Inheemse Weerstand in Duits-Suidwes-Afrika (DSWA): Julie - Desember, 1904

    Inheemse Verset bereik 'n Hoogtepunt: 1904 - 1906

    Julie, 1904

  • Die bou van 'n telefoonlyn langs die Otavi-treinspoor begin te Swakopmund.
  • Samuel Maharero beset Otjozondjupa (''Waterberg'') teenaan die Hamakari-rivier (''droë rivier''). 
  • Michael Tjiseseta vestig op Omuverume (of Omuveroume wat ''hek'' beteken) tussen Groot en Klein Waterberg.

    5 Julie, 1904

    Die poskantoor te Owikokorero heropen. Owikokorero is nou ook 'n Duitse militêre hoofkwartier.

    14 Julie, 1904

    'n Vergoedingskommissie onder die voorsitterskap van hoofregter Richter (Paul Rohrbach is sy opvolger) word amptelik gestig. Die kommissie lede is Kaufmann Nitzsche, Walther Mittelstädt (van die plaas Elisenheim) en Hermann Rust van Ondekaremba. Onopgeloste verskille tussen Rohrbach en goewerneur Von Lindequist lei egter daartoe dat Rohrbach die Schutzgebiet (''beskermde gebied'') in Desember, 1906, verlaat.


    Augustus, 1904

    4 Augustus, 1904

    'n Ooreenkoms word met O. M. E. G. (Otavi Minen-und Eisenbahn Gesellschaft) bereik om die bou van die Otavi-treinspoor na Omaruru te bespoedig. 

    Terwyl Samuel Maharero en die Ovaherero by Otjozondjupa wag om met die Duitsers te onderhandel beplan die Duitse weermag die Slag van Waterberg. Luitenant von Estorff en sy leër beplan om by Otjahewita te wees, Hermann Sigismund von der Heyde en sy troepe sal by Omutjatjeira wees, Müller se soldate by Erindi-Ongoahere, Von Fiedler se troepe by Orupemparora, en Volkmann se troepe by Otjenga. 

    6 Augustus, 1904

    Hosea Katjiururume Kutako verslaan 'n patrollie onder bevel van Luitenant Hans von Bodenhausen in 'n geveg tussen die Waterberg en Osondjache. Kutako is later gewond en gevange gehou op Omaruru waar hy daarin slaag om te ontsnap. Ná 1907 was hy vir 'n ruk lank 'n onderwyser vir die Rynse Sendinggenootskap en toe later 'n werker by die Tsumeb-myn. 

    8 Augustus, 1904

    'n Poskantoor word in Abbabis, suidwes van Karibib, geopen. 

    10 Augustus, 1904

    By sy hoofkwartier in Ombuatjipiro, beplan Von Trotha 'n beslissende stryd teen die Ovaherero. Hy besluit op die volgende formasie vir die Duitse troepe: Von Estorff se soldate sal by Okomomiparum wees, Von der Heyde se soldate sal 15 km noordoos van Ohamakari (Hamakari) wees, Müller se soldate moet by Ombuatjipiro wees, Von Fiedler se soldate moet by Osondjache-berg wees, en Volkmann se soldate by Otjenga. 

    11 Augustus, 1904

    Die Slag van Waterberg begin. (Dit staan ook bekend as die Slag van Ohamakari) Die gevegte vind hoofsaaklik suidoos van Waterberg plaas, op Klein Hamakari en Ohamakari (plase vandag). 

    Verliese aan albei kante is groot. Die swaarste gevegte, met die meeste sterftes, vind plaas by die Hamakari-watergat. 

    Die Duitse troepe onder Von Trotha by Ombuatjipiro vorder na Omuveroume. 

    Von der Heyde val die Ovaherero vanaf Okakarara, oos van Hamakari, aan. 

    Von Estorff val die Ovaherero by Otjosongombe aan. 

    Die ander beplande Duitse aanvalle op die Ovaherero misluk daardie dag. Von Deimling slaag nie daarin om die Ovaherero te omsingel en te vernietig soos Von Trotha beplan het nie. 

    12 Augustus, 1904

    Vroeg in die oggend verslaan Von Estorff die Ovaherero by Otjosongombe. 

    Von Deimling se soldate vorder na Hamakari. 

    Die Ovaherero begin vlug suidooswaarts na die Omaheke (Kalahari). 

    'n Duitse militêre berig lui later: 

    ''Hierdie gewaagde onderneming is bewyse van die genadelose energie van die Duitse militêre leierskap om 'n verslane vyand helder oordag agterna te sit. Geen moeite, geen ontbering is ontsien om die vyand van die laaste stuk van sy verset te beroof nie: Hy is van watergat na watergat gejaag, dood gejag, totdat hy uiteindelik 'n hulpelose slagoffer van die natuur van sy eie land geword het. Die Omaheke moes voltooi wat die Duitse wapens begin het: die uitwissing van die Herero-volk.'' 

    Duitse soldate begrawe gesneuwelde Ovaherero op Hamakari (Ongwero). 

    13 Augustus, 1904

    Soldate onder Von Deimling en Von Mühlenfels agtervolg die Ovaherero in die rigting van Omutjatiewa. 

    Hul agtervolging van die Ovaherero word vir 'n dag lank uitgestel en red Samuel Maharero se lewe aangesien die Duitse soldate nie later daardie voorsprong kon inhaal nie. 

    'n Tragiese situasie ontwikkel: 'n hele nasie is opvlug sonder kos en water. 

    Duitse soldate vorder tot by Ombujo-Wakune. Samuel Maharero bereik Erindi-Endeka se watergate. 

    15 Augustus, 1904

    Von Estorff en Von der Heyde keer dat die Ovaherero tydens die Slag van Omatupa deurbreek na die noordooste. 

    16 Augustus, 1904

    Von Trotha kondig nuwe planne aan om te verhoed dat die Ovaherero hulle ooit weer in die Schutzgebiet vestig. Om hierdie doelwit te bereik, beplan die Duitsers om die Omaheke af te sluit in 'n lyn wat van Otjimanangombe deur Epata, Otjosondu en Osondema na Otjituuo loop. Von Trotha se plan word egter nie verwesenlik nie. 

    30 Augustus, 1904

    Witbooi-soldate wat vrees dat hulle soos die Ovaherero deur die Duitsers behandel sal word vlug na Gibeon met hul wapens. Die oorblywende Witbooi-soldate word deur die Duitsers ontwapen, gevange geneem, en na die Duitse kolonies van Kameroen en Togo gedeporteer waar die meeste sterf. Dit is een van die redes waarom Hendrik Witbooi wapens teen die Duitsers opneem. 

    Nama onder bevel van Jakob Marengo neem die stryd teen die Duitsers op. Die eerste geveg van die Nama se oorlog van verset teen die Duitse koloniale bewind vind plaas by die Slag van ||Khauxa!nâs (Kouchanas). Die Duitse bevelvoerder, Nikolai von Stempel, en al sy soldate word gedood.

    September, 1904

    Die oorlewende Ovaherero kom noord van Okahandja bymekaar tussen die omurambas (rivierbeddings) van die Omatako en Haiseb (Eiseb) riviere. Vandaar vlug hulle deur Otjinene, Epata, Osombo-Widimbe (Ozombo ya Windimbe) en Erindi-Ombahe. Hul pad volg die loop van die Haiseb (Eiseb). 

    Zacharias Zeraua van Otjimbingwe bevestig later dat Samuel Maharero van Okahandja, Banjo van Otjombonde, David en Salatiel Kambazembi van Waterberg (Otjozondjupa), Uandja van Otjikururume, Kayata van Otjihaenena, Michael Tjiseseta van Omaruru, Katjahingi en Assa Riarua by die Haiseb (Eiseb) ontmoet het. Mambo en Tjetjo was ook by die Haiseb (Eiseb) en by die Otjinene-en Epata-watergate. 

    2 September, 1904

    Von Estorff se soldate val die Owinauanaua-watergat aan en verdryf die Ovaherero onder Mambo en Tjetjo. Die Ovaherero vlug verder ooswaarts na Britse Betsjoeanaland. 

    Tjetjo sterf van dors naby die Oruaromunjo-watergat. Mambo sterf as gevolg van uitputting. 

    'n Handjievol Ovaherero wat voort vlug sonder water bereik Betsjoeanaland. Dit is die tweede golf Ovaherero wat na Betsjoeanaland vlug ná die Ovambanderu-oorlog in 1896 (met verwysing na Kahimemua Nguvauva).

    Baie van die Ovaherero vlug noord na die Owambo-koninkryke. Daniel Kariko van die Ovaherero by Okombahe het na Tshaanika Tsha Natshilongo gevlug nadat hy eers saam met sy volgelinge na Britse Walvisbaai gevlug het. Kariko het later na Suid-Afrika gevlug. 

    Op hul noordwaartse vlug het sommige van die Ovaherero geweldadig gebots met die Hai||om Sa'an groep onder bevel van die Hai||om leier, Arisib. Ovaherero het in gevegte met die Hai||om naby Namutoni gesterf. Die Ondonga-koning, Nehale, het later beveel dat Arisib vermoor moet word. 

    Ander Ovaherero vlug na die Kaokoveld, en na die Kavango (in die droë riviere suid van die Okavango-rivier) deur die Uukwangali-koning, Himarua, se gebied al langs die droë Dikundu-rivier naby Andara tot in Angola na Fort Dirico en die Gciriku-gebied. 

    Sommige vlug na Shakawe in die noorde van Betsjoeanaland en die Caprivi-strook, na Kabulabula op die Tjobe-rivier. Nóg Ovaherero kry dit reg om verby Duitse versperrings in die binneland te glip en terug te keer na die sentrale Schutzgebiet, veral die |Khomas-hoogland en die Kuisebrivier. 

    4 September, 1904

    Jakob Marengo is in gevegte met Duitse soldate onder bevel van Majoor Julius von Lengerke by Garabis en daarna by Platbeen. Een van Marengo se ''wit'' bondgenote is George St. Leger Lennox (ook bekend as ''Scotty Smith'').

    21 September, 1904

    'n Geveg tussen Marengo en Duitsers vind plaas by Gais (Geis) noord van Kanus met baie Duitse sterftes. 

    23 September, 1904

    Von Estorff vra vir Von Trotha om met die Ovaherero te onderhandel. Von Trotha verwerp sy versoek. 

    30 September, 1904

    Von Trotha besluit om tydelik daarmee op te hou om die Ovaherero te jaag.


    Oktober, 1904

    1 Oktober, 1904

    Ná die Slag van Waterberg en die gebeure in die noorde, is Hendrik Witbooi vasbeslote om teen die Duitsers op te staan. Ter voorbereiding op die Nama se oorlog van verset, skryf hy aan al die leiers in Namaland: 

    ''Ek stuur vir julle hierdie brief en laat weet dat ek, soos julle weet, onder die Wet (van die Duitsers) was en in die Wet geloop het, en agter die Wet aan, vir 'n lang tyd, en ons almal, met gehoorsaamheid, maar met die hoop en verwagting dat die Here God dit op sy tyd sal voorsien om ons te verlos van die moeitevolle arbeid van hierdie wêreld. Tot dusver het ek met vrede en geduld verdra en alles wat my hart verdruk laat verbygaan, want ek hoop op die Here.'' 

    2 Oktober, 1904

    Lothar von Trotha reik 'n uitwissingsbevel uit: 

    ''Hereros is nie meer Duitse onderdane nie. Hulle het gewonde Duitse soldate vermoor en hul ore en neuse en ander liggaamsdele afgesny, en wil nou nie meer uit lafhartigheid veg nie. ...Die Herero-mense moet die land verlaat. As hulle dit nie doen nie, sal ek hulle dwing om dit te doen met die groot pyp (kanon). Binne die Duitse grens sal elke Herero, met of sonder 'n geweer, met of sonder beeste, geskiet word. Ek sal nie meer vroue en kinders inneem nie; dryf hulle terug na hulle mense of skiet op hulle. Dit is my woorde aan die Herero-mense.''

    Met sonsopkoms die volgende dag word 'n aantal Ovaherero krygsgevangenis in die openbaar in die teenwoordigheid van vroue en kinders opgehang nadat hulle deur 'n Duitse krygshof ter dood veroordeel is. Na dié openbare teregstelling, word Von Trotha se proklamasie oor die Ovaherero voorgelees. 

    Von Trotha se proklamasie skep die regsgrondslag vir die toekomstige behandeling van die Ovaherero, wat sedert Januarie 1904 egter algemene praktyk in die Schutzgebiet was na aanleiding van talle dagboekinskrywings deur Duitse Schutztruppen. Kaptein Victor Franke skryf: 

    ''27.02 (Otjihinamaparero) 'n Gewonde man word ingebring met 'n verskriklike stukkende been. Ten spyte hiervan jaag die man nie eers die vlieë van die aaklige klomp vleis weg nie. Hy word ondervra en dan geskiet. Von Arnim doen dit baie goed. Laat hom skiet van agter op 'n oomblik wanneer die ongelukkige niks vermoed nie.''

    H. F. R. Knoke skryf: ''Ons het vier van die vyf Ovaherero-gevangenes opgehang, die vyfde word vir werk gebruik.'' en ''09.07: Ons gevangene het 'n tou om sy nek wat aan die perd se saal vas is. Die betrokke Witbooi sorg dat dinge nie vir hom te gemaklik word nie.'' en ''16.08: 'n Gevange Herero-vrou is vrygelaat. Maar die bitterheid van die mense is groot. Sodra sy die tronkkamp verlaat het, is twee skote op haar geskiet en sy het haar lewe verloor.'' en ''07.10: Ons het gisteraand 'n paar vure rondom ons opgemerk. Ons beamptes het vooruit gery, ons manne het te voet gevolg. Ons het die plek bestorm, 'n aantal van die inwoners geskiet en die res gevang.''

    Een van Von Trotha se begeleiers, Emil Malzahn, skryf op 26 September by die Owisombo-Owidimbo-watergat: ''Nuut gevange Herero-krygsgevangenes word by die nek opgehang. Sedert daardie dag sien ek dikwels Hereros van 'n boomtak swaai.''

    Von Trotha se proklamasie is later deur die Duitse regering ter syde gestel, maar tydens velddiens by Osombo-Windimbe kondig Von Trotha aan dat die oorlog teen die Ovaherero sonder genade sou voortgaan.

    Weens Von Trotha se beleid van uitwissing is daar hewige verskille met goewerneur Leutwein wat later tot Leutwein se bedanking gelei het. Von Trotha rapporteer aan die Generaalskorps in Berlyn: 

    ''Vir my is die enigste vraag nou hoe om die oorlog met die Hereros te beëindig. Die sienings van die goewerneur en sommige 'ou Afrikane' aan die een kant en ek aan die ander kant is heeltemal anders. Eersgenoemde wou lank onderhandel en noem die Herero-volk noodsaaklike arbeid vir die toekomstige gebruik van die land. Ek glo dat die volk as sodanig tot niet gemaak moet word, of, as dit nie moontlik is deur middel van taktiese nederlae en oorwinnings nie, om hulle dan operasioneel en deur verdere gedetailleerde behandeling uit die land te skors... Hierdie opstand is en bly die begin van 'n rassestryd.''

    3 Oktober, 1904

    Hendrik Witbooi begin sy verset teen die Duitsers, beïnvloed deur die Ovaherero-nederlaag en die verskriklike gevolge vir daardie nasie, en ook deur Jakob Marengo se oorwinning by die Slag van ||Khauxa!nâs in Augustus. Ander redes vir sy opstand is die toenemende grondgrypery van Duitse setlaars en die bedreiging dat die Nama ontwapen sal word. Witbooi besef: 

    ''...dat vrede vir my mense die dood beteken, met die wete dat daar geen plek vir my onder julle is nie.''

    Die !Gami‡nûn onder Jakob Marengo en Johannes Christian (300 - 400 gewapende mans), die ||Hawoben onder Jan Hendrik (150 - 200 gewapende mans), die Fransman-Nama of !Kharakhoen onder Simon Kooper (600 - 700 gewapende mans), die Bethanie-Nama onder Cornelius Fredericks (300 - 400 gewapende mans) en die Kai||Khaun onder Manasse !Noreseb van !hoaxa!nâs (90 - 100 gewapende mans) ondersteun Hendrik Witbooi in sy verset teen die Duitsers. 

    Die |Hai|Khauan onder Christian Goliath van Berseba, die Herero-Oorlams van Vaalgras en die Kharo!ôan onder Hendrik Tseib van Keetmanshoop neem nie deel aan die oorlog nie. Leutwein het later berig dit was as gevolg van Rynse sendelinge. 

    Die nuwe oorlog in die suide is baie anders as die oorlog in die noorde. Terwyl die Ovaherero telkens teen die Duitsers te staan gekom het en uiteindelik in die beslissende Slag van Waterberg verslaan was, het die Nama-troepe in die suide nie in 'n beslissende geveg betrokke geraak nie, maar die Duitsers by 'n oneindige oorlog van meer as 200 gevegte betrek.

    4 Oktober, 1904

    Die distriksbeampte, Karl Henning Konrad von Burgsdorff, word deur die Witbooi-Nama, Salomon Saal, in Mariental vermoor. 

    5 Oktober, 1904

    'n Geveg tussen Jakob Marengo en die Duitsers by Wasserfall eindig weer met verliese vir die Duitsers. 

    Von Trotha oorhandig die hoogste militêre bevel aan Leutwein vir die suidelike front. 

    Hendrik Witbooi vernietig die poskantore op Gochas en Mariental. Verskeie plaasboere, waaronder Boere, word slagoffers van die Witbooi-eenhede, insluitende die Duitse boer, Ernst Hermann op Nomtsas. In opdrag van Hendrik Witbooi word vroue gespaar. Boere moet ook nie doodgemaak word nie. Dat dit waarskynlik sonder bedoeling gebeur veroorsaak dat die Boere wapens teen die Nama opneem. 

    24 Oktober, 1904

    Die Bethanie-Nama onder Cornelius Fredericks val 'n Duitse patrollie naby Bethanie aan. 

    27 Oktober, 1904

    Die Slag van Kub (Ober-Packriem) tussen die Witbooi-Nama en 'n Duitse patrollie onder Kaptein von Krüger.


    November, 1904

    2 November, 1904

    Tydens die Slagting by Ombakaha, op die omuramba Ganas, word die meeste van die Ovaherero (byna 70 mense) wat tot daar gekom het om hulself oor te handig, deur Duitse soldate doodgeskiet. Die Ovaherero was blykbaar deur Luitenant von Beesten na beweerde onderhandelinge genooi. Onder die vermoordes is die Ovaherero-leiers, Joel Kavizeri en Saul van Otjenga. 

    'n Poskantoor word te Usakos geopen. 

    Jakob Marengo val die Hasuur militêre pos naby Aroab aan. Die Duitsers word gedwing om oor die grens na Britse grondgebied te vlug.

    4 November, 1904

    Die bou van 'n landingsbrug (Eng. ''jetty''), 325 meter lank en 9 meter breed, begin te Swakopmund. (Dié landingsbrug word deur die Suid-Afrikaners in 1919 gesloop)

    5 November, 1904

    Jakob Marengo betrek die Duitsers by 'n geveg naby Umais (Umeis), suid van Warmbad. 

    7 November, 1904

    Die poskantoor te Waterberg word heropen. 

    11 November, 1904

    Weens die oorlog in die suide moet die hawe-aanleg by Lüderitz dringend uitgebrei word. Die eerste onderneming is om 'n nuwe landingsbrug (Eng. ''jetty''), 80 meter lank en 5 meter breed, te bou. 

    14 November, 1904

    Hendrik Witbooi skryf aan Theodor Leutwein: 

    ''Soos jy in jou brief skryf, staan ek vir tien jaar by jou Wet, agter jou Wet, en onder jou Wet, nie alleen nie, maar al die stamhoofde van Afrika. So vrees ek God die Vader. Die siele wat in dié tien jaar uit alle nasies in Afrika en met alle stamhoofde omgekom het, sonder fout of oorsaak of werklike oorlog in vrede, en onder die vredesverdrag, beskuldig my. Die groot rekening wat ek het wat ek aan God die Vader in die hemel moet gee is baie groot...''

    22 November, 1904

    Die Slag van Kub vind plaas tussen Hendrik Witbooi en Duitse soldate onder bevel van Von Deimling en Von Krüger. Boere veg aan die Duitse kant. 

    25 November, 1904

    In die Slag van Alurisfontein, suid van Warmbad, tussen Jakob Marengo en Johannes Christian teen die Duitsers onder Kaptein von Koppy en Luitenant Alfred Graf Kageneck, sterf Luitenant Louis Klaus Emil van Heydebreck. Die geveg eindig met swaar verliese vir die Duitsers.

    27 November, 1904

    Jakob Marengo en Abraham Morris val die Duitse militêre pos by Warmbad aan.

    28 November, 1904

    Hendrik Witbooi val vir Lidfontein, suid van !hoaxa!nâs aan. 

    Die omstrede verskille tussen Leutwein en Von Trotha dryf tot 'n spits en Leutwein ly 'n nederlaag. Neergelê by sy lot gaan Leutwein na Duitsland met vakansie, maar keer nie terug na sy pos as goewerneur nie.

    Desember, 1904

    Die poskantoor op Kuis word na Kub verskuif. 

    Verskeie gevegte vind by Naris en Rietmond plaas tussen die Nama en die Duitsers onder Von Deimling. 

    Die Duitsers poog om Hendrik Witbooi met drie (3) groepe troepe te omsingel: Johann Meister marsjeer met 223 soldate af met die Auob-rivier en val aan uit die noorde, Ritter se 110 soldate het uit die weste van Aukam aangeval, en Lengerke se 300 soldate van Koës en Persip het uit die suidweste aangeval. 

    3 Desember, 1904

    Die nuwe landingsbrug (Eng. ''jetty'') by Lüderitz word in rekord tyd voltooi. (Dit was egter ook in 1919 deur Suid-Afrikaanse soldate vernietig)

    7 Desember, 1904

    Samuel Maharero en sy vlugteling groep bereik Tsau, 40 km noord van die Ngami-meer en vorder tot by Makalamabedi, teenaan die Botle-rivier, in Betsjoeanaland. In 1907 verhuis hy na Transvaal in Suid-Afrika. Ten spyte van die oorlog tussen die Ovaherero, Nama en die Duitsers sit die Witwatersrandse Naturelle arbeidsvereniging (WNLA) sy werwingsveldtog in dié gebied voort. Maharero en sy volgelinge word deur die WNLA gewerf. 

    8 Desember, 1904

    Die Ovaherero-leier, Michael Tjiseseta, en nege (9) van sy volgelinge handig hulself oor aan die Britse owerhede by Walvisbaai. Tjiseseta is in 1923 in Krugersdorp, Suid-Afrika, oorlede. Sy oorskot is in 2004 na Namibië gerepatrieer. 

    Altesaam het sowat 800 tot 1,000 Ovaherero daarin geslaag om na Walvisbaai te ontsnap, en sowat 1,175 Ovaherero na Britse Betjsoeanaland. Enkele Ovaherero soos Haingombe, Willem Katjisume, Thomas Mutate en Martin Kazerewi vlug na Angola waar hulle by Vita Tom skuiling vind. 

    Die meeste van die Okahandja Ovaherero verkies later die leierskap van Salatiel Kambazembi, wat ook tydelik by Vita aangesluit het, bo Vita s'n. 

    Korrespondensie tussen Von Trotha en die sendeling, Kuhlmann, wys dat die Rynse Sendingsgenootskap die Duitsers se oorlog teen Namibiese inboorlinge ondersteun.

    9 Desember, 1904

    Deur middel van 'n brief geskryf deur die Duitse kanselier, Bernhard Fürst von Bülow, beopdrag die Duitse keiser, Wilhelm II, vir Von Trotha om konsentrasiekampe op te rig vir die oorlewende Ovaherero.

    Ludwig von Estorff wat in Owinauanaua by die omuramba Haiseb (Eiseb) gestasioneer was het 'n beroep op alle Ovaherero gedoen om hulself oor te handig en hulle terselfdetyd gewaarborg dat hulle nie vir hul lewens hoef te vrees nie, en toegelaat sal word om terug te keer na hul oorspronklike tuisdorpe. 

    Von Trotha ruk hom egter tot orde: ''Jy het absoluut niks om te belowe nie.'' 

    Een van die Ovaherero leiers wat Von Estorff glo is Zacharias Zeraua van Otjimbingwe. Zeraua word egter nie toegelaat om terug na Otjimbingwe te keer nie. Hy word inhegtenis geneem en verhoor vir aanhitsing tot moord. Op 22 Mei, 1905, getuig Zeraua onder eed: 

    ''Voor die uitbreek van die oorlog het ek nie die ander leiers in Okahandja ontmoet nie so ek het geen idee gehad oorlog dreig nie. Ek het nooit 'n brief van Samuel ontvang dat hy van plan was om 'n oorlog te begin nie.''

    15 Desember, 1904

    Die Slag van Koës vind plaas tussen die ||Hawoben onder Jan Hendrik en die Duitsers onder Majoor von Lengerke. 

    21 Desember, 1904

    Die Slag van Uibis aan die Hutub-rivier, tussen die Bethanie-Nama onder Cornelius Fredericks en die Duitsers onder Luitenant Ritter. 

    23 Desember, 1904

    'n Rooms-Katolieke sendingstasie word in Usakos geopen. 

    30 Desember, 1904

    4,000 Duitse soldate onder bevel van 198 offisiere kom aan in Swakopmund. 

***

    Bogenoemde is verbatim vertaal van Dokument 61-1904 (Julie tot Desember) wat oorspronklik saamgestel en geskryf is deur oorlede Dr. Karl Otto Ludwig Klaus Dierks (1936 - 2005), 'n Duitssprekende Namibiër, voormalige minister, vervoerbeplanner en siviele ingenieur. Die volledige dokument van 1904 deur Dr. Dierks kan hier gelees word: https://www.klausdierks.com/Geschichte/61.htm

Foto 1: Die ''kroon'' en hange van Otjozondjupa (Waterberg). Die foto kyk suidoos waar die Slag van Waterberg op 11 Augustus, 1904, begin het.

Foto 2: Die Ovaherero-leier, Michael Tjiseseta (1875 - 1923)

Foto 3: Jakob Marengo en !Gami‡nûn (Bondelswarts) Nama onder Johannes Christian

Foto 4: Generaal Lothar von Trotha

Skets: Die Slag van Waterberg

Die vertaling in Afrikaans is behartig deur Mûs ||Arebē vir die Nossob Xrup: nossobgroep@gmail.com 

Opmerkings