Kortverhaal: “Die Drie Duiwe” deur |hôas Muisoor

    Ek was baie opgewonde toe ek my eerste werk kry.
    Dit was 'n geleentheid om uit |nomsoros te kom, om 'n ander lewe te hê as my ouers s'n. 
   Tatab het ons gevra om werk te soek want hy en Mamas kon nie meer klere en kos vir ons vier kinders bekostig nie. Ons was almal tieners daai tyd; ek en my susters en broer. 
    Die Vrydagaand voor ek na Swartmodder (Keetmanshoop) vertrek, daag Tatab skielik by die huis op. Hy het sy baas op die plaas gevra of hy Saterdag kan af kry. Ek was besig om te pak en Ma-goed was besig om te eet.
    Almal was bly om hom te sien. 
    Toe ek sy stem hoor is ek kombuis toe want Tatab bring altyd vir ons iets lekker, soos 'n sak vol ||naba*, of vet vir kaiings, 'n skaapblad of boud, plaasroom vir botter en pap, of Wilson lekkers.

    Hierdie keer gee Tatab vir my 'n plastieksak. Almal kyk toe ek dit oopmaak. 
    Binne-in was 'n bottel lyfroom, 'n botteltjie gliserien, tandepasta, 'n koekie seep, 'n klein vaseline, 'n klein Vicks, en 'n aanrol. Ek het nog nooit in my lewe 'n sak vol goed gekry nie. My oë was baie groot. 
    Kai aiôs, Tatab,” sê ek verstom. 
    Die volgende oggend is ek vroeg op. 
    Terwyl Ma brood op die rooster langs die huis braai om te verkoop, was ek my in die plastiek bad in my en my susters se kamer. Ek smeer my in met die lyfroom, sit gliserien aan my kort, krullerige hare om dit te laat blink, en aanrol onder my arms. 
    Toe ek klaar is, voel ek soos 'n nuwe mens. 
    Na ek my aantrek en uitgaan, kry ek vir Tatab en my broer op die agterstoep, elk met 'n beker koffie en 'n vars gebakte brood in die hand. Ek skink vir ek en Ma elk 'n beker koffie en vat hare vir haar. 
    Is jy gereed, Kat?” vra Ma my terwyl sy die brode op die rooster met een hand omdraai en water op die kole spat met die ander. Almal sê my ma maak die lekkerste as-en roosterbrood. 
    Ek sit haar beker koffie op die vensterbank neer. 
    Ek is, ti Ma.” 
    Haar oë gly oor my liggaam tot by my voete om te sien wat ek aangetrek het. 
    My kind,” sê sy saggies sodat Tatab en my broer haar nie hoor nie, “die mense by wie jy gaan werk...” sy draai die brood om, “...bly in jou kamer wanneer jy klaar is met jou werk, of hou jou besig as Piet in die omtes is.” 
    Hoe bedoel, Ma?” 
    Sy kyk stoep se kant toe en vee haar benerige hande aan haar voorskoot af. “Bly uit Piet se pad, Kat, moenie alleen met hom wees nie. Hy is nie 'n goeie mens nie.” 
    “Kat!” roep Tatab op die agterstoep. 
    Ek draai om en stap vinnig stoep toe. 
    Kom sit hier by jou Tatab.” 
    Ek voel weer soos 'n klein kind toe ek langs hom op die houtbankie wat hy self gemaak het gaan sit. Tatab ruik soos sigaret en koffie en skaap. My broer staan op en gaan na sy kamer toe. 
    Wie se Kat is jy?” vra Tatab my. 
    Ek voel asof ek vyf jaar oud is: “Tatab se Kat.” 
    “Jy's my enigste Kat,” sê hy met 'n glimlag. 
   Eendag, Kat, was daar 'n man,” begin Tatab en soos gewoonlik is ek onmiddellik meegevoer. “Hy het 'n slegte aard gehad.” 
    Ek knik my kop asof ek die man met die slegte geaardheid ken. 
    Daar was iets in hom wat nie kon verdra dat goeie dinge met ander mense gebeur nie. Hy kon dit nie vat dat iemand anders eer en erkenning ontvang nie. Hy was afgunstig wanneer ander mense iets behaal of bereik of besit. Hy was só, verstaan jy, Kat?” 
    î, Tatab,” antwoord ek. 
    Hy wou ook nie werk nie. Om die een of ander rede was hy oortuig daarvan dat hy geregtig is op iets sonder om daarvoor te werk. Hy was só. 
    “En, hy het neergesien op ander mense wat werk, en hulle met minnagting behandel. Hy het niks waardeer nie, nie eens sy eie mense nie. 
    “Op 'n dag, Kat, besef hy sy maats het ander lewens. Hulle gesels met hom oor die ou dae maar hulle werk, woon in beter huise as syne, trek beter aan as hy, hulle gaan winkels toe, maar met hom gesels hulle oor die ou dae. 
    “Hy het lank daaroor gedink en besluit om Aroab toe te gaan na die Goeie Mense wat daar bly. Hy was oortuig daarvan dat hulle hom sou help om te kry wat hy wou hê. 
    “Op Aroab aangekom, gaan hy na die huis van die Goeie Vrou wat die slimste van almal is, sê die mense, want sy kon alles sien wat nou hier is, met ander woorde, die waarheid. 
    “Toe sy haar deur oopmaak, sien die Goeie Vrou die man se slegte aard en groet hom nie.         Voor hy vir haar van sy probleme kon vertel, hou sy haar hand in die lug op en sê: 
    Om te kry wat jy wil hê, skiet een van die drie duiwe wat op jou dak sit, maar moenie die middelste duif skiet nie. Gaan in vrede hiervandaan weg,” en sy maak weer haar huis se deur toe. 
    Terug op |nomsoros is die man verbaas om te sien dat drie duiwe inderdaad op sy dak sit. Hy het hulle nog nooit voorheen opgemerk het nie. 
    Hy vat die groot kettie wat teen die muur in sy kombuis hang en probeer skiet een van hulle met klippe, maar hy mis en die duiwe vlieg weg. 
    Die volgende oggend is die duiwe terug. Hy hoor hulle op die dak loop en wag sy kans af. 
    Toe hulle rustig sit en koer, vat hy die kettie, twee klippe, sluip by die deur uit, en agter die huis om. Hy dink die duiwe weet van niks. 
    Hy skiet opsetlik mis met die eerste klip en toe die duiwe opstyg om weg te vlieg, hardloop hy om die huis, korrel, en laat los. 
    Die klip skiet opwaarts en tref die middelste duif teen die kop. Die duif val loodreg aarde toe. 
    Die man sê vir homself dis nie moontlik dat hy die middelste duif raakgeskiet het nie. Of, het hy? Hy los die dooie duif op die grond en gaan maak vir hom 'n koppie tee. 
    Terwyl hy op die stoep met sy beker sit en dink, kom draf-stap twee mans na sy huis toe. Die een was die predikant, die ander die diaken, en albei se gesigte blink van sweet. 
    Ons is jammer om te pla, broer,” sê die predikant, “ook jammer vir jou, ons innige medelye, maar jou moeder is 'n kort ruk gelede op Swartmodder oorlede. Jy moet dadelik gaan. Sterkte.” 
    Die man frons. “Hoe lank gelede is sy oorlede?” 
    Die predikant en diaken kyk vir mekaar. “Tien, vyftien minute miskien.” 
    Sy het skielik inmekaargesak,” voeg die diaken by. “Hulle vermoed dis haar hart.” 
    Haar hart. Die man kyk na die dooie duif wat op die grond lê en 'n onsmaaklike gevoel spoel oor sy binneste.” 
    Ek giggel senuweeagtig langs my pa op die bankie. 
    Was die middelste duif sy ma, Tatab?” 
    Hy knyp my neus tussen sy vingers soos toe ek klein was. 
    “Wie weet?” sê hy.
    'n Dag later is ek op Swartmodder, in die mooi huis van die wit vrou wat my ma grootgemaak het, saam met haar man, kinders, en haar pa, Piet. Dit was nie lank nie of ek sien waarteen ti Ma my gewaarsku het. Gelukkig het ek gou ander werk by die hoërskool gekry want onse mense het van Piet geweet en my onstandighede verstaan. 
    Ek hou van mense wat hul eie ondersteun en waardeer, en ek vermy daais wat neersien op andere.

© Katjie Muisoor, 2023

***

|hôas Muisoor is 'n inwoner van Satco, buite |nomsoros, in die ||kharasstreek van Namibië. Haar oorlede vader, Martiens (gedoop Martin), 'n plaaswerker, het vir haar hierdie verhaal in 1987 vertel, net voor sy Satco verlaat het om in Keetmanshoop te gaan werk. Hierdie verhaal is opgedra aan |hôas en haar vader, Martiens Muisoor, van die !Gami‡nûn Namaqua stam. Hierdie foto van 'n Namaqua duif (Oena capensis) is geneem deur Zagros Nature Images. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com

Opmerkings