Tarrkarri: 'n Blink Toekoms vir Australiese Inheemse Kuns en Kultuur

    Dis 'n twintig-jaar lange droom wat waar geword het vir inheemse mense in Australië: Tarrkarri.

    Tarrkarri beteken ''toekoms'' in Kaurna, een van Australië se inheemse tale, en is die eerste van sy soort ter wêreld: 'n sentrum vir die kulture van die Eerste Volke op daardie vasteland. Volgens die amptelike webwerf van hierdie unieke onderneming, sal die sentrum 'n verhoog wees waar die wêreld oor die unieke kulture en ongelooflike geskiedenis van Australië se inheemse volke en die Torres Seestraateiland se mense kan leer. 

    Tarrkarri is op Lot Veertien (14) geleë in Adelaide op Kaurna Yerta (die Kaurna-volk se gebied), Suid-Australië, en sal Australië se kulturele hoofkwartiere wees om langer as 60,000 jaar se ononderbroke inheemse kultuur te vereer.

    Die projek is in Desember, 2021, van stapel gestuur. 

    Die strategiese ligging van Tarrkarri in Adelaide beoog om groeiende internasionale belangstelling in inheemse Australiese kulture na Suid-Australië te stuur en om Adelaide se internasionale status as 'n belangrike en unieke kulturele bestemming te bevorder. Plaaslik word egter gehoop die sentrum sal genesing en versoening bewerkstellig, en trots by Australiese inheemse gemeenskappe inboesem. 

    Die Australiese regering het tot dusver AU$ 85 miljoen vir Tarrkarri opsy gesit en die federale regering van Suid-Australië het hom tot AU$ 115 miljoen in aanvullende fondse verbind. Daar word ook gehoop hierdie unieke sentrum sal help dat nie-inheemse Australiërs inheemse kulture en mense beter verstaan. 

    Die Suid-Australiese regering werk blykbaar saam met inheemse gemeenskappe aangaande Tarrkarri se beplanning en ontwikkeling om te verseker die sentrum het 'n sterk inheemse karakter en teenwoordigheid en om inheemse kultuur, verhale, en waardes ten volle tentoon te stel.

    Woods Bagot en Diller Scofido + Renfo (DS+R) is in Februarie, 2021, aangestel om saam met die Aboriginal Reference Group (ARG) te werk, 'n inheemse vereniging van Eerste Volke wat ook die sentrum sy simboliese naam, Tarrkarri, gegee het.

    ''Die seldsame ervaring van die oprigting van hierdie geskiedkundige gebou, die lê van sy fondamente, elke vlak van sy bestuurstruktuur, word deur inheemse mense gedryf,'' sê Lee-Ann Tjunypa Bucksin, die inheemse assistent-direkteur van Tarrkarri. ''Ek dink ons inheemse volke het vir die regte geleentheid gewag vir hierdie sentrum om te bestaan.''

Buckskin voeg by dat inheemse kennis, kultuur en geskiedenis elke keer verdwyn wanneer 'n inheemse ouderling sterf en derhalwe is Tarrkarri noodsaaklik om inheemse kennis en geskiedenis op te neem en te bewaar. 

    ''Ons benodig dringend 'n pasgemaakte gebou om inheemse Australiese geskiedenis te bewaar. Tarrkarri se doel is baie opwindend vir toekomstige geslagte.''

    Ons wens die Eerste Volke van Australië alle voorspoed met Tarrkarri en hoop die sentrum sal geluk, genesing, rus en vrede vir hulle in hul Droomtyd bring, nou, gister, en in die toekoms, tarrkarri

Kai aiôs

***

    Die foto hierby van Tarrkarri is verskaf deur Lot Fourteen (14). Die foto van Lee-Ann Tjunypa Buckskin is verkry van The Australian

    Lees hier verder in die Ingels: 

  1. Tarrkarri - Centre for First Nations Cultures, Lot Fourteen: https://lotfourteen.com.au/projects/tarrkarri 
  2. A First for our Indigenous Culture, Sian Powell, The Australian, April, 2022: https://www.theaustralian.com.au/special-reports/a-first-for-our-indigenous-culture/news-story/f92b83fd33fc3d8c36337217aa4ad733

Opmerkings