Inheemse Weerstand in Duits-Suidwes-Afrika (DSWA): Januarie, 1904

    Inheemse Verset bereik 'n Hoogtepunt: 1904 - 1906

    Januarie, 1904     

  • Tydens Theodor Gotthilf Leutwein se ampstermyn as goewerneur van Duits-Suidwes-Afrika (DSWA) is ses (6) ''blankes'' deur ''swartes'' vermoor. Vyftien (15) doodsvonnisse is opgelê. Daarna is vyf (5) ''swartes'' deur ''blankes'' vermoor. Die moordenaars ontvang tronkstraf van tussen drie (3) maande en vyf (5) en 'n half jaar.
  • Die eerste petrol-aangedrewe vragmotor kom aan per skip.
  • Conrad Rust van die plaas, Monte Christo, stig die Windhuker Nachrichten koerant na die stigting van die Windhoek distriksvereniging in Junie, 1903. 
  • Die hoofposkantoor in Windhoek se gebou is voltooi. 
  • Richard Rathke verken die hele Caprivi-strook.
  • Koning Ueyulu ya Hedimbi van die Kwanyama sterf. Sy opvolger is Koning Nande (1904 - 1911).
  • In Angola val die Portugese inheemse krygers uit die Ombandja-streek suid van die Kunene-rivier aan. Verskeie gevegte vind plaas by Omwandiwoshivandje, Ouhekeweengheghe, Omakhungu, en by Evelo la Pembe. In 1904 vorm die Ombandja-koning, Shihetekela Hiudulu, 'n koalisie met die Uukwambi, Ombalantu, Uukwaluudhi en Ongandjera Owambo-gemeenskappe teen die Portugese. 'n Reeks gevegte tussen die Ombandja-Owambo koalisie en die Portugese vind plaas by Onhundayevale (1904), Eloveya la Nanghanga, Omufilu, Omukoyimo, Omufito uaNdeiteja, Oda yanangeda en Onangovo (1907). Nadat die Portugese die Ombandja-Owambo koalisie oorrompel het, trek Koning Shihetekela na die Uukwanyama-gebied by Ombuba yomanyoshe om nóg weerstand teen die Portugese te organiseer. Sy verhouding met die Uukwanyama-koning, Ueyulu ya Hedimbi, en sy opvolger, Nande, was egter nie goed nie.
  • Die Rooms-Katolieke kerk koop die Döbra-landgoed naby Windhoek.
  • Die Rynse sendeling, Wilhelm Eich, word die hoof van die Herero-sending tot 1910, en weer vanaf 1919 tot 1925. 
  • Die Outjo-handelaar, Richard Rothe, besoek die Caprivi-strook om die mynbou-en handelspotensiaal van die gebied te verken. Hy besoek ook vir Mamili van die Fwe-gebied in Sangwali en Linyanti langs die Tjobe-rivier. 
  • Die mangaanertsafsetting by Otjosondu word ontdek. Geen mangaan word egter vóór die Eerste Wêreldoorlog daar ontgin nie. 
  • Daar is 54 weerstasies in die Schutzgebiet (''beskermde gebied''). 
    11 Januarie, 1904     

    Samuel Maharero (foto links) beveel alle Ovaherero-leiers om wapens op te neem teen die Duitsers. 

    ''Ek is die opperhoof, Samuel Maharero. Ek het 'n Wet en die Regte Woord verorden, en beveel dit vir al my mense dat hulle nie hande op die volgende mag lê nie: Basters, Bergdamara, Nama en Boere. Ons lê nie ons hande op enige van hierdie nie. Ek het 'n eed afgelê dat hierdie saak nie geopenbaar moet word nie, nie eers aan die sendelinge nie.''

    Die Ovaherero-leier, Daniel Kariko, het later bevestig die Ovaherero was beopdrag om ook Duitse vroue, kinders en sendelinge te spaar: 

    ''Op ons geheime vergaderings het ons hoofmanne besluit om die lewens van alle Duitse vroue en kinders te spaar. Die sendelinge moet ook gespaar word.''

    Daar bestaan egter twyfel oor Maharero se brief se datum aangesien die datum op die brief later deur Duitse sendelinge ingeskryf is. Dit is moontlik die brief is ongeveer die 20ste Januarie, 1904, geskryf.

    Samuel Maharero versoek die Basters onder Hermanus van Wyk en die Nama onder Hendrik Witbooi om deel te wees van die stryd. Hy rig twee (2) briewe aan Witbooi wat hom egter nooit bereik nie. Van Wyk is nie gewillig om Samuel Maharero te ondersteun nie en oorhandig die briewe wat aan Hendrik Witbooi gerig is aan die Duitsers. Maharero skryf aan Van Wyk: 

    ''Verder wil ek jou meedeel, Kaptein, dat dit my wens is dat ons swak nasies saam teen die Duitsers moet opstaan, kom ons verpletter hulle liewer... Niks anders sal ons help nie.'' 

    In sy eerste brief aan Witbooi skryf Maharero: 

    ''Ek maak dit aan jou bekend dat die wit mense hul vrede met my verbreek het...en ons moet doen wat ons kan vir ons deel...''

    In sy tweede brief aan Witbooi skryf Maharero: 

    ''Kom ons sterf eerder saam terwyl ons veg en nie as gevolg van mishandeling, gevangenisstraf of op enige ander manier nie. Maak dit verder aan al die kapteins daar onder bekend dat hulle moet opstaan en werk...'' 

    Hierdie drie (3) briewe is egter eers ná die uitbreek van die oorlog geskryf en kan nie as bewyse van oorlogsplanne aan die Ovaherero se kant nie gebruik word nie. 

    Daar is 'n aantal Ovaherero wat aan die Duitse kant veg. Hulle is in diens van die Schutztruppe as wadrywers, arbeiders, skaapwagters, bamboes (bediendes), selfs aktief aan diens met wapens. Baie van die Ovaherero het hierdie verhouding met die Duitsers voortgesit selfs ná die uitbreek van die oorlog en het aan die Duitse kant geval. 

    Gustav Duft probeer vergeefs om met Samuel Maharero in Okahandja te onderhandel. Maharero bly tans in Osona saam met Assa Riarua. Die Ovaherero-leier, Uandja, stem in om met Duft te praat maar glo net om tyd te koop. 

    Die Gobabis-Daman ondersteun die Ovaherero in hul stryd teen die Duitsers.

    12 Januarie, 1904

    Die eerste skote word in Okahandja afgevuur. Dit is egter nie duidelik wie eerste gevuur het nie, die Duitsers of die Ovaherero, alhoewel die Duitse sendeling, Diehl, later in 'n berig skryf die Duitsers het op sy huis geskiet, nie die Ovaherero nie. 

    Opstande brei uit oor die hele Hereroland.

    123 Duitsers sterf in die eerste dae van die opstand, onder hulle dertien (13) soldate, sewe (7) Boere, en vyf (5) vroue. Handelsgoedere en beeste word gesteel, infrastruktuur soos spoorweë, brûe, geboue en eiendom word vernietig hoofsaaklik in die driehoek tussen Okahandja, Karibib en Omaruru. 

    Die redes vir die opstand is soos volg: toenemende grondverlies onder die Ovaherero aan Duitse setlaars, die Duitse beleid van ''inheemse reservate'', die doen en late van Europese handelaars, toenemende skuld, voorvalle van verkragting van Ovaherero-vroue wat ongestraf bly, die bou van die Otavi-spoorlyn deur O. M. E. G. (Otavi Minen-und Eisenbahn Gesellschaft), doodsdreigemente teen Samuel Maharero deur Okahandja se distrikshoof, Zürn. 

    Die sendeling, Carl Wandres, berig in Gustav Duft se verklaring: 

    ''As Zürn nie in Okahandja was nie, was dinge heeltemal anders.''

    Weens sy uitlokkende gedrag, is Zürn gedreig met die Duitse krygshof wat toe nie gebeur het soos die oorlog gevorder het nie. Nog 'n rede was Maharero, Assa Riarua en Theodor Leutwein se afwesigheid van Okahandja. 

    Die wilde gerugte onder die setlaars en die Schutztruppe het ook tot die Ovaherero-opstand bygedra. Vroeg in Januarie was daar, byvoorbeeld, geen aanduidings van opstand nie.

    Kurt Streitwolf het berig hy het vir Traugott Tjetjo (Kandji Tjetjo se seun) op die 6de Januarie, 1904, in Gobabis ontmoet en het geen tekens van oorlog of voorbereiding gesien nie. By Waterberg het Sersant G. Rademacher en die sendeling, Wilhelm Eich, op ontstellende berigte van Else Sonnenberg gereageer, wie se man, die handelaar, Gustav Sonnenberg, onlangs nog met David Kambazembi, die Ovaherero-leier by die Waterberg, oor die Ovaherero se toenemende skuld gepraat het. Rademacher en Eich vind niks buitengewoon nie behalwe dat Kambazembi besig is om voorbereidings te tref om vir Uandja in Otjikururume te besoek.

    Aangesien hy nie Samuel Maharero se briewe ontvang het nie, ondersteun Hendrik Witbooi aanvanklik die Duitsers. In Oktober, 1904, draai Witbooi egter teen die Duitsers as gevolg van die Duitsers se genadelose uitwissingsbeleid teenoor die Ovaherero en ander inheemse Namibiese gemeenskappe, veral ná die Slag van Waterberg.

    Leutwein merk later op dat die Ovaherero-opstand vir die meeste setlaars en sendelinge 'n totale verrassing was. 

    Troepversterkings uit Duitsland was aanvanklik stadig. Op die ou end was daar 14,000 Duitse soldate in die Schutzgebiet, waarvan 1,500 gesterf het. Die oorlog kos die Duitse belastingbetaler GM585 miljoen (Goldmark). 

    Aan die Ovaherero se kant is die oorlog ongeorganiseerd en blykbaar sonder koördinering. Die opstande breek op verskillende plekke en tye uit: op Okahandja op die 12de Januarie, Omaruru die 17de Januarie, en Otjimbingwe die 23ste Januarie, 1904. 

    Nuwe navorsing het bewys die Ovaherero het nie die oorlog beplan óf voorsiening daarvoor gemaak nie. So, byvoorbeeld, het hulle in die eerste paar weke nie van hul militêre meerderheid gebruik gemaak nie, maar het hulle van sentraal Duits-Suidwes-Afrika (DSWA) onttrek om voor te berei vir onderhandelinge met die Duitsers, en dit terwyl Leutwein afwesig was. Ongelukkig was die Duitsers nie bereid om met die Ovaherero te onderhandel nie.

    Gustav Duft en die Duitse beampte, Maass, probeer weer met die Ovaherero onderhandel, maar word gewaarsku om by die fort in Okahandja te bly. Eers ná hierdie waarskuwing breek die opstand in Okahandja uit.

    13 Januarie, 1904

    Duitse soldate uit Windhoek onder bevel van Luitenant Boysen en Luitenant Voigts probeer om vir Okahandja per treinspoor te bereik maar word deur die Ovaherero teruggedryf. Boysen en ses (6) ander soldate sterf. 

    'n Pantsertrein onder bevel van Luitenant Theodor Kurt Hartwig von Zülow verlaat Swakopmund na die beleërde Okahandja. Die Waldau-treinstasie is gesluit. 

    14 Januarie, 1904

    Die Ovaherero vernietig die poskantore op Waldau en Waterberg. 

    Geweld breek uit op Omarasa, noord van Waterberg. 

    Die Ovaherero verower die militêre pos te Waterberg.

    Samuel Maharero laat die sendeling, Wilhelm Eich, en 'n klein groepie Duitse vroue en kinders toe om Waterberg te verlaat vir Okahandja, waar hulle eers op 9 April, 1904, aankom. 

    Ovaherero-leiers soos Michael Tjiseseta, Uandja, Assa Riarua en David Kamabazembi stem saam om die Ovaherero uit die sentrale dele van die land te onttrek. 

    15 Januarie, 1904

    Kurt Streitwolf raak betrokke by 'n geveg te Oparakane. 

    Luitenant Theodor Kurt Hartwig von Zülow se pantsertrein uit Swakopmund bereik vir Okahandja nadat die gedeeltelik vernietigde spoorlyn tussen Waldau en Okahandja voorlopig herstel is. 

    Luitenant Franke, uit Gibeon, kom aan in Windhoek om die beleërde dorpe, Okahandja en Omaruru, te bevry. 

    16 Januarie, 1904

    Gobabis word aangeval. 

    'n Duitse maatskappy van Outjo word in Okanjande, naby Otjiwarongo, in 'n lokval gelei. 

    17 Januarie, 1904

    Die Ovaherero van Omaruru onder leiding van Michael Tjiseseta neem die stryd teen die Duitsers op. 

    18 Januarie, 1904

    Die Duitse oorlogskip, die Habicht, kom in Swakopmund aan met vars Duitse soldate wat dadelik die binneland invaar onder bevel van Luitenant Hans Gygas.

    Die Ovaherero in Grootfontein onder bevel van Batona ly 'n nederlaag.

    19 Januarie, 1904

    Die Ovaherero beset die militêre pos te Otjituuo. 

    Duitse troepe uit Grootfontein herower die Otavi militêre pos. 

    Luitenant Theodor Kurt Hartwig von Zülow probeer vanaf Okahandja deur die Ovaherero te breek na Windhoek maar kom net so ver soos Osona waar hy met die Ovaherero in 'n geveg betrokke raak.

    20 Januarie, 1904

    Duitse troepe probeer die treinspoor tussen Waldau en Karibib herstel. 

    Die eerste Ovaherero krygsgevangenis, met ander woorde alle Ovaherero wat in Swakopmund woon, word bymekaar gemaak, gevange geneem en op die Eduard Bohlen skip aangehou. Omdat hulle nie weet wat om met hulle te doen nie, besluit die Duitse owerhede om hulle aan Suid-Afrikaanse myne op die Witwatersrand te oorhandig vir dwangarbeid. 

    21 Januarie, 1904

    Duitse soldate onder bevel van Luitenant Alfred Maul ruk op na die plaas, Hoffnung, oos van Windhoek. 

    22 Januarie, 1904

    Duitse troepe onder bevel van Luitenant von Niewitecki herower die militêre poste te Seeis, Hohewarte en Hatsamas. 

    Luitenant Franke verslaan die Ovaherero in die Slag van Teufelsbach, noord van Windhoek. 

    23 Januarie, 1904

    Die Ovaherero van Otjimbingwe onder bevel van Zacharias Zeraua tree toe tot die geveg. 

    Samuel Maharero probeer vergeefs om die Owambo by die oorlog te betrek. Die Finse sendeling, Albin Savola, berig dat 'n Ovaherero-verteenwoordiger die ondersteuning van Koning Kambonde kaMpingana in die Ondonga-streek soek. Savola slaag egter daarin om die Owambo te oortuig om neutraal te bly. 

    Die uitsondering is Koning Nehale se aanval op Namutoni op die 28ste Januarie, 1904. 

    27 Januarie, 1904

    Theodor Leutwein sluit die Vredesverdrag van Kalkfontein met die Bondelswarts Nama om 'n tweefrontoorlog in die noorde en suide te vermy. Von Fiedler oorsien die bepalinge van die vredesverdrag. Von Heydebreck het dieselfde opdrag en taak in die Groot Karasberge. Ingevolge die vredesverdrag moet die Bondelswarts hul wapens aan die Duitsers oorhandig. 

    Von Heydebreck marsjeer dan noordwaarts en ontwapen die Kai||Khaun Nama onder Manasseh !Noreseb van !hoaxa!nâs wat van plan is om die Ovaherero te help. Die Duitsers stasioneer 'n sterk peloton soldate by !hoaxa!nâs. Die Kai||Khaun het later by Hendrik Witbooi aangesluit teen die Duitsers. Ná die nederlaag deel hulle die lot van baie inheemse Namibiese gemeenskappe: hul groepstruktuur is vernietig en al hul gemeenskaplike gronde en vee is afgevat. !hoaxa!nâs hou op bestaan as 'n Nama middelpunt. 

    28 Januarie, 1904

    500 Owambo krygers onder bevel van Koning Nehale van Ondonga val die fort by Namutoni aan. 

    Die sewe (7) Duitse soldate by die Namutoni-fort onder bevel van Veldmaarskalk Großmann vlug gedurende die nag deur Nagusib na Tsumeb. Oppad word hulle deur 'n Duitse patrollie opgelaai wat uit Grootfontein deur Oberleutenant Volkmann gestuur is. 

    Nehale se krygers vernietig die fort by Namutoni. 

***

    Bogenoemde is verbatim vertaal van Dokument 61-1904 (slegs Januarie) wat oorspronklik saamgestel en geskryf is deur oorlede Dr. Karl Otto Ludwig Klaus Dierks (1936 - 2005), 'n Duitssprekende Namibiër, voormalige minister, vervoerbeplanner en siviele ingenieur. Die volledige dokument van 1904 deur Dr. Dierks kan hier gelees word: https://www.klausdierks.com/Geschichte/61.htm

Foto 1: Ovaherero-opperhoof, Samuel Maharero, seun van Maharero kaTjamuaha

Foto 2: Een Ovaherero gesin en familie in Duits-Suidwes-Afrika

Foto 3: Die Eduard Bohlen skip

Die vertaling in Afrikaans is behartig deur Mûs ||Arebē vir die Nossob Xrup: nossobgroep@gmail.com

Opmerkings