Inheemse Weerstand in Duits-Suidwes-Afrika (DSWA): Februarie - Junie, 1904

    Inheemse Verset bereik 'n Hoogtepunt: 1904 - 1906    

    Februarie, 1904

    4 Februarie, 1904

    Franke vorder tot by Otjosazu. 'n Geveg volg op die hange van die Kaiser Wilhelm-berg te Okahandja waar die Ovaherero van hul vesting verdryf word. Na die Slag van Kaiser Wilhelm-berg vorder Franke verder na Karibib en Omaruru. 

    Omaruru word herower na 'n hewige stryd tussen Franke en die Ovaherero. 

    7 Februarie, 1904

    'n Duitse troepeenheid onder Von Winkler verlaat Windhoek in 'n oostelike rigting. Hy volg 'n suidelike roete deur Kaukurus na Gobabis. 

    9 Februarie, 1904

    'n Duitse seebataljon onder bevel van Majoor Georg von Glasenapp land in Swakopmund.

    11 Februarie, 1904

    Theodor Leutwein reis uit die suide van die Schutzgebiet eers na Port Nolloth in Suid-Afrika en vandaar met die stoomskip, Ernst Woermann, na Swakopmund. Met sy aankoms in Swakopmund verklaar hy: 

    ''As ek nou Okahandja toe gaan...sou ek Samuel roep, en die opstand sal oor en verby wees.''

    Leutwein verdeel egter die Duitse troepe in vier (4) groepe: 'n westelike groep onder Von Estorff wat deur Omaruru moet opruk, 'n hoof groep onder hom, Leutwein, wat Samuel Maharero moet aanval (wat op daardie stadium saam met sy krygers op Otjosonjati in die boonste deel van die Swakopriviervallei was), Majoor von Glasenapp se oostelike groep om Tjetjo se krygers aan te val, en Luitenant Hans Gygas se groep soldate om die Ovaherero van Otjimbingwe te verdryf.

    Leutwein stuur 'n brief aan Samuel Maharero om uit te vind waar hy hom bevind. 

    Leutwein word ernstig hieroor deur die Duitse regering berispe aangesien sy brief vertolk kan word as 'n aanbod om te onderhandel. 

    Na aansienlike omeswerwing bereik Leutwein se brief die Ovaherero wat in Otjosazu, Ongandjira en Otjosonjati bly. Die Rynse sendeling, Kuhlmann, slaag daarin om Samuel Maharero in Otjosonjati te ontmoet en Kuhlmann kry die indruk dat Maharero die oorlog wil beëindig. 

    14 Februarie, 1904

    Duitse troepe onder bevel van Von Glasenapp verlaat Windhoek. Bykomende troepe onder bevel van Von Fischel sluit by hulle aan. Von Glasenapp en Von Fischel vertrek vanaf Kappsfarm deur Okaseva na Kehoro, en later na Kanduwe. 

    15 Februarie, 1904

    Die Ovaherero verslaan die Duitse troepe onder Von Fischel in die Slag van Seeis. 

    16 Februarie, 1904

    Hans Gygas verslaan die Ovaherero onder bevel van Zeraua by Otjimbingwe in die Slag van Lievenberg. 

    19 Februarie, 1904

    Die Duitsers verslaan die Ovaherero in die Slag van Groß Barmen. Ná nog 'n geveg by Klein Barmen word die gebied suidwes van Okahandja herower. 

    20 Februarie, 1904

    Franke vorder van Omaruru na Outjo om teen die Ovaherero te veg.

    23 Februarie, 1904

    Theodor Leutwein waarsku die Duitse regering teen 'n beleid van uitwissing teenoor die Ovaherero. 

    24 Februarie, 1904

    Von Glasenapp ontmoet vir Von Winkler in Groß Owikango. Die Ovaherero verlaat Kehoro. 

    25 Februarie, 1904

    Franke verslaan die Ovaherero van Omaruru by Otjihaenamaparero.


    Maart, 1904

    6 Maart, 1904

    Samuel Maharero beantwoord Leutwein se brief breedvoerig. Maharero is by die Ovaherero se vesting in Otjosonjati. 

    Die sendeling, Kuhlmann, verskaf inligting aan die Duitsers oor waar Otjosonjati in die Swakopriviervallei geleë is. 

    Maharero skryf die volgende oor die uitbreek van die oorlog:

    ''Teen sonsopkoms op die 11de Januarie het Zürn soldate na die fort op Okahandja gestuur...en my na hom ontbied. Hy sou my geskiet het. Ek het gevlug. Toe stuur Zürn soldate om my te volg en te skiet. Dit het my woedend gemaak en ek het bevel gegee om die blankes (Adolf en Henriette Dickmann, en die setlaar August Kuntze) wat ons leed aangedoen het dood te maak. My dood is beveel. Ek het dit gehoor van 'n wit man met die naam M. von Michaelis. Dis hoe die oorlog begin het. Dit is deur die handelaars en Zürn begin. Hierdie oorlog is nie myne nie. Vra hul handelaar en Luitenant Zürn en as hulle jou geantwoord het kan ons onderhandel. Die huidige oorlog is dié van Zürn. Nambano ovita ovia Zürn.''

    11 Maart, 1904

    Leutwein berig dat Maharero se krygers in 'n lyn vanaf Otjosazu deur Okatumba, op die Swakoprivier, na Katjapia gestasioneer is, met ongeveer 'n duisend (1,000) gewere. Hy berig verder dat die Ovaherero-leier, Michael Tjiseseta, in 'n oostelike rigting van die Etjo-berge beweeg, dat die Tjetjo-gemeenskap by Kehoro langs die Swart Nossobrivier teruggetrek het na die Onjati-berge, nadat hulle in die omgewing van Otjimbingwe was. Langs die Sneyrivier, op Lievenberg en in Oruware langs die Swakoprivier was daar ander Ovaherero-eenhede onder bevel van Zeraua (ongeveer 1,000 gewere).

    12 Maart, 1904

    Von Glasenapp se groep soldate vorder op met die omuramba (rivierbedding) Epukiro deur Kanduwe, en Von Winkler se groep vorder langs die Swart Nossob na Onjatu, waar die Duitsers probeer om die Ovaherero-eenhede onder Tjetjo se bevel te verslaan. 

    13 Maart, 1904

    In die Slag van Owikokorero tussen Von Glasenapp en die Ovaherero onder Tjetjo, ly die Duitsers egter swaar verliese (byna 70% is gewond). Uit elf (11) offisiere sterf sewe (7) en drie (3) is gewond, uit 38 ruiters sterf negentien (19) en drie (3) is gewond. Hugo von Francois en Otto Eggers is onder die oorledenes. 

    16 Maart, 1904

    In die Slag van Erindi-Okaserandu verras die Ovaherero se aanval die Duitsers onder bevel van Luitenant Paul Leutwein.

    17 Maart, 1904

    In die Reichstag in Duitsland veroordeel August Bebel die oorlog van onderdrukking teen die Ovaherero namens die Sosiaal-Demokratiese Party (SPD). Bebel eis 'n onmiddellike beëindiging aan die oorlog en weier om fondse te verskaf om die oorlog voort te sit. Hy noem die weerstand van die Ovaherero 'n ''geregverdigde bevrydingsoorlog''. 

    28 Maart, 1904

    Zeraua verlaat die gebied rondom Oruware en ontsnap deur Teufelsbach in die boonste deel van die Swakopriviervallei.

    30 Maart, 1904

    Zeraua en sy krygers verenig met die Ovaherero van Otjimbingwe en Omaruru by Ongandjira, Samuel Maharero se vesting. 


    April, 1904

    1 April, 1904

    Von Glasenapp se soldate vorder na Otjikuoko sonder die wete van die Tjetjo-gemeenskap. 

    3 April, 1904

    Die gevegte rondom Okaharui en Otjikuara eindig met swaar ongevalle en verliese vir beide die Duitsers en Ovaherero. 

    9 April, 1904

    Die Slag van Ongandjira eindig met swaar verliese aan albei kante. Op die ou end vlug die Ovaherero noord, weg van hewige Duitse kanonvuur. 

    10 April, 1904

    Samuel Maharero trek saam met sy krygers terug na die watergate by Okatumba en Oviumbo. 

    13 April, 1904

    By die Slag van Oviumbo is die Duitsers byna verslaan. Leutwein besluit om die Duitse soldate in die rigting van Otjosazu te onttrek en op troepversterkings uit Duitsland te wag. Leutwein is later hewig in Duitsland gekritiseer vir hierdie besluit om te onttrek. Die Duitse publiek sien steeds nie dat die Ovaherero-nasie sukkel om te oorleef nie. 

    Von Glasenapp se troepe bly gereed vir verdediging en vorder eers na Otjihangwe, en later na Otjihaenena waar hulle op 24 April, 1904, aankom. 

    19 April, 1904

    Die meerderheid van die Ovaherero beweeg nou noord in die rigting van die Waterberg. Hulle vestig hulle eers by die watergat te Engarawau. Hulle bly hier totdat hulle deur oprukkende Duitse magte gedwing word om verder noord te beweeg. 

    Leutwein waarsku die Duitse pers om hul berigte te modereer. Oproepe om alle inheemse stamstrukture af te breek, insluitend dié van die Nama-gemeenskappe, vir die afskaffing van inheemse leiers, en die algehele ontwapening van die inheemse bevolking het 'n negatiewe invloed op die veiligheidsituasie en bevorder aansienlike onsekerheid in die Schutzgebiet.

    Hierdie soort propaganda is ook 'n rede vir die uitbreek van die Nama-Duitse oorlog vanaf Augustus, 1904. Leutwein skryf die volgende: 

    ''Ek stem nie saam met fanatici wat die Herero heeltemal wil vernietig nie. Behalwe dat dit nie so maklik is om 'n volk van 60,000 of 70,000 te vernietig nie, sal ek so 'n daad as 'n ernstige fout in die ekonomiese sin beskou. Ons benodig die Herero as herders...en veral as werkers. Dit is heeltemal voldoende sou hulle polities dood wees.''

    28 April, 1904

    Die Ovaherero word in die Slag van Okangundi verslaan. 

    'n Nie-amptelike vergoedingskomitee bestaande uit die prokureur Franz Erdmann, Otto Erhard, Moritz Kirsten, Carl Schlettwein en Albert Voigts vertrek na Berlyn om onderhandelinge oor oorlogsvergoeding te begin. 

    Die Reichstag magtig eers Goldmark GM2 miljoen vir oorlogsvergoeding in Junie, 1904, en later nog GM5 miljoen.


    Mei, 1904

    Die Duitse kontrakteur, Arthur Koppel, kom in Swakopmund aan om die Otavi-spoorlyn wat deur O. M. E. G. gebou word te voltooi. Op sy beurt, voer Koppel Italiaanse kontrakteurs en werkers in, soos Batista Oldani wat later die plaas, Warmquelle, naby Zesfontein gevestig het, om die projek te bespoedig. O. M. E. G. het later van tyd Ovaherero-krygsgevangenis, mans, vroue en kinders, as dwangarbeiders gebruik.

    Traugott Tjienda, die Ovaherero-onderhoof van Tsumeb, berig: 

    ''Ek is gedwing om op die Otavi-spoorlyn te werk... Ek was 'n soort bestuurder oor die werkers. Ek het 528 mense gehad, almal Hereros, in my groep. Hiervan het 148 gesterf terwyl hulle op die spoorlyn gewerk het. Die Herero-vroue het saam met die mans gewoon. Hulle moes dieselfde werk doen... Hulle was gedwing om seks met die Duitse soldate en ander spoorwegwerkers te hê. Die feit dat 'n vrou getroud was was geen beskerming nie. Jong meisies is verkrag en mishandel. Hulle is uit die kamp die bos in gesleep en daar mishandel. Ek dink nie een het ontsnap nie behalwe die baie oues.''

    Die Otavi-spoorlyn is van 'n hoër gehalte as die staatspoorlyn van Swakopmund na Windhoek. 

    30 Mei, 1904

    Kort voor Generaal Lothar von Trotha se aankoms, wend Leutwein 'n laaste poging aan tot 'n vredesonderhandeling met die Ovaherero. Hy reik die volgende proklamasie uit: 

    ''Jy weet baie goed dat jy teen jou heer, die Keiser, opgestaan het en dat niks op jou wag nie behalwe 'n geveg tot die dood. Tot op hierdie punt kan ek nie die oorlog beëindig nie maar jy kan die oorlog beëindig as jy na my toe kom, lê jou wapens neer en kry jou regverdige straf...''

    Von Trotha stuit egter Leutwein se laaste vredespogings. Toe Salatiel Kambazembi op grond van Leutwein se 30 Mei proklamasie probeer oorgee, reageer Von Trotha soos volg: 

    ''Dit sal hom niks goed doen nie: saam geveg, saam gevang, saam opgehang.''


    Junie, 1904

    11 Junie, 1904

    Generaal Lothar von Trotha kom aan in die Schutzgebiet om bevel by Leutwein oor te neem. Leutwein bly egter die goewerneur van Duits-Suidwes-Afrika (DSWA). Die volgende aanhaling stel Von Trotha se strategie vir die bekamping van die Ovaherero duidelik: 

    ''Ek ken genoeg stamme in Afrika. Hulle is almal eenders in hul denkwyse om geweldadig te wees. Hierdie geweld is en word met blatante terreur en selfs met wreedheid gebruik. Ek vernietig rebelse stamme met riviere vol bloed en riviere vol geld.''

    Samuel Maharero en sy krygers bereik Okahitua by omuramba (rivierbedding) Omatako. 

    Duitse soldate is noord van Owikokorero en 'n eenheid onder bevel van Ludwig von Estorff is by Okamatangara. Die Witbooi-Nama, wat steeds Duitse bondgenote op hierdie stadium is, is suid van die omuramba Omatako.    

***

    Bogenoemde is verbatim vertaal van Dokument 61-1904 (Februarie tot Junie) wat oorspronklik saamgestel en geskryf is deur oorlede Dr. Karl Otto Ludwig Klaus Dierks (1936 - 2005), 'n Duitssprekende Namibiër, voormalige minister, vervoerbeplanner en siviele ingenieur. Die volledige dokument van 1904 deur Dr. Dierks kan hier gelees word: https://www.klausdierks.com/Geschichte/61.htm

Foto 1: Die Franke Toring te Omaruru, Kunenestreek, Namibië

Foto 2: Die goewerneur van Duits-Suidwes-Afrika, Theodor Gotthilf Leutwein, van 1894 - 1904

Foto 3: Ovaherero dwangarbeiders vir O. M. E. G. (Otavi Minen-und Eisenbahn Gesellschaft), of die Otavi Mining and Railway Company.

Die vertaling in Afrikaans is behartig deur Mûs ||Arebē vir die Nossob Xrup: nossobgroep@gmail.com 

Opmerkings