deur Mûs ||arebē
Ek het inheemse grasse en boomtakke in my blompotte omdat ons nie blomme volgens my kultuur pluk nie. Wanneer ek kuiergaste ontvang merk hulle dit op: die grashalms en boomtakke in glas of versierde blompotte.
Ons pluk nie veldblomme nie, ons koop skaars blomme behalwe vir begrafnisse, en alhoewel ons hulle baie bewonder, veld-en vleiblomme, wys ons nooit na hulle met 'n reguit vinger nie. Ons wys na hulle met 'n krom vinger, met die middelste lid van die wysvinger, of met die bokant van die hand.
Ons noem nie ons kinders ''blom'' nie, ons verwys na niemand se kind as 'n blom nie.
Daar is goeie redes hoekom ons so doen.
Die gebruik in Khoekhoense, Nama, en / of Namaqua-kultuur, om nie veldblomme te pluk nie, is duisende jare oud en spruit uit ons antieke geloof dat veldblomme die Geeste van afgestorwe babadogters en meisiekinders is.
Nes ons dogters en meisies op vroeë ouderdomme van ons weggevat is, bloei veldblomme kortstondig, weliswaar broos, en pragtig en helder.
Dit is steeds 'n ongeluksteken vir 'n familie, of 'n groep mense, om vroulike kinders en meisiekinders vroegtydig te verloor, ongeag die omstandighede, en om sulke slegte geluk te vermy, pluk ons ook nie veldblomme nie.
Die verbintenis tussen oorlede vroulike kinders en veldblomme in Khoekhoense kultuur het die Groot Mense baie lank gelede opgemerk omdat veral vroulike kinders aangetrokke is tot Blomme. Selfs vandag sal hulle instinktief hul handjies uitreik na Blomme. Ons moet kleintjies herhaaldelik daarteen waarsku en weerhou daarvan om nie veldblomme te pluk nie.
As 'n mate van vertroosting vir die feit dat Hy ons babadogters en jong meisies van ons weggevat het (ongeag onder watter omstandighede), verskyn die eerste veldblomme, soms wonderbaarlik en oornag soos verrassings, ná die Eerste Reën in Oktober of November, in Namibië.
Veld-en vleiblomme
Soms sien ons veldblommetjies wat hier en daar lieflik op hul eie in die veld bloei, en soms sien ons honderde, selfs duisende, soos die Crinum paludosum vleilelie, in die suide van ons land. Hulle is die Geeste van ons vroulike kinders wat ná die Eerste Reën verskyn.
Ons glo ook dat die Eerste Reën sterk en genesende krag besit, en versamel reënwater in emmers, kalbasse of skottels om ons babas, kinders, grootmense, huise, plante, vee, onsself, en dogters mee te seën, en om die Reën te vra vir goeie gesondheid, veilige bewaring, en voorspoed.
Apartheid en kolonialisme het soveel van ons inheemse Khoekhoe, Nama, en Namaqua erfenis, kennis, kultuur, en baie van ons mense se identiteit vernietig, en hulle gevolglik van hul eie inheemse kennis en kultuur vervreem. Ten spyte van 'n hunkering om weer aan te sluit, sukkel baie van onse mense steeds om aansluiting te vind as gevolg van 'n gebrek aan inligting en kulturele imperialisme.
Deel van ons inheemse Khoekhoense erfenis (en verantwoordelikheid) is om ons natuurlike omgewing te beskerm en te bewaar en te verdedig en om hierdie rede vra ek hoflik: Laat die veldblomme groei, asseblief, los Hulle dat Hulle groei en bloei. Moenie ons veldblomme pluk nie.
Ons wat nog aan die Ou Weë glo, en die kulturele skatte waardeer wat die Groot Mense aan ons oorgedra het, weet wat Hulle vir ons beteken en wie Hulle is.
Dit is danksy ons inheemse gebruik om Hulle nie te pluk nie en ons geloof dat veldblomme die Geeste van ons afgestorwe babadogters en meisiekinders is, dat Namaqualand se geel, oranje, en wit madeliefies vandag wêreldbekend is, en besoekers en toeriste van heinde en verre aanlok.
Dit is danksy ons inheemse Khoekhoe, Nama, en Namaqua gebruike en gelowe dat duisende endemiese en inheemse veldblomme en plante vandag in Namibië oorleef.
My innige meegevoel aan ouers, families, en gesinne wat babadogters en meisiekinders aan die dood moes afstaan, ongeag die omstandighede, is dit altyd tragies. As u weer miskien veldblommetjies sien, hoop ek u weet dat u nie alleen hierdie smart dra nie en dat die Reën, die Heuningby, alle Diere, Insekte, en Voëls van die Veld vir hulle lief is en hulle onthou.
Mag elke veldblommetjie u vertroos.
Kai aios
***
Fotos:
1. Order malvaes, Wild Flowers of Namibia
2. Sandhof Lilies, Crinum paludosum deur Jan Emming
3. Namaqualand Flowers deur Rove.me
Opmerkings
Plaas 'n opmerking