Khoekhoe ge ra |garube (Stories): “Ausa Xam'is Kom Kuier”

Een keer 'n jaar, sê die Kai Khoennet voor ||khūnab, die Reënseisoen, kom kuier Ausa Xam'is (Groot Suster Leeu) Khoekhoena om uit te vind hoe dit met hulle gaan. 
    Khoena weet sy is oppad want sy los vir hulle haar spoor, of wys vir hulle waar en wat sy geëet het, en sy groet hulle deur uit die berge met sonsopkoms en sonsondergang te brul.

    Daardie aand steek Khoena 'n groot vuur aan en dans en sing hulle om die vuur en vertel hulle vir Ausa Xam'is hoe dit met hulle gaan. “!gâi !oes Ausa Xam'is,” sing die voorsanger, “welkom by ons! Dis goed om van u te hoor! Hoe gaan dit met u?” 
    Dan klap Khoena hande en dit klink soos sagte reën op riet matte, en hulle slaan die goma, en fluit vir haar deur die riet, en hulle tik en streel die khoekhāb dat die kalbasse sing. “Vertel ons, Ausa Xam'is,” sing die tweede sanger, “waar oral was u? Rus hier by ons. Water is hier. Melk is hier. Room is hier. Botter is hier. Heuning is hier. Wat wil u hê?” 
    Dan klap Khoena hande en dit klink soos sagte reën op riet matte, en hulle slaan op die goma, en fluit vir haar deur die riet, en hulle tik en streel die khoekhāb dat die kalbasse sing. 
    Teen die tyd dat die son sak en die donker oor die Veld kruip en die Groot Ster aan die linkersy van die Liewe Maan lê, raak Ausa Xam'is se stem stil en dan luister sy na alles wat die Khoekhoen haar vertel. “Daar waar Olifant woon, Ausa Xam'is,” sing die hoofman, “waar die goman (beeste) moet wei,” vertel hy, “het ||gaunab (Bose Gees) die Water opgedrink en die Veld uitgedroog en het ons groot swaar gekry.” 
    Hy skud sy kop. “Pofadder en sy vrou was hoeka weg. Ons het riete in die riviersand gedruk en gesuig, gedruk en gesuig,” die goma raak sagter, “en gedruk en gesuig, maar ||gaunab het onder die sand die Water in sy mond gehou.” 
    Die riet fluit nou saggies en treurig op sy eie. Khoena lyk hartseer want hulle onthou. 
    Ons het in die rivier geloop, Ausa Xam'is, lank in die dik sand gestap tot waar die berg soos 'n maag bult en daar, in die skaduwee van die maag, het ons 'n nat kol in die sand gesien en die riete ingedruk en het ons Water uitgesuig. Ons het Water uit ||gaunab se mond gesuig.” 
    Prys Hom! Prys Tsû||Goab, die Rooi Sonsopkoms!” sing Khoena en kyk op na die Liewe Maan. “Die Oorwinnaar van ||gaunab!” 
    Ausa Xam'is is stil want sy luister. 
    Vertel ons, Ausa Xam'is,” sing die tweede sanger, “waar oral was u? Rus hier by ons. Water is hier. Melk is hier. Room is hier. Botter is hier. Heuning is hier. Wat wil u hê?” 
    Die hoofman word stil. Die heilige man staan op en die goma en die riet raak stil; net die khoekhāb sing saam met hom. 
    Ausa Xam'is,” sing hy, “toe ons met die goman trek het die Eersteling op 'n swart slang getrap. Die swart slang was kwaad, î. Hy het opgespring en omgeswaai om die Eersteling te byt, ama'e. Die Eersteling het uit sy pad gespring en die swart slang met sy kirib geslaan, î. Ek het gesien, ama'e.” 
    Die khoekhāb sing harder. “Ek het gesien, Ausa Xam'is,” sing die heilige man harder, “dat die swart slang die Eersteling ingewag het. Iemand het die swart slang op sy pad gestuur, Ausa Xam'is, ||gaunab wil die Eersteling hê.” 
    Dit is doodstil om die vuur toe die heilige man blare oor die vuur strooi en gaan sit. Die reuk van tabak en kruie styg op uit die vuur, spat uit die vonke, en sweef oor die Veld heen na die berge waar Ausa Xam'is sit en luister. Sy lig haar neus en ruik-ruik die vuur. 
    Ausa Xam'is,” sing Taras, die Eerste Vrou, “dankie dat u hier is. Hoe gaan dit met u kleintjies? Net 'n moeder sal my verstaan. Ons soek vrou vir die Eersteling. Sy moet van Man se neef se neef se mense wees.” Die eerste vrou begin skielik te huil. “Ons het gesoek, maar kan hulle nie kry nie, Ausa Xam'is! Ons het mense by die Grootrivier gevra maar niemand het Man se neef se neef se mense se voorste os, Groot Rooikop (Kai |apa Danab), gesien nie!” 
    Taras sit en huil saggies oor Man se neef se neef se mense wat hulle nie kan kry nie. 
    Ausa Xam'is,” sing 'n jong vrou met 'n baba in haar arms, “my tweede baba is op die Nuwe Maan gebore! Haar naam is |apís (Sagte Reën), soos my moeder. Ons is bly!” 
    Die goma praat nou hard, die khoekhāb sing hard, die riet se fluit klink op, Khoena klap hul hande soos reën wat stort op 'n riet mat. “Prys Hom! Prys Tsû||Goab, die Rooi Sonsopkoms!” sing Khoena en kyk op na die Liewe Maan. “Die Oorwinnaar van ||gaunab!” 
    Die kinders staan op. “Ausa Xam'is, Ausa Xam'is!” skree hulle opgewonde. “Toe ons by Kai Huritse (oseaan / see) was het Skilpad kamma 'n huis met groot wit vlerke op die water gesien dryf! 'n Huis met vlerke!” Hulle lag uitspattig. “Skilpad sien snaakse goed,” sing hulle soos een. 
    Ae, !gû! (loop!)” sê Skilpad kwaai en gaan sit. 
    Ausa Xam'is,” sing 'n jong man. “Ek loop heelagter, agter die laaste gomas (koei), en agter my loop jou familie, Auta Xam'i (Ou Leeu). Hy dink ek weet nie, maar ek het sy Geel Oog in die donker gesien blink. My Ta was ook agterloper. Toe hy jonk was het hy Auta Xam'i se broer doodgemaak en nou soek Auta Xam vir my want ek ruik soos my Ta. Auta Xam, ek is nie bang vir jou nie. Ek sal met jou soos Tsû||Goab met ||gaunab tot die dood baklei.” 
    Die goma klop hard, die khoekhāb sing hard, die riet fluit hard, Khoena klap hul hande soos reën wat stort op 'n riet mat. 
    'n Ouderling staan met moeite op. “Ausa Xam'is,” sing hy in 'n sagte, skor stem, “ons is bly u het kom kuier. Ek weet nie of ek u weer sal sien nie want my bene is moeg. Ek, Khoedo, Wildebees (Gaob) se seun se seun se seun, groet u vanaand. Vertel vir almal van my en moenie van my vergeet nie.” 
    Vertel, vertel, vertel!” sing Khoena toe hy sit. “Moenie van ons vergeet nie!” 
    'n Aandwind waai die liedjies, musiek, en stemme na Ausa Xam'is waar sy in die berge sit en luister. Hul stories dans op die maat van die goma, sing saam met die khoekhāb, fluit vir haar deur die riet. Dis hulle, haar mense, hulle praat só, hulle klink só. 
    Sy hoor elke verhaal en saam met die Rooidag is sy weg om die Diere en Voëls te vertel hoe dit met hul mens-familie gaan, en om hulle te vra om nooit van die Khoekhoen te vergeet nie.

    © Mûs ||arebē, 2022

***

Hierdie verhaal is geskryf deur mûs ||arebē en is die eiendom in die geheel van Namibia di Khoekhoen (ǂaakhoen, Daman, Hai||om, Naman, tsî !naro). Dit mag nie gestoor, vertoon, gepubliseer, kopieër word, of vir enige ander doel gebruik word, sonder erkenning aan die Khoekhoense mense nie. Dit is opgedra aan Kai ||gûb ||are Khoedob xu Kai !Garib dī ||areî|khāgua Namagua, en al sy geestelike en lewende nasate in Namibië, Botswana, en Suid-Afrika. Ons onthou U tesame met Ausa Xam'is en al die Diere en Voëls van die Veld. Die foto van 'n leeuwyfie op 'n rots teen skemer is aanlyn verkry van DepositPhotos.   

Opmerkings