sal ek nog 'n honderd môres sien

So ek gaan jou nou aan bande lê

Ek wil nie meer wonder oor wat ander sal sê

Ek wil hartseer wees terwyl geluk by my keel uitborrel

Ek wil blink in 'n swart nag en na die hemel korrel

Ek wil met die hele mensdom dans

Ek wil opbreek en dan vra vir nog 'n kans

Ek wil vasbyt, opgee, spyt wees of nie

Ek kan nie een wees nie ek is meer as drie

Ek verlei, ek bemin, ek bring vrees

Ek ken die plante, die blare waarmee ek genees

Ek is 'n reus, ek is piepklein

Ek kan verdwyn en sonder rede weer verskyn


So, kom kyk hoe ek die reëls op 'n brandstapel plaas

Ek gaan myself nie meer na die vierkant haas!


© Diana Ferrus, 2015

Diana Ferrus is 'n inheemse digter, skrywer, en storieverteller met Khoe-Saan en slawe-herkoms. Haar werk word in Afrikaans en die Ingels gedruk. Ferrus is tans afgetree van die Universiteit van Wes-Kaap (UWK) en verskaf opleiding aan inheemse skrywers. Sy is die stigter van Diana Ferrus Publishers, Bush Poets, en Women in Xchains. Ferrus het internasionale bekendheid verwerf vir haar gedig, I've come to take you home! (1998), opgedra aan Sara (Saartjie) Baartman. Danksy haar gedig is Baartman se oorskot terugbesorg aan die Suid-Afrikaanse regering en is die gedig nou deel van Franse wetgewing. 

    Hierdie gedig is die eiendom in die geheel van die digter. Dit mag nie gestoor, vertoon, gepubliseer, kopieer word, of vir enige ander doel gebruik word sonder vooraf en skriftelike toestemming van die digter nie. 

    Kyk en lees hier verder oor Diana Ferrus: 

  1.  From Broken Bones to Healing Hearts: My Journey with Sarah Baartmanhttps://www.youtube.com/watch?v=_RLnxgkV29k
  2. ''I've come to take you home!'' A tribute to Sarah Baartman by Diana Ferrus: https://kentakepage.com/ive-come-to-take-you-home-a-tribute-to-sarah-baartman-by-diana-ferrus/ 

Opmerkings