Inheemse Namibiese kunstenaar, Michelle Isaak se talent is tasbaar en opvallend. Haar abstrakte, drie-dimensionele werke het vorm, tekstuur, trek die oog op verskillende vlakke, is noukeurig uitgevoer, en terg die sintuie met treffende kleure. Sy het die kunssinnige vermoë om 'n eenvoudige karton (boks) in 'n asemrowende kunswerk te omskep.
1. Waar kom jy vandaan en hoe beïnvloed dit jou werk?
Ek is gebore en getoë in Windhoek, Namibië, met my ses (6) sibbe. Elkeen van ons is prakties aangelê met 'n passie vir elkeen se verkose veld. Ek het, byvoorbeeld, altyd met 'n ink pen op my vel geteken min wetend dat dit na 'n loopbaanverandering sou lei.
2. Hoe het jou kuns ontstaan en hoe het jy jou vaardighede ontwikkel?
3. Wie, of wat, was of is die grootste invloed op jou werk?
Toe ek grootgeword het, was ek nie uitgesproke nie. Ek was altyd op my eie, het altyd geïsoleer, besig met my eie dinge. Kuns het vir my ontvlugting gebied van die wêreld om my. By COTA het ek geleer hoe om kuns as terapie te gebruik waardeur ek my antisosiale gevoelens, swakhede, en vrese kon aanspreek. Ek word inspireer deur my ervaringe of iemand anders se verhaal waarmee ek my kan vereenselwig. Ek vind dan 'n manier om dit wat my inspireer in beelde om te skep en 'n storie te vertel met afval en herwonne materiaal.
4. Wat is jou gunsteling medium om mee te werk en hoekom?
Dis baie opwindend om met afval en herwonne materiale te werk soos ou koerante, bokse (kartonne), plastiek, lap, ensovoorts. Ek gebruik herwonne materiaal omdat dit maklik is om mee te werk want hulle bestaan reeds in verskillende teksture, lyne, vlakke en vorme, hulle beteken ook iets vir ons, vir mense, wat hulle gebruik het, hulle het altyd iets oor hulself te sê, en, natuurlik, omdat hulle maklik verkrygbaar is. As 'n Namibiese kunstenaar gebruik ek wat ek om my het. Namibië het nie baie hulpbronne vir kunsmateriaal nie en dit kan baie duur wees. Ek maak gebruik van dit wat ek rondom my vind. Covid-19 het ons baie geleer!
5. Hoe sal jy jouself en jou kuns beskryf?
Ek sou myself beskryf as 'n kind van God, gretig om andere te help, of dit nou met my talent of emosionele ondersteuning is. My kuns praat wanneer woorde nie kan verduidelik nie. Deur my kuns as terapie te gebruik het my laat besef dat ek nie net myself nie maar soveel andere ook help wat dieselfde probleme het wat ek eens op 'n tyd gehad het. Dit help om dinge vanuit 'n ander perspektief te sien of hulle vanuit 'n ander hoek te benader.
6. Waar vind jy inspirasie vir jou werk en wat motiveer jou om kuns te skep?
Die meeste mense sien rommel as vullis. Ek sien skatte. Die herwonne materiaal wat ek versamel, het betekenis en skoonheid en vertel soveel stories waarvan ons almal deel is. Herwonne materiaal maak my opgewonde, ek raak sommer dadelik kreatief.
7. Wanneer is jou gunsteling tyd van die dag om te werk?
Ek is op my kreatiefste laat in die aand, na 22:00, en vroeg in die oggend, na 03:00. Die beste tyd vir my om kreatief te wees is wanneer almal slaap.
8. Waarom is kuns belangrik?
Kuns is 'n belangrike deel van ons wêreld. As ons vir 'n paar sekondes rondom ons kyk, sal ons kuns oral sien. Dis in motors, huise, klere, sakke, in die voorbereiding van kos, in glase, bekers, koppies, borde, skoene, ons vind kleure, ontwerpe, betekenis, en skoonheid in alles rondom ons. Ons kan ons nie 'n wêreld sonder kunstenaars voorstel nie. Tweedens, ons is miljarde mense in die wêreld, en ons almal dink heeltemal anders van mekaar. Ons vind vreugde en geluk in verskillende dinge; sommige lees, sommige maak musiek, sommige in elektriese drade, sommige in wetenskap, sommige in dans, en sommige soos ek het 'n passie vir kleure en om dinge uit ons verbeelding te skep en dit die werklikheid in te bring.
9. Wat is jou definisie van 'n suksesvolle kunstenaar?
My definisie van 'n suksesvolle kunstenaar is 'n voltydse kunstenaar wat 'n bestaan uit kuns kan maak en dit met die wêreld kan deel.
10. Wat is jou droom kunsprojek?
My droom kunsprojek is om 'n kunsskool te hê waar ek met weeskinders en hawelose mense kan werk en hulle te leer hoe om goed uit niks te skep en hoe om 'n inkomste daarvan te verdien. Kuns moet 'n vrye beroepskeuse vir enigiemand wees want nie almal van ons in hierdie wêreld is bedoel om dokters, prokureurs, verpleegsters, ensovoorts, te wees nie.
Ons stem heeltemal saam met Michelle en wens haar alle voorspoed vir die blink toekoms wat vir haar wink. Volg vir Michelle Isaak op Instagram: @miiart7
***
Dié foto van Michelle en haar kunswerke is self verskaf. Besoek The Project Room se webwerf om haar mees onlangse projek te sien: https://www.theprojectroom.com.na/post/art-for-bank-windhoek.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking