Die Jagseisoen deur Mûs ||Arebē

    Die onlangse aankondiging deur die Minister van Omgewing en Toerisme dat die jagseisoen vir 2022 op die eerste Mei begin, bring herinneringe op, krap ou wonde oop wat lank toegedraai is in stilte, van sinne wat doodloop oor onse mense, stom van die pyn. 

    Daar is 'n oop vlakte in 'n mens se binneste oor mense wat eens hier was, wat nou net herinneringe is. Hulle rus in die grond, onder die dik, rooi sand van die Kai Kxalaxadi, deel daarvan, en klaar met aardse dinge, hierdie lewe.

    Uit diep slote in my geheue flits 'n namiddag op 'n plaas. Dit was amper winter. Lang skaduwees wat plat op die grond lê, 'n kort, maer man se gekreukelde vel wat goud in die son skyn, sy wolletjies hare waardeur sweet strompies langs sy slape afloop, dié woorde in sy skor stem: 

    ''Hulle het ons gejag, î,'' en hy vee met 'n hand oor sy oë.

    ''Ha?'' het iemand anders in ongeloof gesê, wie weet ek tot vandag toe nie. 

    Die grinnik wat daarop volg was bitter en sinies, net 'n geluid uit sy mond, dis al wat ek onthou. En, sy woorde wat, sonder dat ek daarvan bewus was, in die groewe van my geheue gaan lê het, en gaan lê het asof hulle my eie is.

    Ek kon nie wegkyk van hoe vinnig die twee mans die bok slag nie, langs hulle twee plaashonde wat beurtelings bloed van die grond oplek, en onder my kaal voete dik sand, rooi en warm. 

    Gejag? 

    Ek en my broertjie het saam met my oupa en ouma vir 'n ruk lank plaas toe getrek. Ons was invat-kinders totdat ons ouers 'n huis kon bekostig waarin ons almal saam kan woon. Ek besef nou eers my grootouers het daai tyd baie swaar gekry. 

    Deur goue lampolie onder 'n dobberende vlam agter 'n lamp se glas skoorsteen sien ek hoe die blommetjies op die laslappe van my ouma se romp verdof en hoor haar stem:  

    ''Ou man, daar's amper niks meer om te eet nie. Wat moet ek die tjinners gee?'' 

    Die volgende naweek is my ouma dorp toe om kerk by te woon en was ons alleen met my oupa. Vroeg die Saterdagoggend, in die vroeë oggendure, maak hy ons wakker, trek ons warm aan, laai ons agter op sy ou Jeep en ry die veld in. 

    Ons het soms met my oupa en ouma in die reënseisoen langs die vlei gaan sit. Dis mooi wanneer dit vol is; 'n holte vol blink water waarin glibberige paddas borrels blaas en waterhondjies ruk-ruk loop. Ons was nie toegelaat om daar te swem of in die water te speel nie want die wild moet drink. 

    Selfs in die donkerte kon ek sien ons was oppad vlei toe. Hierdie keer gaan staan my oupa aan die ander kant, tussen die bome, bosse, lang geel gras. Ons het om ons rondgekyk. Hy skakel die enjin af, die ligte, en fluister ons moet doodstil bly.

    Agter sy sitplek haal hy sy jaggeweer uit, laai dit met 'n koeël uit sy hempsak, trek die laaier versigtig, en laat lê die geweer oor een arm. In die ander hand was 'n verkyker. Dit was doodstil en koud.

    Baie lank daarna, ons het al geslaap, knal 'n harde skoot in die donkerte. My ore het gelui. My broertjie het grootoog, oopmond gesit. 

    In die donker het iets gestrompel, takke gebreek, en met 'n dowwe, swaar geluid op die grond neergeval. Dis 'n weersinwekkende geluid, dié van 'n liggaam wat op sand neerval. 

    My oupa het ons voor laat sit en lank gesukkel om die koedoe agter op te laai. Dis 'n ou bul het hy die volgende oggend vir my ouma gesê toe sy terugkom van die dorp. 

    Terwyl ons op die vloer met klippe wat ons naby die bok kraal opgetel het speel, werk hulle saam die vleis op die kombuistafel, oupa fluit 'n gesang, ouma neurie saam, die een sê vir die ander: 

    ''Kom ons gee die boud vir Loes en die blad vir - '' tot middag tyd, totdat die hele familie koedoevleis gekry het.

    Later was dit net ek en my ouma op die plaas. My oupa was in die begrafplaas op die dorp. My broer het ons ouerhuis verkies. Iemand moes ouma bystaan, help hier en daar.

    Die twee mans wat my oupa gehelp het was lankal nie meer daar nie, net Poultjie en sy vrou wat lief is vir hoenders het oorgebly. Die trekker het verwaarloos in die hoek van die jaart gestaan noudat niemand dit ry nie. Die Jeep is verkoop.   

    Die perde het wild rondgehardloop. Nou en dan storm hulle donderend van die pos in die berge en hardloop heen en weer voor die plaashuis in 'n rooi stof wolk, rondom die grys ou akasia naby die bok kraal, maanhare en sterte in die lug, neusgate wyd, oë wild, drom hulle saam om die watertrog by die sement dam en verdwyn dan weer, wie weet waarheen. Elke keer is daar meer van hulle: vulletjies. Poultjie sê niks.

    Dis skoolvakansie en ek is moeg vir lees. Op die stoep sit en staar my ouma uit oor die rooi sand wat tussen die bosse op die randjie verdwyn met 'n koppie tee op haar knie. Die namiddag son is so helder, die lug ongelooflik blou, lang skaduwees lê plat op die grond...  

    ''Ouma, wie jag mense?''

    Sy knip haar oë en frons. ''Waar hoor jy sulke goed?'' Daar is iets in haar stem en 'n trek om haar mond wat ek nie ken nie. 

    Ek skop met 'n voet teen die stoep se paal, spyt ek het gevra oor die uitdrukking op haar gesig. ''Hier, op die plaas? Ek was klein.'' 

    Sy weet wie sulke goed sou sê want sy hou geheime en ek voel dit aan. Jy weet net, soms, hier binne, dat stilte soos 'n pot se deksel op sekere goed sit. Jy weet, hier binne, sonder om gesê te word, dat iets weggesteek word omdat sommige vrae se antwoorde nie reg klink nie en in 'n stemtoon gelewer word wat aandui dat jy skoor soek en moet ophou. 

    My ouma, diep uit die suide van die land, druk haar voete in haar plakkies, staan moeisaam op. 

    ''Dit gebeur nie hier nie,'' sê sy en stap kombuis toe met haar koppie. Ek verstaan nie wat sy bedoel nie en los maar want ek hoor die perde.

    Baie jare later, oppad terug van Sam !khubis gaan staan my kar sonder petrol op Klein Aub se grondpad met twee kinders op die agtersitplek wat kla hulle is moeg. 

    Om ons is die wye wit grondpad, vorentoe en agtertoe, koppies, klippe, bosse, droë gras, 'n tasbare stilte toe die enjin doodgaan, en die groot, oop blou hemel bo waarin 'n valk rondsweef. 

    My ouma was langs my oupa in die begrafplaas op die dorp. Die plaas is verkoop. Die nuwe eienaar het dae lank gesukkel om al die perde bymekaar te maak en kon nie leisels of 'n saal op één kry nie.  

    Poultjie en sy vrou bly nou in 'n sinkhuis op die rand van die dorp met die hoenders, my ouma se bed, haar ou draadloos. Dit gaan goed, vertel hy my toe ek gaan kuier, hulle verkoop eiers en hoenders en het altyd geld.

    ''Onthou Poultjie nog die man wat vir oupa gehelp het?'' vra ek met die laaste kuier. 

    Hy knik. ''Watter een, die boesman? Hy is mos hoeka weg, net nadat meneer aarde toe is.''

    Ek knik. ''Hy het eenkeer gesê hulle is gejag. Weet Poultjie wat hy bedoel het?''

    Hy knik weer maar kyk my nie meer in die oë nie. ''Die boere, dourie kant,'' sê hy en wys met 'n arm by die deur uit en ek weet instinktief watter kant hy bedoel, ''het die mense soos diere gejag.'' 

    My ingewande knoop, ek vra na 'n rukkie: ''Weet Poultjie hoekom?''

    ''Ek weet nie,'' sê hy kortaf, die afwaartse houding van sy kop wys hy wil nie daaroor praat nie want hulle hou geheime; net soos Poultjie niks gesê het oor die perde wat wild op die plaas word nie. 

    Ek en die kinders staan langs die kar en wag vir iemand om verby te kom. Tien minute later, net toe hulle nuuskierig in die veld begin rondloop, ry 'n wit bakkie met 'n groot stof stert uit Klein Aub se rigting. 

    Ek waai 'n arm en hoop hy, sy, hulle, wie ookal, sal stop. Hulle maak so. Man en vrou. Mens hoop dis goeie mense. Ek voel weerloos alleen met die kinders. Die stof hang oor ons en dryf stadig soos 'n wolk poeier oor die veld. Die kinders waai stof weg voor hul gesigte, lek hul lippe af. 

    Die man klim uit, groet, vra wat fout is. Ek groet die vrou eerste met 'n glimlag volgens kultuur en maniere, dan die man, en verduidelik dis petrol, meneer. 

    Sy gekreukelde gesig wat goud skyn in die son met afwaartse kreukels langs sy donker oë herinner my aan iemand, iets, lank gelede, wat ek gehoor het, honde wat bloed oplek en 'n verstomde ''Ha?''

    Uiteindelik terug by die huis, die kinders gevoer en gewas, op die Internet op my selfoon rol ek verby 'n foto van 'n blanke man met 'n geweer in sy hand langs 'n dooie koedoe, dis jagseisoen in Namibië, en ver uit my geheue, so duidelik en helder dat ek my kop draai, roep my oupa 'n naam: Salmon! 

    Hy het die leisels vir my kort gebind en die stiebeuels opgetrek sodat my voete kon bykom. Sy haarlose voorarm en harde hand het 'n emalje bord voor my neergesit nadat ek gevra het om van sy pap te eet. Hy het my weggedruk toe ek 'n vulletjie se neus streel en die merrie haar kop ruk. Sy hoed het nie 'n veertjie gehad nie, net 'n leerband. Hy het vir ek en my broer gewag om dorings uit ons voete te trek nadat ons hom kraal toe gevolg het... 

    Ouma se neef. Hy het gesê hulle is gejag. Hy het gesê ''ons''. Ouma se frons en haar oop mond daai dag, die lang plat skaduwees op die rooi grond... 

    Hy is terug na die reservaat buite |nomsoros waar ouma-hulle in 'n !gubu oms (ronde hut) sonder krag en water grootgeword het, in die suide van die land. Ek het hom nooit weer gesien nie. 

    Uit die leë vlakte in my binneste loop trane teen my wange af vir my mense wat weg is, vir my oupa se stem, Salmon se glimlag wat sy mondhoeke gevou het, ouma se lappiesrok, die reuk van perde, net flitse van hulle bly oor wat in 'n oogwink weer verdwyn. My trane is bitter oor die pyn en vrees wat nie woorde in hul monde kon vorm nie, oor die geheime waaraan hulle so swaar moes dra.

*** 

    Foto: ''Kinders op die Plaas'' deur Nicky Philander, Hardapstreek, Namibië. Hierdie geskrifte is die eiendom in die geheel van die skrywer. Dit mag nie gestoor, vertoon, gepubliseer, kopieer word, of vir enige ander doel gebruik word sonder vooraf en skriftelike toestemming van die skrywer nie. Kai aiôs.    

Lees hier verder: 

  1. Cabinet approves 2022 Hunting Season. Nakale, A. New Era Newspaper, 3 May, 2022: https://neweralive.na/posts/cabinet-approves-2022-hunting-season 
  2. Chronology for San Bushmen in Namibia. Minorities at Risk Project, 2004: https://www.refworld.org/docid/469f38c1e.html?fbclid=IwAR0quLONmD6UEjSp1fwM-buc4V_tGIgl_hD-riZ1zV6Q7pGfr3GiQT3ULlM 
  3. The Forgotten Killing Fields: San genocide and Louis Anthing's Mission to Bushmanland, 1862 - 1863. De Prada Samper, J. M. Historia vol. 57, May 2012: http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0018-229X2012000100010&fbclid=IwAR0quLONmD6UEjSp1fwM-buc4V_tGIgl_hD-riZ1zV6Q7pGfr3GiQT3ULlM 
  4. Review Essay: Talking in Tongues: Genocide and the San in the South African Imagination. Paleker, G. Settler Colonial Studies, UNISA, 2011: https://www.tandfonline.com/doi/pdf/10.1080/2201473X.2011.10648816?fbclid=IwAR1aKAdZNhNkW7LkDdyFSa3VvvsZmVH0mHr7tu_2PRXsWDCcetN9VfLNYZE  

Opmerkings