''Afrika se Natuurbewaringsplan stel Lewens in Gevaar,'' sê Inheemse Leiers

    deur Joseph Lee

    ''Ons kan nie saam met mense wat die grond vernietig het bestuur nie.''

    Verlede week het die leiers van meer as vyftig (50) Afrika-lande in Kigali, Ruanda, byeengekom vir die eerste Afrika-kongres vir Beskermde Gebiede (Eng. Africa Protected Areas Congress / APAC) om oplossings te bespreek vir toenemende klimaat verwante krisisse en biodiversiteitsprobleme.

    Die APAC afgevaardigdes het volhoubare ontwikkeling, kulturele erfenis, wildbewaring, en ekosisteembeskerming bespreek. Volgens APAC het Afrika byna 10,000 beskermde gebiede waarvan die meeste nie voldoende en volgehoue befondsing het nie.

    Om die probleem van befondsing aan te spreek, het APAC 'n onafhanklike inisiatief genaamd A Pan-African Conservation Trust (A-PACT) geloods om volgehoue, onafhanklike befondsing vir beskermde gebiede en natuurbewaringsprojekte op die vasteland te verseker. 

    ''Dit is 'n belangrike inisiatief wat ons van stapel stuur wat ten doel het om die toekoms van natuurbewaring te verseker deur 'n permanente oplossing te bied vir die finansiëringskrisis wat beskermde en bewaarde gebiede regoor Afrika vir dekades beduiwel,'' het H. E. Hailemariam Desalegn, die voormalige eerste minister van Etiopië en voorsitter van die A-PACT bestuurskomitee gesê.

    Inheemse leiers sê egter dat hulle uitgesluit was by A-PACT se besluitnemingsproses en gevolglik bekommerd is dat die inisiatief nie tot betekenisvolle verandering in die bestuur van beskermde en bewaarde gebiede sal lei nie.

    ''Vir my was dit meer soos 'n praatjie en nie 'n duidelike padkaart om inheemse mense by bewaring in te sluit sonder om hul regte te skend nie,'' het Daniel Kobei, die uitvoerende direkteur van die Ogiek volk se ontwikkelingsprogram, gesê. ''Die regte van inheemse mense was nie eintlik bespreek nie.''

    Vir baie inheemse mense is beskermde gebiede nie 'n oplossing vir klimaat verwante krisisse en biodiversiteitsprobleme nie, maar 'n bedreiging vir hul lewens, grond en regte. 

    ''Vir ons beteken beskermde gebiede lewensverlies. Dit beteken kinders sal wees word. Dit beteken dat sommige weduwees en wewenaars sal word,'' het Teresa Chemosopt van die Mount Elgon Ogiek stam in Kenia gesê. ''Dit beteken ongeregtigheid - van die regering teenoor sy mense.''

    Baie van die beskermde gebiede wat A-PACT kan finansier is gebiede waar die regte van inheemse mense voortdurend geskend word; soos die Maasai-mense in die Ngorongoro-natuurbewaringsgebied in Tansanië, die Endorois volk in die Bogoria-meer Nasionale Reservaat in Kenia, en die Batwa-mense in die Kahuzi-Biega Nasionale Park in die Demokratiese Republiek van die Kongo. Bewaringsprojekte gaan voort daarmee om inheemse mense dood te maak en hulle van hul gronde te ontneem onder die vaandel van natuurbewaring. 

    Een van die redes waarom APAC byeengekom het was om 'n einde te maak aan 'n geweldadige patroon van natuurbewaring.

    ''Beskermde en bewaarde gebiede in Afrika het 'n ingewikkelde agtergrond en geskiedenis,'' het dr. Bruno Oberle, die direkteur-generaal van die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (Eng. International Union for Conservation of Nature / IUCN) aan die begin van APAC gesê. ''Die eerste Afrika-kongres vir Beskermde Gebiede van die IUCN wil 'n stem gee aan uitgeslote inheemse gemeenskappe.''

    APAC het ook 'n nie-bindende beroep op lidlande gedoen om die natuur te beskerm en inheemse mense se regte te respekteer. Deel van die Kigali beroep sluit in dat lidlande vorige bewaringsongeregtighede moet erken, dat griewe van inheemse mense beter hanteer moet word, en om inheemse gemeenskappe te ondersteun. Hierdie lofwaardige doelwitte is egter nie oortuigend genoeg vir Kobei en Chemosopt van die Ogiek volk nie. 

    ''Ek is nie tevrede daarmee nie,'' het Chemosopt gesê. ''Ek dink nie inheemse mense se stemme is ingesluit nie.''

    In plaas van meer finansiering vir beskermde gebiede, het Chemosopt gesê moet Afrika se leiers daarop fokus om grond terug aan inheemse volke te gee. Tydens APAC, het sy gesê, het besprekinge gefokus op gemeenskappe wat grond moet ''bestuur en saam bestuur''. Sulke idees ignoreer die voordele van inheemse bestuur, eienaarskap en kennis tesame met geskiedkundige ongeregtighede wat plaasgevind het, sê sy. 

    ''Ons kan nie saam met mense wat die grond vernietig het bestuur nie,'' het Chemosopt bygevoeg. ''Ons wil volle reg tot en toesig oor ons gronde hê voordat ons van saam bestuur kan praat.'' 

    Die afgevaardigdes by APAC het nie op 'n versoek om kommentaar hierop gereageer nie.

    Daniel Kobei het 'n beroep op afgevaardigdes en lidlande gedoen vir die volle deelname en insluiting van inheemse volke in natuurbewaringsplanne. 

    ''Uit eie ondervinding, en twintig-jaar se ervaring van met inheemse mense werk, verseker ek mense dit is nie maklik nie, maar miskien, mettertyd, sal iets gebeur. Kom ons hoop wat in Kigali gesê was, beteken iets,'' het hy gesê. 

***

    Hierdie artikel is geskryf deur Josep Lee vir Grist: Climate. Justice. Solutions. Die foto hierby van 'n Ogiek ouderling is verkry van die Ogiek People's Development Program op Facebook. Lees die oorspronklike artikel hier in die Ingels: https://grist.org/global-indigenous-affairs-desk/indigenous-leaders-say-africas-conservation-plan-puts-lives-at-risk/ 

Opmerkings