Pous Franciskus vra Inheemse Kosskool Oorlewendes in Kanada Amptelik om Verskoning

    deur Nadine Yousif

    Pous Franciskus het inheemse kosskool oorlewendes om verskoning gevra tydens sy eerste openbare toespraak in Kanada. 

    ''Ek is innig jammer,'' het die pous Maandag op die terrein van 'n voormalige kosskool in Maskwacis, naby Edmonton, gesê. 

    Hy het ook gesê sy verskoning is die eerste stap en dat 'n ''ernstige ondersoek'' geloods sal word om genesing te bewerkstellig.

    Die pous is tans in Kanada om amptelik om verskoning te vra vir die Rooms-Katolieke Kerk se rol in kosskole wat as doel gehad het om inheemse kinders in ''westerse samelewing'' te assimileer. Hierdie staatsskole was deel van 'n beleid om inheemse kulture en tale uit te wis. 

    Die pous se verskoning Maandag is toegejuig deur oorlewendes in die gehoor van wie sommige ver gereis het om sy toespraak te hoor.

    Pous Franciskus het ook sy hartseer, skaamte en woede uitgespreek oor die optrede van lede van die Rooms-Katolieke Kerk, wat die meeste van die kosskole vir inheemse kinders in Kanada bedryf en bestuur het.

    Die 85-jarige pous het die kosskolestelsel 'n ''rampspoedige fout'' in sy toespraak genoem en om vergifnis gevra vir die ''gruweldade wat soveel Christene'' teen inheemse volke gepleeg het. 

    Bruce Allan, 'n kosskool oorlewende wat die pous se toespraak bygewoon het, het gesê die pous se verskoning was vir hom roerend, maar baie soek steeds dat die pous moet optree. 

    ''Ek dink baie van die oorlewendes is nog steeds baie kwaad,'' het Mnr. Allan aan die BBC gesê. 

    Die pous het gesê hy het na Kanada met 'n paar inheemse kinderleerskoentjies (mokassins) gereis wat hy vroeër dié jaar by 'n inheemse afvaardiging na die Vatikaan ontvang het. Die leerskoentjies, wat die inheemse afvaardiging gevra het die pous terug aan hulle moet besorg, dien as simbool vir die inheemse kinders wat kosskole bygewoon en nie terug huis toe gegaan het nie.

    Hy het gesê die leerskoentjies ''wys 'n pad aan vir ons om te volg'', 'n pad van geregtigheid, genesing en versoening. 

    Sy toespraak is aangehoor deur inheemse hoofmanne van die Eerste Volke, tesame met Métis en Injoeït (Eng. Inuit) oorlewendes, wat by Muskwa Park byeengekom het. Justin Trudeau, die Kanadese Eerste Minister, en die goewerneur-generaal, Mary Simon, die eerste inheemse persoon om hierdie pos te beklee, was ook teenwoordig. 

    Vóór sy toespraak het die pous 'n vergadering met die plaaslike leiers van die Kerk gehou en daarna 'n gebed gelei in die Ermineskin Cree Nation se begrafplaas by die grafte van kosskoolleerlinge. Die Ermineskin kosskool was een van die grootste in Kanada vir inheemse kinders, en is die eerste plek wat die pous besoek het. Hy beskryf sy reis as 'n ''pelgrimstog om boetedoening''.  

    Ná sy verskoning het die pous 'n tradisionele hooftooisel opgesit wat 'n inheemse hoofman aan hom geskenk het terwyl die Cree se erelied in die agtergrond gesing is. 

    Baie het 'n beroep op die pous gedoen om verskoning te vra vir die Rooms-Katolieke Kerk se rol in die inheemse kosskoolskandaal. Die Kerk het die oorgrootte meerderheid, 70%, van kosskole vir inheemse kinders in Kanada bestuur. 

    Die skole was vanaf die 1870s bedryf met die laaste wat in 1996 gesluit het. In daardie tydperk is ongeveer 150,000 Eerste Volke, Métis en Injoeït kinders van hul gesinne verwyder en in kosskole geplaas om ''opgevoed'' te word. Die amptelike beleid van die kosskole was om die ''Indiaan'' in die kind dood te maak om sodoende die kind te red (Eng. ''kill the Indian to save the child''). 

    In 2015 het die Kanadese Waarheids-en Versoeningskommissie (Eng. Truth and Reconcilliation Commission) 'n verslag bekendgestel waarin oorlewendes van kosskole vir inheemse kinders openbare voorleggings gemaak het oor erge mishandeling, siektes en wanvoeding wat hulle ervaar het. Daar word vermoed meer as 3,000 kinders het gesterf. 

    In sy verslag het die Waarheids-en Versoeningskommissie die kosskoolstelsel die ''kern van kulturele volksmoord'' teen die inheemse volke van Kanada genoem.

    Pous Franciskus se toespraak Maandag volg kort op die hakke van sy geskiedkundige verskoning in April hierdie jaar toe 'n inheemse afvaardiging van Kanada die Vatikaan besoek het. Op daardie tydstip het hy gesê die kosskoolskandaal ''pynig'' hom en maak hom ''skaam''.

    Die pous is tans op besoek aan Kanada vanaf die 24ste tot die 29ste Julie, 2022.

***

    Hierdie artikel is geskryf deur Nadine Yousif vir die BBC en die vertaling in Afrikaans is behartig deur Mûs ||Arebe vir die Nossob Xrup. Die foto hierby van Pous Franciskus met hoofmanne van die Eerste Volke, insluitende Métis en Injoeït, te Maskwacis, naby Edmonton, Kanada, is verskaf deur Reuters. Lees die oorspronklike verslag in die Ingels hier: https://www.bbc.com/news/world-us-canada-62296834  

Opmerkings