Klassieke Khoekhoense Verhale: Hoekom Seekoei in die Rivier Woon

Lank gelede, toe al die diere saam in die veld met die Skepper, Bidspringkaan, gewoon het, het die meeste van hulle op droë grond gewoon en baie min in water, soos riviere. 
    Die warm son het elke dag die aarde gebak, en alle diere het op die een of ander manier daaronder gely. Die meeste diere is egter slim en het sterk velle ontwikkel om hulle teen die son te beskerm soos pelse, vere, of skubbe. 
    Arme Seekoei se vel is nie sterk nie, en soos hy groter geword het, het sy vel gerek, gestrek, en dunner geword. Teen die tyd dat hy volgroeid was, was sy vel so dun dat dit maklik in die son gebrand het.

    Seekoei het elke dag gely. 
    Eendag kon hy dit nie meer verdra nie en hy gaan na die Skepper en vra: 
    “Mag ek, asseblief, in die rivier gaan woon?” 
    Die Skepper het gesê: 
    “Ja, vriend, dis 'n goeie idee, maar soos met alles in hierdie lewe moet jy eers toestemming by die Waterkinders (diere van die rivier) vra of jy ook daar mag woon.” 
    Seekoei het toe vir Visarend, Krokodil, en Otter gevra: 
    “Mag ek, asseblief, saam met julle in die rivier kom woon? Kyk my dun vel! Dit is seer gebrand deur die son! Die koel waters sal vir my groot verligting bring.” 
    Die Waterkinders was egter bekommerd. 
    Nadat hulle vir 'n rukkie daaroor gedink en gesels het, sê hulle toe vir Seekoei: 
    “Nê man, ons kan nie, jammer. Kyk hoe lyk jy, etse! Jy is groot en vet en sal alle kos in die rivier opeet. Daar sal niks vir ons oor bly nie.” 
    Seekoei sê toe vir hulle: 
    “Moenie bekommerd wees nie want ek eet nie vis nie. Ek eet net gras en plante in die rivier.” 
    Maar die Waterkinders glo hom nie. 
    Toe sê Seekoei: 
    “Ek belowe julle: Ek sal elke dag my mond wyd oopmaak sodat julle kan sien daar is nie visgrate of skubbe in my mond nie en, ek sal my mis met my stert strooi sodat julle kan sien daar is nie bene nie.” 
    Dít het die Waterkinders oortuig en van daardie dag af laat hulle vir Seekoei toe om saam met hulle in die rivier te woon. Seekoei en sy mense hou tot vandag toe sy belofte aan die Waterkinders en maak altyd hul monde wyd oop en strooi hul mis met hul sterte.

***

Waarskuwing: 'n Seekoei wat “gaap”, of sy / haar mond baie wyd oopmaak, is gevaarlik. Dit is 'n waarskuwing dat iemand of iets te naby hulle is. Seekoeie is territoriaal en strooi hul mis om hul gebiede af te baken. 
    Hierdie verhaal, wat handel oor die belangrikheid van beloftes hou en betroubaarheid, is vertel in Namibië omdat die drie (3) Waterkinders, die kloulose otter, die krokodil en die visarend, saam slegs in die Kavango en Kunene riviere aangetref word. Dit word toegeskryf aan die Hai||om en Kai||khaun (Rooi Nasie) inheemse gemeenskap van Namibië. Die foto is deur Wildlife Credits  

Opmerkings