deur Diê!kwain |xam (1875)
Aan die begin was Hase mense. Maar, dié Ou Mense was anders as ons want wanneer hulle sterf het hulle nie vir ewig gesterf nie; ná 'n ruk het hulle weer lewendig geword.
Daar was eendag 'n haasmannetjie wie se moeder oorlede is. Hy was dom en hardkoppig en het niks van die wêreld óf die lewe geweet nie. Hy het nie geweet sy moeder sou weer lewe nie. Hy het gedink sy moeder is heeltemal en verewig dood. Toe hy haar só sien het hy vreeslik geskrou en geween.
Kaida ǁkhâtse (Heilige Maan) het die haas hoor huil.
“Toemaar, hasie, moenie huil nie,” het Hy die haas getroos want Kaida ǁkhâtse is lief vir almal op aarde. “Jou moeder is nie verewig dood nie. Glo my, sy sal weer lewe, nes Ek. As Ek sterf, kom Ek terug, en wanneer Ek terugkom, dan leef Ek weer.”
“Ek sal nie ophou huil nie!” sê die astrante haas. “Jy lieg! Ek weet my ma sal nooit weer lewe nie. Kyk haar, sy is dood!”
Kaida ǁkhâtse het onmiddellik kwaad geword vir die dom haas omdat hy Kaida ǁkhâtse nie glo nie. Kaida ǁkhâtse tik toe die huilende haas op sy bolip. Die haas se bolip skeur middeldeur.
“Die Haas se mond en lyf sal van nou af só wees,” sê Kaida ǁkhâtse. Hy gee die haas die lyf wat hase vandag het en 'n gesplete bolip, groot ore, en snaakse bene wat nie kan loop nie, net hardloop óf spring.
“Die Haas sal van nou af hierdie litteken op sy gesig dra om hom en almal op aarde daaraan te herinner wat uit sy mond gekom het, dat hy gesê het Ek lieg. Danksy die Haas, sal julle van nou af doodgaan en nie weer lewe nie.
“Ek het vir die Haas die waarheid vertel: As Ek sterf, kom Ek terug, en as Ek terugkom, leef Ek weer, maar die haas het my weerspreek. Ek het gedink Ek maak julle gelukkig.”
As gevolg van die astrante haas wat eers 'n mens was, het Kaida ǁkhâtse almal op aarde tot die Ewige Dood vervloek. Dit is hoekom ons sterf en nie weer terugkom nie.
'n Ander Weergawe
Die Haas was eens op 'n tyd 'n mens, maar omdat hy ongeskik met die Heilige Maan was, het die Heilige Maan hom in 'n haas verander en almal op aarde tot die Ewige Dood vervloek. Hase het tot vandag toe nog 'n stukkie mensvleis oor in hulle. Wanneer jy 'n haas doodmaak om te eet, is daar een stukkie vleis wat jy nie mag eet nie en omdat niemand meer weet waar dit is nie, mag ons nie hase doodmaak nie.
***
Hierdie verhaal is opgedra ter nagedagtenis van die |xam Khoena en hul dialekte wat tydens kolonialisme in Suid-Afrika (1652 - 1994) uitgesterf het. Die verteller, Diê!kwain, was 'n lid van die |xam van die Katkopberge, noord van Calvinia in die Noord-Kaap, Suid-Afrika, en syne was die Katkopberge-dialek. In 1875 het hy Kaapstad besoek waartydens hy hierdie verhaal oorgedra het. Die foto is van 'n skrophaas (Lepus saxatilis) wat in suidelike Namibië leef. Om tot hierdie blad by te dra, kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking