Die ǂO̅xogua Prinses: |Names van Oedasoa

    deur Mûs ||Arebe

    Ek wil hiermee 'n merkwaardige vrou se nalatenskap vier, |Names, geliefde dogter van Gaob Oedasoa (Oedassa), koning van die ǂxogua (Kochokwas, of Cochoquas).

    Ek dra hierdie viering van |Names op aan die afstammelinge en tradisionele owerheid van die ǂxogua, wie se oorspronklike gebied Montagu en Kogmanskloof in die Wes-Kaap van Suid-Afrika is.

    Alle eer aan ons voorouers 🔥

    |Names in ons eie taal beteken ''liefde'' (vroulike vorm) en sy was nooit 'n bondgenoot nog minder 'n vriend van Europese koloniseerders soos haar beroemde tante, !goro|gôas (Krotoa), nie. 

    |Names was Gaob Oedasoa se oogappel en oudste dogter met !goro|gôas (Krotoa) se suster, wie hy van hul stam ontvoer het om mee te trou. 

    Gaob Oedasoa het by geleentheid vir |Names die Kaap gaan wys en haar ook voorgestel aan Jan van Riebeeck. Dit was Gaob Oedasoa se laaste ontmoeting met Van Riebeeck wat kort daarna die Kaap in 1662 verlaat het.

    Tipies van Europeërs, het Van Riebeeck in sy dagboek opgemerk |Names is ''mooi'' en ''goed gebou'' en haar ''velkleur is lig''. Hy het ook aangeteken dat sy messe, stringe rooi krale, tabak en pype, 'n dosyn halssnoere, dik en dun koper draad ontvang het vir die goeie gehalte goman (beeste) wat sy met die Nederlanders verruil het. 

    Welgestelde Khoekhoense (Nama) vroue soos |Names wat hul eie beeste besit het, was glo gedugte besigheidsvroue en onderhandelaars, volgens Portugese en Nederlandse verslae, van daardie tyd. 

    Reeds daardie tyd was dit die gebruik dat Khoekhoense handelspartye en Nederlanders (Europeërs) apart van mekaar sit om maaltye te eet; |Names het egter by Van Riebeeck se tafel gesit.

    |Names was haar pa, Gaob Oedasoa, se metgesel by amptelike en seremoniële geleenthede, sy raadgewer, en het 'n os langs syne gery. Laasgenoemde is buitengewoon onder die Khoekhoen omdat mans gewoonlik vóór vroue geloop of op osse gery het, terwyl Khoekhoense vroue agter hul mans moes loop, en is 'n aanduiding van die hoë aansien wat |Names onder die ǂxogua geniet het. 

    Die goeie verhouding met haar tante, !goro|gôas (Krotoa), het geëindig ná |Names se moeder (!goro|gôas se suster) siek geword en gesterf het. !goro|gôas het ook nege (9) ǂxogua mans oorreed om na die Kaap te reis en tot die Christendom te bekeer, en !goro|gôas het haar oom, Autsû'aob (Autsumao), wat die hoof tolk aan die Kaap was, van moord op 'n Nederlandse jongeling en diefstal van bees en koper beskuldig. Autsû'aob is in 1663 deur die Kaapse owerhede tereggestel waarna Dommî'aob (Doman), die ander Khoekhoense tolk aan die Kaap, vir !goro|gôas 'n verraaier van haar eie mense bestempel het.

    Op 'n dag het Gaob Oedasoa, wat nie meer jonk was nie, gaan jag en is hy ernstig deur 'n leeu beseer.* Sy volk was baie bekommerd oor sy gesondheid en die heilige dokters van die ǂxogua het nie veel hoop gehad hy sou herstel nie. |Names het geduldig sy wonde skoongemaak, medisyne en kos vir hom voorberei, en langs hom gesit tot hy gesond geword het. Haar toegewydenheid aan haar pa het sy lewe gered.

    Dit is dan die nalatenskap van die merkwaardige |Names, dogter van Gaob Oedasoa van die invloedryke ǂxogua, 'n welgestelde Khoenkhoes wie se besigheidsvaardigheid, invloed, en toegewydenheid aan haar vader en volk alombekend was

    Kai aiôs 👏

***

    In teënstelling met !goro|gôas (Krotoa) se status as die mees ''invloedryke'' Khoekhoense vrou aan die Kaap, is daar min inligting beskikbaar oor |Names, die welgestelde dogter van Gaob Oedasoa en haar toegewydenheid aan haar mense en vader. 

    Daar is wel 'n aantekening dat |Names so welgesteld was dit het gelyk haar beeste ''vloei soos golwe'' oor heuwels. Sy is opgeteken in Jan van Riebeeck se daghregister en word ook genoem in verklarings en dagboeke van ander Nederlanders wat tydgenote van Gaob Oedasoa en Van Riebeeck was. 

    Die rede vir hierdie plasing is om |Names haar volwaardige plek te gee in inheemse Khoekhoense geskiedenis as 'n invloedryke, legendariese, waardevolle Khoekhoense vrou wat dieselfde verering verdien as !goro|gôas, 'n bediende en tolk vir die Europese gemeenskap aan die Kaap, wat uiteraard die koloniseringsproses aangehelp het. 

    Dit is ook raaiselagtig waarom !goro|gôas soveel meer aansien geniet as Dommî'aob (Doman), die ander Khoekhoense tolk, en ek moet aanneem dit is om voor die hand liggende redes soos dat !goro|gôas meer sigbaar was in die klein Europese gemeenskap aan die Kaap want sy was inheems en het nie tussen haar eie, soos Dommî'aob (Doman), gewoon nie, en ook omdat sy later met 'n Europeër getrou het en vlot Nederlands en Portugees kon praat. !goro|gôas was dus 'n aanwins vir die Europese koloniale gemeenskap en hul belange aan die Kaap.

    Dit is ons, Khoekhoen, se verantwoordelikheid om ons eie helde, heldinne, en geskiedkundige rolspelers uit te lig, hul nalatenskap te vier en hul stories te vertel. Die kunswerk hierby is van T'Kaness* (|khanes), die dogter van T'Goosht Kaba* (Gaoba), deur Samuel Daniell (1820).

    *Hierdie legende van Gaob Oedasoa wat 'n leeu aanval oorleef het lees byna simbolies omdat leeus ook geestelike wesens in Khoekhoense geloof is.

Opmerkings