Ju|'hoansi en !Xoo Vroue verkies Veld om Geboorte te Skenk

    deur Loide Jason 

    In Tsumkwe word jong Ju|'hoansi en !Xoo vroue word geleer om die pyn van natuurlike bevalling met moed en vreesloosheid die hoof te bied.

    Die meerderheid vroue van die Nyae Nyae Bewaringsgebied wat verlede week met New Era in die Tsumkwe-kiesafdeling gepraat het, sê hulle glo daaraan om in die veld geboorte te skenk en dit is die beste kulturele keuse vir hulle, ten spyte daarvan dat die regering 'n gesondheidsentrum in Tsumkwe gebou het.

    ||xoan Kx'ao, 'n ouderling wat vir die afgelope 40 jaar dié gemeenskap se vroedvrou is, sê jong vroue word aangemoedig om in die veld geboorte te skenk omdat die ervaring hulle leer om dapper en vreesloos te wees. 

    ''Ek het vyf kinders en almal is in die veld gebore. Daar was nie probleme nie en boonop is dit gratis. Ek raai vroue aan om hospitaal toe te gaan wanneer daar probleme is.''

    Kx'ao se twee dogters, Bē en ||usi |ai!ae, het albei geboorte in die veld geskenk met hul ma se bystand. 

    ''Vir die afgelope 40 jaar help ek jong en ouer vroue met hul babas se geboortes. Ek het geen sterftes in my tyd gehad nie. My kundigheid het ek by my ma en ouma geleer. Om in die veld geboorte te skenk is 'n goeie ervaring vir jong vroue om moederskap beter te verstaan en om te verhoed dat babas weggegooi word.''

    Nog 'n plaaslike vrou, ǂnisa Kx'ao, van die ǂnanihim nedersetting, het met haar saamgestem en gesê al vier haar kinders is ook in die veld gebore terwyl die gesondheidsentrum te Tsumkwe reeds aan die gang was. 

    ''Ek is bewus van die dienste wat die gesondheidsentrum aanbied, maar ek het nog steeds verkies om in die veld te kraam. Dit is aangenaam en gratis, en niemand kyk jou snaaks aan wanneer die pyne begin nie. Ons skenk in die veld geboorte en kom dan huis toe wanneer alles afgehandel is,'' het sy verduidelik. ''Daarna bly ons vir drie weke in 'n aparte kamer totdat ons heeltemal gesond is en dan gaan ons gesondheidsentrum toe vir 'n gesondheidskaart en om die geboorte te registreer.''

    ǂnisa is ook haar familielede en skoonfamilie se vroedvrou. 

    ''Om die pyn te verminder, smeer ek vaseline op die ma se maag en dan smeer ek die baba om saggies gebore te word en nie die ma soveel pyn te veroorsaak nie. Maar, as die baba te lank vat raai ek aan die vrou moet gesondheidsentrum toe gaan. Dit gebeur weinig want in die meeste gevalle verloop alles goed,'' het sy gesê.

    Sy het bygevoeg dat sy nuwe moeders help om geboorte te skenk deur net 'n paar honderd meter van hul nedersetting in die veld te hurk. 

    'n Ander vrou, 'n ma van agt, het trots gesê jong moeders moet aangemoedig word om in die veld te kraam want dit is hul kultuur. 

    ''My agt kinders is almal in die veld gebore. Dit is aangenaam en gesond. Al wat jy moet doen is om jou met soutwater te was en dan is jy reg om hospitaal toe te gaan vir die registrasie,'' het Di||xao Dam van die Doupos nedersetting gesê. 

    Sy het ook gesê dat afgesien van kulturele redes, is die afstand na die gesondheidsentrum een van die redes waarom sy in die veld gekraam het. 

    ''Ek woon in Doupos en het nie tyd om hospitaal toe te gaan nie want ons is afhanklik van veldkos. Ek kan nie Tsumkwe toe nie want ek het nie verblyf daar nie.''

    Die ander rede, sê sy, is krediet en lugtyd. 

    ''Ons het nie krediet en lugtyd om die ambulans te bel nie. Dinge is gejaagd in die dorp. Om nie tyd te mors nie gaan ek vinnig-vinnig in die veld in en dan kom ek terug na die ander kinders wat na 'n paar dae agter die baba sal moet kyk terwyl ek kos in die veld gaan soek,'' het Di||xao gesê. 

    'n Jong moeder, Tsi !o Debe, ook van Doupos, het vier jaar gelede geboorte geskenk en verwag nog 'n baba. Sy het op 21-jarige ouderdom in die veld aan haar eerste baba geboorte geskenk. 

    ''Ek het nie 'n goeie ervaring gehad nie want ek het baie bloed verloor. Ek het ook nie daarvan gehou toe die vroedvrou die naelstring met haar tande deurbyt nie en die nageboorte begrawe nie. Hierdie kind wat ek verwag sal in die hospitaal gebore word,'' het sy verduidelik. 

    Sy het ook gesê sy het gesien die vroedvroue besorg die nageboorte terug aan ''die Aarde''. Kx'ao, die vroedvrou, het verduidelik die nageboorte word begrawe om die baba aan die gebied en grond waar hy of sy gebore is te verbind en aan sy of haar stam. 

    ǂnisa Tsamkx'a van !ukurama het gesê vier van haar kinders is in die hospitaal en die vyfde is by die huis gebore omdat sy probleme tydens die bevalling ondervind het. Sy het gemengde gevoelens oor hospitaal-en veldgeboortes en sê daar is nie eintlik 'n verskil tussen die twee nie. 

    Hoofman Bobo Tsamkx'ao, die hoof van die Nyae Nyae Bewaringsgebied, het gesê hy moedig vroue aan om in die hospitaal te kraam ten spyte daarvan dat die meerderheid verkies om in die veld geboorte te skenk. 

    ''Nog iets wat vroue verhoed om hospitaal toe te gaan is die gebrek aan verblyf vir verwagtende vroue. As daar so iets in die omgewing was sou ons vroue makliker kan oortuig om hospitaal toe te gaan om hul babas op die westerse manier te kry,'' het Hoofman Tsamkx'ao gesê. 

    Hy het egter bygevoeg dat veld geboortes 'n goeie kulturele ervaring is vir jong vroue. 

    Timoteus Gebhardo, die direkteur van gesondheid in die Otjozondjupa streek, het bevestig dat die oorgrote meerderheid Sānvroue verkies om in die veld geboorte te skenk om verskillende redes insluitende hul kultuur, maar ook as gevolg van swak paaie, gebrek aan vervoer, en netwerkprobleme. 

    ''Dit is moeilik om hierdie mense te oortuig om gesondheidsentrum toe te kom. Ons het hulle al by verskeie geleenthede ingelig hoekom babas in die hospitaal gebore moet word maar omdat hulle jagters en voedselversamelaars is, trek hulle diep in die bos in op soek na veldkos wat soms net seisoenaal beskikbaar is, en dan word die babas gebore,'' het Gebhardo gesê. 

    Gebhardo sê ook dis moeilik om verwagtende Sānvroue te kontrolleer omdat hulle getrou opdaag vir voorgeboortesorg en behandeling maar nog steeds verkies om in die veld te kraam.

    ''Die hoofman maak 'n goeie punt in verband met verblyf maar as belanghebbendes moet ons eers hierdie mense opvoed oor die belangrikheid van verblyf in die hospitaal sodat daar nie verblyf gebou word wat nie benut sal word nie. Ons het uitreikprogramme in die verlede probeer maar wanneer dit hul seisoen is om kos te versamel is dit baie moeilik om hulle almal saam, op een plek, te kry. Dit is regtig moeilik,'' het hy verduidelik. 

    Gebhardo het bygevoeg Sān* vroue verkies om privaat te kraam, nie in openbare hospitale nie, en het hul eie spesiale manier (die hurk posisie) en kulturele gebruike (die nageboorte moet begrawe word) wat gedurende en na geboorte plaasvind en daarom is dit moeilik om hulle te oortuig om in hospitale te kraam. 

***

    Hierdie artikel is geskryf deur Loide Jason vir New Era-koerant. Die foto hierby van Ju|'hoansi vroue in Tsumkwe is geneem deur Tristan Taylor vir die Daily Maverick. Lees die oorspronklike artikel hier in die Ingels: https://neweralive.na/posts/san-women-prefer-bush-birth?fbclid=IwAR1NFXYARSFE2cWyMnWz7CogFIKLTiZ84WfgzY8arZtnN9pUfayVg93_4ZY 

Opmerkings