''Ek geniet dit om te voet deur ons gebied te loop, om vir jong mense te wys hoe om barni (goannas) te jag en vis te vang. In my skilderye is alle soorte veldkos, goeie veldkos, waarvan ons voorheen in die bos gelewe het. Ek skilder die Njieghiena-gebied op dieselfde manier hoe arende dit sien wanneer hulle hoog in die lug sweef.''
Daisy Loongkoonan (uitspr. loeng-koen-an) was in 1910 in die agterlande (Eng. Outback) van westelike Australië gebore, en 'n lid van die inheemse Njieghiena (Eng. Nyigina) mense van die Mardoowarra (Fitzroyrivier). Njieghiena taal is nou verbind met die Warrwa en Yawuru inheemse tale van Australië, en reeds in 2012, tesame met Daisy, kon nog net tien (10) mense Njieghiena praat.
In 1998 het die Njieghiena en Mangala volke van Wes-Kimberley grondeise teen die Australiese regering ingedien om 'n Njieghiena-Mangala gebied vir hulle te verklaar, en het die volke 'n protokol uiteengesit wat stipuleer dat enige ontwikkelingsprojekte in die hul gebied deur hulle, die Njieghiena en Mangala volke, goedgekeur moet word ten einde hul inheemse kulturele erfenis te beskerm. In 2014, 18-jaar later, het die Federale Hof van Australië die Njieghiena-Mangala mense grondgebied van 26,000 km² toegeken wat die Mardoowarra (Fitzroyrivier) en sy vallei insluit.
Daisy Loongkoonan is op Mount Anderson langs die Fitzroyrivier gebore. Haar ouers was beeswagters en as kind het sy saam met hulle van veepos na veepos getrek, bees bymekaar gemaak, opgepas, en weer na ander veeposte getrek. Dit is soms gevaarlike werk en beeswagters se metodes van kuddes en troppe bymekaar bring en mee trek, verskil van kultuur en omgewing.
Daisy het later self 'n skaapwagter, en haar ouers en ander beeswagters se kok geword. Toe sy ouer was, het sy haar eie perd bekom en ook beeswagter geword. Tydens die reënseisoen het sy en haar ouers altyd teruggekeer na die Mardoowarra en hul eie volk in westelike Australië, waar hulle aan tradisionele feeste en seremonië deelgeneem, en kruie en veldkos versamel het.
Een van Daisy se unieke gewoontes was om lang afstande deur die veld te stap (Eng. footwalking) en ook daar te woon. Jare later het sy gesê dat dit die enigste manier is om 'n gebied te verken en altyd te onthou.
In 2005, op die ouderdom van 95, het Daisy 'n kunskursus op Derby in westelike Australië by die Manambarra Inheemse Kunssentrum bygewoon, en is dit onmiddellik opgemerk dat sy 'n buitengewone kunsstyl het. Sy het “glinsterende” veldkossoorte en gebiede geskilder, en haar betowerende skilderye is daarna in alle gebiede van Australië uitgestal, met lof van beide inheemse en westerse organisasies. Die Mardoowarra (Fitzroyrivier) vloei merkbaar deur haar werk.
Daisy Loongkoonan het 'n unieke inheemse, kolletjie-skilderstyl gehad (Eng. pointillism). Merkwaardig vir iemand van haar gevorderde ouderdom, het sy binne 'n jaar volkome haar eie volwasse skilderstyl ontwikkel. “Haar skilderye was aanvanklik baie eenvoudig,” het Diane Mossenson van die Mossenson Gallery gesê, “maar na 'n paar jaar het haar werk baie ingewikkeld en besonders mooi geword en, ek dink, dis omdat sy 'n fantastiese skilder was en ook omdat sy oor onderwerpe na aan haar hart geskilder het.”
'n Jaar later, in 2006, het Daisy die Redlands Kunsprys gewen en in 2007 is haar skilderye by die Nasionale Argiewe van Australië ingesluit. In 2016, op die ouderdom van 105, het sy haar eerste solo kunsuitstalling in die V. S. A. gehad genaamd Yimardoowarra: Artist of the River. Haar skilderye is dieselfde jaar ook deur die amptelike Kunsgallery van Suid-Australië uitgestal.
Volgens Lisa Slade van die Kunsgallery van Suid-Australië is Daisy Loongkoonan se skilderye fassinerend omdat hulle die illusie van beweging skep en verg hulle baie oogbeweging. Daisy se kenmerkende rooster patroon lyk soos lugkaarte van spesifieke, maar terselfdetyd ook 'n onherkenbare, plekke.
Daisy Loongkoonan is in 2018 op die ouderdom van 108-jaar oorlede op 'n afgeleë nedersetting in die Njieghiena-gebied. Sy was drie (3) keer getroud. Binne die bestek van dertien (13) jaar het sy 380 skilderye voortgebring en ten tyde van haar heengaan was sy een van die laaste sprekers van die Njieghiena taal. Sy is Australië se beroemdste inheemse kunstenaar, en haar gesogte skilderye behaal hoë pryse.
Haar kunswerke bied insig tot die unieke perspektief van inheemse Australiërs met betrekking tot die natuurlike omgewing en plekke, en word vandag in veilige bewaring gehou in die Australiese parlementsgebou, in die amptelike Kunsgallery van Westelike Australië, deur die Berndt Antropologiese Museum in Perth, die Universiteit van Macquarie, en die Departement van Inheemsesake te Canberra.
Ons vereer vir Daisy Loongkoonan, “Yimardoowarra” van die Njieghiena mense, inboorlinge van Australië en regmatige eienaars van die Mardoowarra en sy waters, vir haar besondere bydrae tot inheemse kuns, haar verset teen westerse invloed op haar werk, en haar vasberadenheid om Australiese inheemse sieninge met haar kuns uit te beeld.
***
Lees hier in die Ingels:
- Daisy Loongkoonan: Yimardoowarra, Kluge-Ruhe, Aboriginal Art Collection, University of Virginia, May, 2016 - August, 2016: https://kluge-ruhe.org/collaboration/loongkoonan/
- Loongkoonan, Wikipedia: https://en.wikipedia.org/wiki/Loongkoonan
- 105-year-old Kimberley Artist, Daisy Loongkoonan gathers International Acclaim, Erin Parke, ABC Australia, April, 2016: https://www.abc.net.au/news/2016-04-11/105-year-old-kimberley-artist-gathers-international/7316168
- 105-year-old Aboriginal Artist inspired by Life Walking in the Outback hosts first U. S. Exhibition, Rachel Eddie, Daily Mail Australia, February, 2016: https://www.dailymail.co.uk/news/article-3461508/Loongkoonan-105-year-old-Aboriginal-artist-exhibits-Washington.html
- Indigenous Woman took up Painting in her 90s, Shanna Collins, Vibe, September, 2016: https://www.vibe.com/features/viva/105-years-old-australia-aboriginal-artist-454284/
Opmerkings
Plaas 'n opmerking