deur Mûs ||arebē
''Jy moet vinnig !khóe (hardloop) en die stof laat opstaan sodat ǂai!gamûxab jou nie kan vang nie.'' - uit die ||kharasstreek in Namibië
ǂai!gamûxab en die Ou Man Haas, die Boodskapper van die Maan, is nie net bangmaak stories wat ons kleintyd vertel is nie, hulle speel ook belangrike rolle in die vorming van ons bewussyn, ons inheemse waardestelsel, en oorlewing. Hierdie geskrewe handel dan oor die rol van ǂai!gamûxab in daardie sin.
Volgens oorlewering is ǂai!gamûxab 'n mensvreter wat in die woestyn woon. Sy oë is onder sy voete en om te kan sien moet hy op sy hande staan.
Hy jag op mense in die donkerte en oorval hulle wanneer hulle slaap. Daar bestaan ook 'n vreemde verhaal van 'n Khoeb wat deur 'n ǂai!gamûxa vrou gesteel en grootgemaak is, en toe hy daarvan uitvind, het hy van haar ontsnap en teruggekeer na sy eie mense.
Behalwe vir hom, is die enigste ander wese wat lewendig die ǂai!gamûxab ontsnap het Jakkals, wat in baie Khoekhoense verhale ook 'n metafoor is vir uitgeslapenheid (of intellek). Ek hoop dit is teen hierdie tyd duidelik dat Jakkals menslike eienskappe het en nes 'n mens optree.
Ons is eerstens vertel dat ǂai!gamûxab mense eet, iets wat afstootlik en taboe is in ons gemeenskap. Alhoewel dit soos 'n mens verskyn, 'n reus in sommige verhale, het dit nie oë in die kop nie maar wel op die voete, wat 'n erge vorm van wanskaping is, en woon dit in die woestyn waar dit op mense jag.
Die ǂai!gamûxab verteenwoordig dus alle gruwels en vrese in ons gemeenskap, soos kannibalisme, jag op mense (moord), wanskaping, weerloosheid in die woestyn, en hoofsaaklik, die gevare wat die woestyn omgewing vir die mens inhou. Die ǂai!gamûxab ís in der waarheid die woestyn. Uit ander bronne blyk dit dat dié monster bestaan om mensvleis met sy hande en mond te verskeur en het hy (soms sy) skrikwekkende rye lang, skerp tande, en lang, skerp naels.
In teënstelling met die Europese, westerse oogpunt dat bonatuurlike monsters bestaan en ontstaan uit die oortreding van natuurlike ordes en vreemde gebiede, soos byvoorbeeld wanneer mense verbode gebiede betree (vyandige ''wêrelde'' waar 'n held of heldin monsters verslaan), is die ǂai!gamûxab ''soos 'n mens'' (ook ván die mens) wat in 'n bekende en werklike gebied woon, die woestyn, en 'n nagwese wat mense in hul slaap oorval.
Alhoewel hy uitoorlê is deur Jakkals, is die ǂai!gamûxab steeds onoorwonne en leef hy onverslaan in ons bewussyn, en daarom is hy oneindig en tydloos. Daar is geen oorwinningsverhale wat die ǂai!gamûxab aan betref nie. Hy bly, in der ewigheid, 'n nagmerrie gruwel wat in die woestyn woon.
Ten opsigte van ons oorlewing wonder ek soms hoe anders die Kai Khoen (Grootmense) aan ons, hul kinders, moes verduidelik en daarteen waarsku om nie alleen woestyn toe te gaan nie behalwe deur ons die skrik op die lyf te jaag met ǂai!gamûxab? En, waarom gare (loof en prys) die Grootmense in ons gemeenskap suigelinge en kleuters mildelik wat afhanklik en hulpeloos is, en nog niks bereik het nie?
Met betrekking tot die ǂai!gamûxab se wanskaping is dit alombekend dat die vroedvroue van die Kai Khoen gestremde kinders, ook kinders wat deur bloedskande en verkragting verwek is, uit die gemeenskap verwyder het deur hulle kort ná geboorte in die ''woestyn'' te begrawe, onder andere. Die vermoë om te kan sien is (en was) van uiterste belang vir onse mense en daarom is die ǂai!gamûxab se ooglose gesig iets gruwelik.
Die begrafnisritueel vir gestremde en ongewenste kinders was anders as dié van Khoekhoena; hulle is vervloek sodat ''sulke'' kinders weg moet bly van die gemeenskap en nie terug moet kom nie, en om die gemeenskap teen hulle te beskerm. Dit was daardie tye só, dit was die ou gebruike, dit word nie hier opgehemel óf veroordeel nie. Dinge het sedertdien baie verander, en suigelinge en kleuters word steeds ge-gare, wat 'n mooi en opbouende gebaar is.
Die ǂai!gamûxab is dus 'n samestelling en verteenwoordigend van talle kulturele gebruike en taboes van die Khoekhoen. Alhoewel dit ''soos 'n mens'' is is hierdie monster die Khoekhoense teënstelling.
Om in die woestyn met die ǂai!gamûxab te oorleef word mense aangeraai om vinnig en in stilte deur dit te reis, die woestyn heeltemal te vermy, om nooit alleen woestyn toe te gaan en daar te gaan slaap nie, en om nie sterk na iets te ruik nie, soos buxu (of boegoe) en parfuum, byvoorbeeld, want sterk reuke lok ook die ǂai!gamûxab aan.
In plaaslike besprekings word gepraat van die onvermybare werklikheid van die woestyn, sy grootte, eienskappe, en dominerende teenwoordigheid op die suid-westelike landskap van suider Afrika, terwyl inheemse mense steeds opmerkings maak oor afgeleë plekke in ons land wat mense ''insluk'', of waar mense ''verdwyn''.
In die kunste (tekeninge, literatuur) en verbeelding is daar oormatige fokus op die wese van die ǂai!gamûxab, sy voorkoms, wat nie verkeerd is nie behalwe dat daar weinig soortgelyke fokus op sy omgewing geplaas word, en die feit dat dit in wese 'n woestyn roofdier is. Sonder die woestyn, myns insiens, verloor die ǂai!gamûxab sy trefkrag in die kunste.
Nes Ou Man Haas (of Ouman !ôab), is die ǂai!gamûxab 'n eg inheemse gruwel wat nie van sy unieke omgewing geskei moet word nie, en wat steeds 'n waardevolle rol kan speel in die bewusmaking van die gevare van 'n woestyn omgewing, veral nou, in hierdie tye van groeiende omgewingsbewustheid oor klimaatverandering wat die wêreld op 'n krisis afstuur.
***
Ou Man Haas (Ouman !ôab) is 'n voorspook en waarskuwing in die bewussyn van inheemse gemeenskappe in sentraal en suidelike Namibië. As u 'n bydrae tot hierdie blad wil maak, kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking