deur Mûs ||Arebē
Lank gelede was Khoena (mense) en |aon (Slange) vriende. Hulle het saam gebly en mekaar se kinders opgepas. Mense en slange kon doerie tyd met mekaar praat en mekaar verstaan.
Só het Moeder Mamba en haar seun ook gelukkig in 'n gemeenskap saam met Khoena gewoon.
Op 'n dag sê Moeder Mamba se seun vir haar dat hy wil trou en, nes die gebruik onder Khoena, was dit Moeder Mamba se plig om vir hom 'n goeie vrou te kry.
Moeder Mamba het lank na 'n vrou vir hom gesoek. Sy het ver gereis maar oral waar sy was is iets fout; óf die huis was slordig, óf die kos nie lekker nie, die water is brak, die mense trek te veel rond, óf te veel arende, sekretarisvoëls en uile was in die omgewing.
Daarna is sy terug huis toe.
Moeder Mamba gaan sien toe die Khoena se heilige dokter en vertel vir hom van haar probleme. Die heilige dokter gee vir haar 'n poeier wat sy elke oggend, net ná sonopkoms, op haar seun moet strooi.
Moeder Mamba bedank hom.
Die volgende oggend, net na sonopkoms, roep sy haar seun en strooi die poeier oor hom en, dáár, voor haar oë, verander hy in 'n mens! Net ná sonsondergang het hy weer terug in 'n slang verander.
Moeder Mamba vat toe haar seun na die Khoena, stel hom voor, en vra vir 'n vrou. Sy vertel hulle nie haar geheim nie. Khoena is baie beïndruk met haar seun.
Een man wat goeie vriende met Moeder Mamba was, het sy dogter, Buruxas (wonderlik), voorgestel. Buruxas het van Moeder Mamba se seun gehou en ingestem om te trou.
'n Jaar later is die troue tydens die reënseisoen gevier en die paartjie het klomp geskenke ontvang.
Soos dit die gebruik was, het Buruxas haar eie matjieshut in haar man se kraal gehad. Sy het egter nooit haar man ná sonsondergang gesien nie.
Moeder Slang het vir Buruxas beopdrag om haar seun se kos vóór sonsondergang voor te berei en dit buite sy hut vir hom te los. In die oggend sien Buruxas die kos is opgeëet.
Met verloop van tyd verlang Moeder Slang se seun al meer en meer na die gawe, goeie Buruxas, wat hy net gedurende die dag sien, en een aand, nadat hy klaar geëet het, besluit hy om haar te gaan kuier.
Buruxas het oudergewoonte vroeg sand op die aandete se vuur gegooi en is vroeg bed toe.
Daardie aand hoor sy iets snaaks in die matjieshut. Die ding vat-vat aan haar besem en potte, en seil in die donkerte oor haar riet matte. Sy luister aandagtig en tel toe 'n slypsteen op. Toe kap sy en sy kap die ding totdat dit ophou beweeg.
Toe steek sy 'n takkie aan die brand om te sien wat dit was en Buruxas sien 'n dooie slang lê op die matjies.
Sy tel dit op en gaan smyt die slang weg in die veld waar 'n uil dit vang en opvreet.
Die volgende oggend wag Moeder Mamba soos gewoonlik vir haar seun om haar te kom groet sodat sy die poeier oor hom kan strooi.
Maar, hy kom nie.
Sy gaan toe na sy matjieshut, roep na hom, en toe hy nie antwoord nie, lig sy die mat op en sien die hut is leeg. Sy slaapmat staan steeds opgerol waar Buruxas dit die vorige dag gelos het, nadat sy die hut skoongemaak het.
Baie bekommerd gaan Moeder Mamba toe na Buruxas se matjieshut en spreek haar van buite af aan want sy mog nie haar skoondogter se hut binne gaan nie.
''Buruxas'a, !gâi ||goas (goeie môre), het jy opgestaan?''
Buruxas is verbaas om haar skoonma se stem te hoor.
''!gâi ||goas, Mamba di Mamas (mamba se ma),'' antwoord Buruxas, ''ek het opgestaan, î.''
''!gâi ||goas, Mambab,'' sê Moeder Mamba, ''het jy opgestaan, axab (seun)?''
Niemand antwoord nie.
Buruxas skrik en besef skielik dat die slang van die vorige aand haar man was. Moeder Mamba en haar seun gebruik toorkrag!
''Mamba is nie hier nie, Mamas,'' sê Buruxas met 'n vriendelike stem. ''Sal Mamas in die hut gaan wag? Ek kom nou en dan soek ons saam vir Mamba.''
Toe Moeder Mamba by haar matjieshut ingaan, pak Buruxas haar slypsteen, slaapmat, kruie, vuurklip en besittings in 'n beesvel en vlug terug na haar mense. Sy het haar |aokhoen (familie) alles vertel wat gebeur het.
Dit is dan hoe die goeie verstandhouding tussen Khoena en |aon (slange) op 'n einde gekom het. Moeder Mamba soek nog steeds haar seun en sy pik mense omdat sy glo hulle het hom doodgemaak.
Om mense met leuens te mislei veroorsaak onvoorspelbare probleme.
Kai aiôs
***
Die foto hierby is van 'n swart mamba (dendroaspis) en verskaf deur Animal Corner. Hierdie ou Khoekhoense verhaal het ti aumas, oorspronklik van Aroab in die Kxalaxadi, aan ons vertel. Daar is ook 'n ander weergawe van hierdie verhaal, Goeie Ouma en Slegte Ouma Slang. Ek bedank ti Aumas tsî sida Abokhoen dat hierdie verhaal vandag nog bestaan om hier te deel. As u 'n bydrae tot hierdie blad wil maak, kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com
Opmerkings
Plaas 'n opmerking