Klassieke Khoekhoense Verhale: ǂAi!gamûxab en Jakkals

    ǂai!gamûxab en Jakkals was iewers heen oppad. Hulle slaap vir 'n aand by 'n plek oor en kom toe die volgende dag by hul bestemming aan.

    Daar gekom, is 'n dier vir hulle geslag en die vleis is vir hulle in 'n enkele xaba (bak / houer) gegee. 

    Jakkals sny toe vir hom lekker stukke vetterige vleis af en sit dié stukke onder in die xaba, met die vetkante weggesteek. 

    Maar, ǂai!gamûxab vat en eet einste van daardie vetterige stukke vleis! Jakkals kyk ondersoekend na ǂai!gamûxab se gesig en sien daar is nie oë in dié se gesig nie.

    Jakkals sny toe wéér lekker vetterige stukke vleis vir hom af en sit wéér dié stukke onder in die xaba, maar ǂai!gamûxab vat wéér en eet van einste daardie stukke. 

    Jakkals kyk toe wéér na ǂai!gamûxab se gesig en wéér sien hy daar is nie oë nie.

    Toe hulle klaar geëet het, buk Jakkals af om 'n stukkie hout op te tel waarmee hy sy tande wil skoonmaak. 

    En, dáár sien hy toe oë, op die sole van ǂai!gamûxab se voete, en hy sê vir hul gasheer: 

    ''Stop vir my 'n pyp!'' 

    En, toe 'n pyp vir hom gestop is, kap Jakkals die tabak op sy hand uit, smyt die tabak in ǂai!gamûxab se oë, en hardloop weg.

***

    Die illustrasie hierby is deur Darek Krzak (DK13Design).

    Hierdie simboliese verhaal is 'n 120-jaar gelede opgeteken in die suide van Namibië, uit Namagowab vertaal, en neergeskryf in Duits. Volgens 'n onlangse inskrywing op die Internet, is die monster, ǂai!gamûxab, glo die ''boesman'', wat hoogs onwaarskynlik is en nie ooreenstem met wat ons as kinders vertel is nie, omdat ǂai!gamûxab 'n groter rol in ons onderbewussyn en oorlewing speel, as 'n sydelingse verwysing na die Saan. Kyk hier: https://www.youtube.com/watch?v=zjtPbC78fAY 

    In ou Khoekhoense mitologie is ǂai!gamûxab 'n vreesaanjaende mensvreter met oë op sy voete. In sommige verhale is sy oë op sy voetsole, in andere in die middel van sy voete, hulle kan ook op sy hakskene wees, en om te kan sien, moet ǂai!gamûxab op sy hande staan. 

    Hy het kragtige kake met rye vol lang, skerp tande om mensvleis mee te verskeur, en groot hande met skerp naels. Alhoewel hy soos 'n mens lyk, is hy eintlik 'n gruwel en onmenslike skepsel.

    Volgens die Khoekhoen, woon ǂai!gamûxab in die woestyn, jag vir prooi in die aand, en slaan toe op mense terwyl hulle slaap. Mense word aangeraai om nie sterk te ruik nie of, om suutjies deur die woestyn reis om nie die aandag van ǂai!gamûxab op hulle te vestig nie.

    In die wêreld van kunste, het Tatyana Brown 'n boek oor ǂai!gamûxab geskryf: https://www.wattpad.com/story/271315886-the-mystery-of-aigamuxa-book-1-sebastian-green%27s , en daar is 'n Paranormal World video op YouTube van iemand wat glo vir ǂai!gamûxab gesien het: https://www.youtube.com/watch?v=GdSL7LpB_cE  

Opmerkings