Klassieke Khoekhoense Verhale: Die Een vir wie die Grond Inval en Verbrokkel

    deur Diê!kwain |xam (1875)

    Erdvark was angstig oor Rooikat omdat Rooikat aantreklik is en daarom het sy vir Rooikat mooi opgepas en versorg.

    Sy wou nie hê mans moes met Rooikat speel nie want Rooikat was haar hart se kind. Rooikat het saam met Erdvark na termietlarwes gesoek en dit is ook hoekom Erdvark nie wou hê mense moet met Rooikat speel nie.

    Die mense het daarvan gehou dat Rooikat die !kummi* speel. Hulle was lief vir Rooikat want sy kon die !kummi soet speel. 

    Erdvark het altyd haar kussing aan die punt van die !kummi se stok geplaas sodat die !kummi se soet klank by haar oor ingaan terwyl Rooikat speel. Rooikat kon die !kummi met gevoel speel.

    Erdvark wou nie hê Rooikat moes haar ooit verlaat nie oor hoe soet Rooikat die !kummi kon speel. Dis oor die mooi musiek dat sy nie wou hê Rooikat moes ooit weggaan nie. 

    Ook was Rooikat nie 'n groot eter nie.

    Erdvark wou ook nie hê dat Rooikat haar huis moet verlaat nie. Rooikat moes altyd by haar bly. Sy was angstig oor Rooikat en daarom het sy nie toegelaat dat mense met Rooikat speel nie.

    In die aande het sy na Rooikat se asemhaling gelê en luister terwyl Rooikat slaap. 

    Een aand kon Rooikat nie rustig lê nie. Ewe skielik het Erdvark die !kummi se snaar gehoor! Sy sê toe: 

    ''Smaak vir my ek het die !kummis gehoor.''

    Maar Rooikat sê vir Erdvark dat 'n stokkie teen die !kummi se snaar geslaan het toe sy haar omdraai. 

    Erdvark dink toe: ''Dit het nie vir my geklink asof 'n stokkie teen die !kummi se snaar slaan nie. Dit het geklink asof iemand die !kummi optel want 'n stokkie sou 'n sagte geluid gemaak het. Dit het geklink asof 'n man die !kummi optel. Ek sal luister of dit waar is dat 'n stokkie teen die !kummi se snaar geslaan het. Dit lyk vir my groot skade kom Rooikat se kant toe. Ek sal mooi luister om die waarheid uit te vind.''

    Toe raak Erdvark aan die slaap en terwyl sy slaap steel mense vir Rooikat.

    Erdvark het wakker geword en vir Rooikat gevra om teen Rooidag 'n bietjie op die !kummi te speel.

    ''Slaap jy vas dat jy my nie antwoord nie? Jy is dan altyd gewillig om die !kummi teen Rooidag te speel. Wat is fout dat jy nie vandag die !kummi wil speel nie? Jy het voorheen die !kummi helder oordag ook gespeel - 

    ''Ek wou mos sê dis die !kummi wat ek gisteraand gehoor het! Dis hoekom ek jou gisteraand geroep het, ||khā! Jy is moet weg! Ek sal die plek voel waarheen jy gegaan het.''

    Toe gaan Erdvark na die plek waar Rooikat geslaap het en sy voel-voel aan die grond waarop Rooikat gelê het om uit te vind waarheen sy is. Sy het na die grond geluister. Erdvark kon aanvoel hoedat die grond beweeg en vibreer, en sy sê: 

    ''Dit voel asof die Aarde onder die Grond* sag is.''

    Erdvark het nie geglo wat Rooikat die vorige aand gesê het oor 'n stokkie wat teen die !kummi se snaar slaan nie. Dit het nog nooit vantevore gebeur nie. Erdvark wonder toe watter soort ding sou veroorsaak dat 'n stokkie teen die !kummi se snaar slaan. 

    ''Dít is waarom sy só vir my gesê het,'' dink Erdvark. ''Sy kon seker aanvoel dat sy sou weggaan.''

    Erdvark sê toe weer: ''Ek sal onder die grond ingaan waar Rooikat geslaap het,'' en sy gaan onder die grond in. Toe woel sy onder die grond en sy voel die grond is sag. 'n Rukkie later sê sy: ''Nou skud en vibreer die grond.''

    Die mense wat vir Rooikat gesteel het, sê skielik: ''Die grond waarop ons loop vibreer nou. Wees op die uitkyk vir die Voël wat Onder die Grond Vlieg* want dis Erdvark. Sy wil 'n skielike opening in die grond veroorsaak om vir Rooikat in te sluk. Sy beweeg mos nie bo die grond sodat ons weet waar sy is nie. Kan julle voel die grond waarop ons loop beweeg?''

    Toe sê hulle: ''Slaan die plekke waar die grond sag lyk met 'n stok want Erdvark wil hê Rooikat moet onder die grond ingaan op Die Plek wat na Onder Lei*. Erdvark is Die Een vir wie die Grond Inval en Verbrokkel* op die plekke waar sy onder die grond beweeg. Dis hoe ons sal weet waarom dit gebeur wanneer dit gebeur. Sy is opsoek na Rooikat en daarom vibreer die grond waarop ons loop.'' 

    As gevolg van Die Een vir wie die Grond Inval en Verbrokkel, het die grond onder die mense ingeval en verbrokkel, en almal van hulle het ingeval en die grond het hulle bedek, en almal wat vir Rooikat gesteel het, het ondergronds gesterf. 

    Erdvark het vir Rooikat terug huis toe gelei en gewonder waarom die mense vir Rooikat gesteel het. Weet hulle dan nie Rooikat is haar hart se kind nie?

- || - 

!kummi - 'n Musiek instrument soos die singende jagboog, soms met 'n leë skilpaddop of kalbas aan een punt;

Aarde onder die Grond is die blyplek van verskillende diersoorte soos erdvarke / aardvarke (ook miervreters), ystervarke, slange, springhase, eekhorings, muishonde, en sommige voëls, vol inheemse, mitologiese betekenisAarde onder die Grond is volgens inheemse mitologie 'n wêreld op haar eie waar bogenoemde diere, geeste en voëls leef;

* Voël wat Onder die Grond Vlieg is die Swart Piek (ant-eating chat in Engels), 'n miervretende voëlspesie endemies aan Namibië, Botswana maar veral Suid-Afrika. Hierdie voël is uniek omdat dit in die ondergrondse gate van erdvarke, soms ook ystervarke, springhase en muishonde, sy broeineste maak en nie in bome nie. Dit het dus 'n goeie verhouding met veral erdvarke en daarom is Erdvark en Swart Piek, volgens inheemse mitologie, een en dieselfde wese wat van vorm kan wissel. Albei eet ook miere en termiete en verhoed laasgenoemde se oorbevolking in hul gebied (!xoe). Anders as die erdvark is die Swart Piek, wat net in sekere gebiede van suider Afrika woon, 'n bedreigde spesie as gevolg van westerse akkerbou-en boerderymetodes;

* Die Een vir wie die Grond Inval en Verbrokkel - Erdvarke / aardvarke (miervreters) is endemies aan sub-Sahara Afrika en het duisende verskillende inheemse name. Dit is die enigste oorlewende van die Tubulidentata spesie en is verwant aan olifante, plantetende walvisse (manatees in Engels), en dassies. Die erdvark is nie verwant aan varke nie maar, soos vroeër genoem, die enigste oorlewende van 'n prehistoriese spesie wat ongeveer 56 miljoen jaar gelede in Afrika ontstaan het, en in ondergrondse gate broei en woon. Die erdvark se herkoms is onbekend en hulle word as 'n ''geheimsinnige en raaiselagtige groep soogdiere'' beskryf. Erdvarke is nagdiere met baie goeie gehoor maar baie swak sig. Hulle maak staat op hul lang, sensitiewe snoete en groot ore om kos in die donker te vind. Volgens inheemse Khoekhoense mitologie wissel erdvarke vorm met die Swart Piek wat beteken erdvarke beskik oor toorkrag. 

    Hierdie betowerende verhaal is opgedra ter nagedagtenis aan die |xam Khoena en hul taal wat tydens kolonialisme in Suid-Afrika (1652 - 1994) uitgesterf het. 

Kai aiôs                

Opmerkings