Die Raad van Oglala Sioux Stamme skors Kerk en Sendelinge

    deur Darren Thompson

    Verlede Vrydag, die 22ste Julie, 2022, het die raad van die Oglala Sioux stamme en sy president, Kevin Killer, 'n verklaring uitgereik waarin hulle eis dat die Jesus is King sending die Pine Ridge Indiaanse reservaat moet verlaat nadat die sending pamflette versprei het wat Jesus as die ''ware god'' voorhou en nie Tunkasila, die skepper van die Lakota, nie.

    ''Ons het hierdie week bevind dat die Jesus is King sending inligting versprei wat die Lakota geloof en kultuur letterlik demoniseer,'' het die Oglala Sioux stam in sy verklaring gesê. ''Dit is onaanvaarbaar en oneerbiedig. Dit is die mening van die president en die raad dat hierdie pamflette poog om haat in plaas van vrede te bevorder. Daar is nie plek vir haat op Oglala grond nie.''

    Die sending se pamflette vra ook vir lesers waaraan ontslape aktiviste en leiers, soos Russell Means, Crow Dog en Black Elk van die American Indian Movement (AIM), geglo het.

    ''Leer waarom Jesus die een ware god van inheemse Amerikaners is,'' verskyn in die pamflet.

    ''Wat het gelei tot die Wounded Knee slagting?''

    Nuus oor die pamflette se inhoud het vinnig versprei. 

    ''President Killer en die raad eis daarom dat die sendeling, Matthew Monfore, en die Jesus is King-sending die Oglala Sioux-stam onmiddellik verlaat en enige verdere haatspraak aktiwiteite moet staak,'' het Vrydag se verklaring gelui.

    ''Die reg om die geloof van ons keuse te beoefen, ons bekommernisse uit te spreek en probleme aan te spreek, is gebaseer op een onderliggende beginsel - respek. Die president en die raad hou by die Oglala Lakota Grondwet se Handves van Menseregte maar die president en die raad het ook 'n verpligting om te verseker dat die koloniserende beginsels en praktyke van die verlede nie weer teen Lakota-mense gebruik word nie.''

    Op sy beurt het Matthew Monfore van die Jesus is King sending die ''heiligheid'' van die Lakota Sioux-stam se Black Hills op die sending se webwerf bevraagteken en in neerhalende en rassistiese taal na die stam verwys as ''inboorlinge'' wat glo nie die Engelse vredesverdrae wat hulle onderteken het, verstaan nie. 

    ''Die Black Hills is nie die hart van die Lakota Sioux stamme nie,'' het hy geskryf, ''en ook is dit nie 'n spesiale plek in die godsdienstige sin nie.''

    Eleanor Ferguson van die International Indigenous Youth Council (Oglala Lakota afdeling) het op die 27ste Julie, 2022, berig dat die Raad van Oglala Sioux Stamme verder besluit het om die aktiwiteite van alle kerke en sendelinge op die Pine Ridge reservaat op te skort en te ondersoek totdat alle werknemers en vrywilligers 'n agtergrondondersoek geslaag het, volledige finansiële state verskaf oor hoeveel geld hulle ontvang, waarvandaan hul geld kom, en waarheen dit gaan. Sou hulle versuim om dit te doen, sal hulle verwyder word van die reservaat. Die raad het verklaar dat geen sendeling op die reservaat meer mag werk sonder om die bogenoemde protokol te volg nie.

    Die Raad van Oglala Sioux Stamme het kerke ook verbied om fotos van Oglala Lakota kinders te gebruik om skenkings te werf en die volgende woorde onder kopiereg geplaas, ''Pine Ridge Indian Reservation'', ''OST'', en ''Oglala Lakota Tribe'', sodat kerke en sendelinge nie meer hierdie woorde op hul webwerwe, in pamflette, en vir fondsinsameling, in enige vorm, mag gebruik nie.

    Ferguson het bygevoeg dat die raadgewers van die inheemse jeug hulle daaraan herinner dat die werk wat hulle vir hul stamme doen noodsaaklik is om die Lakota se kultuur te beskerm.     

***

    Hierdie artikel is geskryf deur Darren Thompson vir Native News Online. Die foto hierby is van Kevin Killer, president van die Raad van Oglala Sioux Stamme. Lees die oorspronklike artikel hier in die Ingels: https://nativenewsonline.net/currents/christian-mission-ousted-from-pine-ridge-indian-reservation-after-distribution-of-hate-materials  

Opmerkings