deur Marta en Monica Basson, |aexa'aibes (Warmbad), ||kharasstreek, Namibië
In die ou, ou dae het kinders naby hul ouers gewoon en was families baie geheg aanmekaar.
Dourie tyd was daar 'n gesin, 'n moeder, vader, en hul drie dogters. Een van hul dogters was 'n slim kind want sy kon in die toekoms sien.
Al die kinders, ook hierdie spesiale meisiekind, was lief om na stories te luister en een spesifieke verhaal het haar geprikkel.
Dit was die verhaal van twee oumas. Altwee oumas kon tussen mens en slang vorme verwissel. Die goeie ouma is 'n poffadder en die slegte ouma is 'n luislang.
Stories het geloop dat jy nie terugkom as jy na die slegte ouma se huis gaan nie.
Hierdie slim meisiekind was baie bang. Sy het toe vir haar eie ouma gesê dat sy en haar susters die veld wil verken waar die goeie ouma en slegte ouma woon.
Haar ouma was nie gelukkig hiermee nie maar het hulle toegelaat om te gaan op een voorwaarde: hulle mag net by die goeie ouma, Pofadder, gaan kuier.
Tipiese jong mense het hulle toe na die slegte ouma, Luislang, gegaan. Toe hulle daar aankom, voel die slim meisiekind, vreemd genoeg, baie tuis. Sy was so gemaklik dat sy selfs daar begin werk het.
Daar was egter 'n probleem; die slegte ouma se seun was erger as sy en hy het ook daar gebly.
Gedurende die dag het die slegte ouma se seun in 'n gat in die grond gebly. Hy kon ook vorm tussen mens en slang verwissel.
Die slegte ouma en haar seun het hierdie gawe tot hul voordeel gebruik. Hulle het nie geweet dat die spesiale meisie ook 'n gawe het nie. Sy kon in die toekoms sien en het gesien die slegte ouma en haar seun wou haar, nes andere, lok na haar dood.
Eendag sê die slegte ouma vir haar: “Gaan melk die koei vir my.”
Die meisie stem in en omdat sy in die toekoms kan sien weet sy waarvoor sy op haar hoede moet wees.
Sy het gedurende die dag na die koei se kraal gegaan wanneer die slegte ouma se seun 'n slang in die gat was.
Die slang het haar onder 'n hoop beesmis ingewag maar sy het hom gesien en die koei se eier geknyp. Die koei het gespring en sodoende die grond versteur sodat die slang blootgestel is. Die slang was baie kwaad en het weggeseil.
Toe die slim meisie by die slegte ouma aankom, is die ou vrou baie kwaad. Haar seun het misluk. Die meisie leef nog.
“Die koei wou nie hê ek moes haar melk nie,” het die meisie vir die slegte ouma gesê.
“Waar is my seun? Wanneer kom hy terug?” het die slegte ouma haar toegesnou.
Die slim meisie het haar ignoreer en vuurhout in die veld bymekaar gemaak om vuur by haar eie hut te maak.
Toe die vuurtjie hoog brand en die kole gloei, het die meisie gaan sit en wag.
Eers waai 'n koue wind.
Toe waai 'n warm wind.
En toe daag die slegte ouma se seun op in die vorm van 'n luislang. He was vasberade om die meisie dood te maak. Sy kon dit aanvoel.
Sy het gloeiende kole in haar hande opgetel en dit op hom gegooi. Toe tel sy 'n klip op, kap hom daarmee, en sleep hom by haar hut in.
Die slang was morsdood.
Die meisie het geweet sy is nog steeds in gevaar. Sy het haar susters wakker gemaak en hulle hardloop toe weg.
Die volgende oggend is die slegte ouma in 'n vrolike bui. Sy het gedink al die meisies is doodgemaak en dat sy en haar seun genoeg kos vir 'n lang tyd het.
Sy roep na haar seun om vir hom iets te gee om te drink, maar hy kom nie uit nie. Toe sy in die gat gaan kyk, is hy nie daar nie.
Toe gaan sy na die meisies se hut en dáár vind sy haar seun! Die slegte ouma se seun was nie meer 'n luislang nie maar 'n mens, en hy was dood. Sy oë was groot en sy mond wyd oop.
Toe huil die slegte ouma oor haar seun.
Die goeie ouma, Pofadder, het geweet hoe die slegte ouma voel omdat die slegte ouma, Luislang, en haar seun baie van die goeie ouma se kinders doodgemaak het.
Die twee oumas huil toe saam; die een was bly en die ander was hartseer.
Die slim meisie en haar susters het hul ouers se huis veilig bereik. Die meisie het egter vir die res van haar lewe die waarheid swaar in haar hart gedra: sy het die slegte ouma se seun doodgemaak.
Wanneer 'n koue wind waai en 'n warm wind waai daarna, onthou die slegte ouma se seun. Dit is nie 'n lekker gevoel nie.
Kai aios
***
Die foto hierby is van 'n pofadder (Bitis arietans). Pofadders is inheems aan suidelike Afrika en word oral op die vasteland aangetref behalwe in die Sahara woestyn en tropiese gebiede. Ek is kleintyd vertel dat pofadders “goeie slange” is omdat pofadders diere en mense wat te naby hulle kom waarsku deur op te blaas, of te pof, en dan hardop te sis. Pofadders is nagdiere maar word soms ook in die dag opgemerk waar hulle opgekrul en stil lê en wag vir prooi, soos voëls, klein soogdiere en geitjies. As u wil bydra tot hierdie blad, kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking