''Inheemse Vroue is Onsigbaar in Suid-Afrika,'' sê Aktivis en Prokureur, Lesle Jansen

    deur Nikita Bulanin

    Lesle Jansen, 'n Suid-Afrikaanse inheemse menseregte aktivis en 'n omgewingsprokureur het met Nikita Bulanin van Debates Indígenas gesels oor die inheemse mense en vroue in Suid-Afrika.

    Nikita Bulanin (NB), Debates Indígenas: Lesle, kan jy ons miskien vertel wie is die inheemse mense van Suid-Afrika? 

    Lesle Jansen (LJ): Volgens ons Grondwet is alle histories benadeelde Suid-Afrikaners inheems. Diegene wat met die wêreldwye inheemse beweging identifiseer, en wat hulself inheems beskou, is die Khoe, of Khoekhoen, en die Saan gemeenskappe. Hierdie volke het ook hul eie onderafdelings, byvoorbeeld die Khoe het vyf (5) hoof groepe met verskeie onderafdelings. Inheemse volke is getalgewys minderhede in die bevolking en is ongeveer 5% van die land se totale bevolking. 

    NB: Ek hoor by sommige aktiviste dat die inheemse beweging in Suid-Afrika 'n herlewingsbeweging is. Kan jy meer daarvan vertel?

    LJ: Die apartheidsregering het die bevolking in vier (4) rasse verdeel: Wit, Swart, Asiaties, en Kleurling. Die laaste groep het almal ingesluit wat nie by die eerste drie kategorieë ingepas het nie. Hulle is kinders van huwelike en verhoudings oor die kleurgrens heen, afstammelinge van Maleise arbeiders wat deur Hollandse koloniste na die land gebring is, en die inheemse mense van Suid-Afrika. ''Kleurling'' was 'n afgedwonge identiteit en, alhoewel dit in 1994 mee weggedoen is, het dit in die wetgewing bly voortbestaan as gevolg van apartheid. Sommige inheemse mense in Suid-Afrika, veral dié wat daarin geslaag het om hul verbintenis met voorvaderlike gronde te behou, het daarin geslaag om hul identiteit te bewaar, terwyl ander totaal en al in hierdie Kleurling identiteit geassimileer is. Ná die African National Congress (ANC) in 1994 aan bewind gekom het, het hulle gesê Kleurlinge is nie Afrikane nie nadat ons mense saam met hulle die anti-apartheidstryd geveg het.

    NB: Hoe het jou familie hierdie proses ervaar?

    LJ: My pa het 'n DNS-toets gedoen en uitgevind sy herkoms is inheems. Hy het sy DNS-uitslae na my ouma geneem. My ouma het vir twee jaar nie met hom gepraat nie. Sy wou nie daaroor praat nie tot sy gereed was. Daar was soveel vrees - vrees vir die kerk, die gemeenskap, die owerhede - want sy was van daardie geslag wat die oorgang na die gedwonge Kleurling-identiteit beleef het. Herlewing spruit nou uit die Kleurling gemeenskap wat begin onthou. Dit is 'n traumatiese proses. 

    NB: Sedert die ondergang van apartheid was daar baie programme vir die ekonomiese bemagtiging van kwesbare gemeenskappe in Suid-Afrika. Hoe het hierdie programme inheemse volke bevoordeel?

    LJ: Ons het nie eintlik by ontwikkelingsprogramme baat gevind nie. Sommige van ons sterker groepe soos die Xrigua (Griekwa) en Nama wat 'n ononderbroke geskiedenis en verhouding met hul grond het, het toegang tot 'n paar programme. Dit weerspieël egter nie die breër prentjie nie; hulle is die uitsonderings eerder as die reël. Ontwikkelingsprojekte in Suid-Afrika word deur spesifieke wetgewing gedefinieer en daardie definisies stap verby die gebiede waar ons, inheemse mense, woon. Daar is 'n regsgrondslag vir die post-apartheid regering om inheemse volke van ontwikkelingsprogramme uit te sluit.  

    NB: Wat lê agter die regering se verwaarlosing van inheemse gemeenskappe?

    LJ: Om die redes hiervoor te verstaan sal ons 'n bietjie terug moet gaan. Wat besig is om in Suid-Afrika te gebeur is wat algemeen in Afrika gebeur. Europese kolonialisme het stamme ondersteun wat hoofsaaklik onbeweeglik was. Ons manier van grondbenut was nomadies, as jagters en voedselversamelaars, en was dus nie beskou as geldige maniere van grondbenutting en besetting nie. Ons leierskapstrukture was plat en nie patriargies nie. Kolonialiste het dus met ander stamme onderhandel en in hulle belê en hulle op hierdie wyse regdeur Afrika bemagtig. 

    NB: Wat het gebeur toe Afrika-lande onafhanklik word?

    LJ: Toe kolonialisme op 'n einde kom, was inheemse volke regoor Afrika nie polities so sterk soos ander stamme nie. Nou dra ons, inheemse mense, die gevolge van kolonialisme se nalatenskap. Ons het aasdiere op ons eie grond geword. Ons grond het niemandsland geword. Tydens die oorgang van die koloniale na die post-koloniale era het stamme wat polities sterk was hul eie doelwitte en prioriteite by die nasionale agenda ingesluit. Toe die oorgang plaasgevind het, was hulle polities sterker daartoe af om die voorwaardes van selfbeskikking te onderhandel, wat die Khoekhoe en Saan uitgesluit het. Maar, dis nie 'n unieke situasie nie; dis die geval vir jagter-versamelaars en nomadiese herders regoor Afrika. Hulle is op die rande van die samelewing. 

    NB: Wat van inheemse vroue? Hoe verskil hul situasie van vroue in die res van Suid-Afrika?

    LJ: Elke vrou in Suid-Afrika se lewe is 'n daaglikse stryd op verskillende vlakke. Hulle sien om na kinders, hulle moet geld maak om vir hul gesinne te sorg, en omstandighede is swak. Wat inheemse vroue se situasie anders maak is hul algemene onsigbaarheid. Daar bestaan nie iets soos 'n inheemse vrouebeweging in Suid-Afrika nie en in breër vrouebewegings is hulle nie sigbaar nie. Ons is 'n minderheid in sulke bewegings. Dit is dikwels nie opsetlike uitsluiting nie, maar ons word in elk geval daardeur geraak. 

    NB: Hoe sou jy die situasie van inheemse meisies en vroue beskryf?

    LJ: Ons skooluitsakkoers en syfers is hoër as dié van meerderheid gemeenskappe. Volgens konserwatiewe beraminge voltooi ongeveer 70% van inheemse leerlinge nie hul skoolopleiding nie. Baie inheemse meisies wil 'n goeie opvoeding hê en sukses behaal, maar in hul gemeenskappe is hulle omring deur dwelms en geweld, geweld in staatskole waar onderwysers nie regtig beheer het nie en waar hulle bang is vir leerlinge. Hulle ervaar ook hoë vlakke van geslag en seksuele geweld. Tienervroue word op redelike jong ouderdomme aan seksuele geweld blootgestel. Daar is redes hiervoor: die ontwrigting van inheemse opvoedingstelsels, patriargie, en die situasie met betrekking tot staatskole is erg problematies. Inheemse volke is dus oorverteenwoordig in tienerswangerskap statistieke. 

    Gesinsgeweld is ook 'n probleem. In plekke waar inheemse mense woon is fetale alkoholsindroom (FAS) ses keer hoër as die wêreld gemiddelde, 'n nalatenskap van die dopstelsel waar plaaswerkers 'n gedeelte van hul salaris in alkohol ontvang het, en sodoende alkoholisme onder hulle bevorder het.

    Dus, alhoewel inheemse tienervroue 'n goeie opvoeding wil hê en sukses wil behaal, is hulle in geweldadige gemeenskappe en omgewings wat daartoe bydra dat hul van plan verander en gevolglik onsigbaar word.   

    NB: Daar is tog sekerlik baie inspirerende stories van inheemse vroue?

    LJ: Wanneer inheemse vroue die kans kry doen hulle wonderlike dinge. Kyk vir Ouma Katrina, byvoorbeeld, wat jong kinders die N|uu taal leer, waarvan sy feitlik die enigste oorblywende spreker is. Of die saak van inheemse aktiviste, insluitende inheemse vroueleier, Chantal Revell, wat verlede jaar in die Grondwetlike Hof gedraai het. Voor die hof het hulle ons politieke stelsel uitgedaag sodat 'n gewone burger as 'n individu nou in die verkiesings kan meeding en nie net politieke partye nie. Dit is nogal 'n oorwinning! Of iemand soos my ma. Sy inspireer my altyd deur wat sy doen. Sy het as 'n Kleurling grootgeword en niemand het haar van plantkennis geleer nie, tog weet sy dit. Sy gebruik ons inheemse plante om mee gesond te maak en het my seun al baie gehelp. Daar is baie, baie inheemse vroue wat uitstekende dinge doen sodra hulle die kans kry.

    NB: Jy praat oor die onsigbaarheid van inheemse volke in Suid-Afrika en spesifiek die onsigbaarheid van inheemse vroue; wat dink jy moet gedoen word om hierdie onsigbaarheid te bekamp, of die situasie te verander?

    LJ: Tot onlangs nog het Suid-Afrika elf amptelike tale gehad. 'n Twaalfde taal is onlangs bekendgestel: gebaretaal. Maar nie inheemse tale nie. Dus, om jou vraag te beantwoord, die eerste ding wat gedoen moet word om onsigbaarheid te bekamp is om amptelike status aan ons inheemse tale te gee. My seun is vyftien jaar oud en vir vyftien jaar sukkel ek om hom onder sy inheemse naam te registreer. Sy naam is nou verengels en dit verander die betekenis van sy naam. Ons moes dit doen om sy geboorte te registreer en burgerskap te verseker.

    Tweedens, ons vroue staar baie stereotipes in die gesig. Ons word, byvoorbeeld, verkeerdelik bestempel as losbandig, en geweldadig. Dit gaan terug tot by Sara Baartman. Sy is ons simbool van lyding. Daar is instellings wat tot vandag aanhou om hierdie stereotipes te versprei. Dit moet ophou. 

    En dan, natuurlik, ons grond, ons reg tot ons grond moet aandag kry. Daar is hofuitsprake en wetgewing teen ons reg om ons grond te behou of wat ons verhinder om dit terug te eis. Ons is nie aan tafel by die grondhervormingsproses nie. Ons het nodig dat Suid-Afrika hulpbronne spesifiek vir ons ontwikkeling moet toewys. 

    NB: Sal jy 'n boek, rolprent of podcast aanbeveel vir diegene wat meer wil weet oor die inheemse volke en vroue van Suid-Afrika?

    LJ: Ek sal die film, Rooibos Restitution, voorstel oor 'n oorwinning waarby ek as prokureur betrokke was. Dit vertel van die stryd van die Khoe en Saan om deel van die voordele van die rooibosteebedryf op te eis omdat hierdie spesie deel van hul inheemse en tradisionele erfenis en kennis vorm. Ek stel ook die boek, Keeper of the Kumm deur die bekroonde Khoekhoe-joernalis, Sylvia Vollenhoven, voor. Sy was die filmmaker van Rooibos Restitution. Sylvia se boek is uitsonderlik want sy skryf soos inheemse mense dink. En, laastens, die boek, The Cultural Heritage of South Africa's Khoisan deur dr. Willa Boezak, een van ons inheemse historici. 

***

    Lesle Jansen is 'n Suid-Afrikaanse omgewingsprokureur en inheemse menseregte aktivis, 'n lid van die Working Group on Indigenous Populations / Communities in Africa vir die African Commission on Human and Peoples Rights. Sy behoort aan die inheemse Khoekhoe gemeenskap van Suid-Afrika en het 20-jaar van haar werkslewe toegewy aan die bevordering en beskerming van inheemse menseregte in Suid-Afrika, veral inheemse vroue.

    Hierdie artikel is geskryf deur Nikita Bulanin vir Debates Indígenas en vertaal deur Mûs ||Arebe vir die Nossob Xrup. Die foto hierby van Lesle Jansen is aanlyn verkry. Lees die oorspronklike onderhoud hier: https://debatesindigenas.org/ENG/ns/172-todays-south-africa-women-invisible.html?utm_source=Debates%20Indigenas&utm_campaign=a9a6c21038-EMAIL_CAMPAIGN_2020_03_13_05_42_COPY_01&utm_medium=email&utm_term=0_e2c337973d-a9a6c21038-450737940&fbclid=IwAR34WpynexxleTF4AMfdeMqGxGE74bJvLtozTSgxXWmK6VYvvAPSNGLXj50 

    Hier is 'n skakel om die film, Rooibos Restitution, te kyk op YouTube: https://www.youtube.com/watch?v=GrS9H11qmOk  

Opmerkings

  1. Dankie Lesley vir jou harde werk .Om ons mense te help

    AntwoordVee uit

Plaas 'n opmerking