Klassieke Khoekhoense Verhale: Klein Riet-Alleen-in-die-Roerkuil deur Auta Hendrik

Die eerste boodskapdraer by Xamadukies was die geel Sān man*, Riet-alleen-in-die-Roerkuil.

    Sy Ta se Ta, Haitsî'haibeb, het hom só genoem toe hy nog in die dra-vel sit. Hy kon so vinnig hol dat die stofwarreltjies onder sy hakskene uitdraai; en as hy reg-reg uithaal dan word hy nes 'n vaal strepie in die middel van die wapad.

    En toe kom die groot gevaar by Xamadukies. Ou Haitsî'haibeb het in die nag kajuitraad belê want die nood het gedruk. Hy het selfs vir ou Klipdas-Eenoog laat haal om te kom by sit, en hy was só oud dat sy kakebeen weggeslyt was en sy oë byna toegekrimp. Die hele nag het hulle om die vuur in die |'xora gesit, en dit was ou Klipdas-Eenoog wat die groot woord agtermekaar gesit het. En met die Rooidag roep hulle vir Riet-alleen om die boodskap na Rooi Joggom te dra. 

    En toe hy kom, hoor hy die vroue in die strooihuise skree: “Hō |'xora! Hō |'xora!” En die mans is so bang dat hulle toonnaels kletter en die sweet drup van hul lyf in haelkorrels. Elkeen kan die vuur met een asem doodblaas. 

    En toe die dag wit word, spring Riet-alleen van Xamadukies weg. Hy dra die toorgoed in die linkerhand en met die regtervuis slaat hy op sy voorkop; vir elke woord van die boodskap 'n slag met die vuis - dan kan hy nie vergeet nie.

    Die laaste woord van sy Ou Ta was: “Pas op vir Naxali; sy sal jou op baie maniere voorlê; sy het sterk toorgoed. As jy verkeerd maak, word jou lyf so styf gespan soos die snaar van die groot ramkie!*”

    Toe die son hoog was, siet hulle nog op die laaste bult die warrelwindjies onder sy voete uitdraai, maar Riet-alleen self was net 'n vaal strepie in die wapad. 

    Toe sê Klipdas-Eenoog: “Arrê! Die vonke sit in jakkals* se stert.” Want dit was hy wat die groot woord uitgedink het. 

    En toe Riet-alleen nie meer sy eie skaduwee kon sien nie, kyk hy voor in die pad, en daar gewaar hy 'n skraal Sān meisie. Sy trap stadig 'n paar danstreë oor die pad. 

    “Arrê, ausi,” sê Riet, “kan jy dans?”

    “My boeta!” sê sy, “wat sit jy op die miershoop neer?”

    “Dis die beste toorgoed,” sê Riet en hy sit dit op die miershoop neer. “En wat het my ausi?”

    Sy haal die blou kraleband van haar nek af en sit dié neer. En toe spring hulle weg die Veld in. Tot by die derde miershoop bly hulle bymekaar, en van daar begin die meisie ringe om hom te dans en sy draai met 'n groot halfmaan terug na Xamadukies. 

    En Riet wil skree: “Dié kant toe, my ausi! Dié kant toe!” maar sy asem is klein en sy dans so vinnig dat sy die woorde voor sy mond wegwaai. 

    En Riet se hart word klein en hy dink: “Ek sal soheentoe haal en my toorgoed red.” Maar toe hy wegspring, siet hy die vaal meisie dans ver voor hom soos 'n dryfwolkie op die bergtop; en toe hy nog ver was, gryp sy die toorgoed en sit haar krale om. 

    En hy hoor haar lag, en sy sê: “My ou boet, my vuurmaakplek is aan die bokant. Ek sal vir Naxali jou groete sê.” En toe sy weg dans, toe siet hy al die tyd die Warrelwind uit die groot woestyn. 

    En toe sê hy: “Hō |'xora! Die snaar van die groot ramkie!” want die son was aan die afdraand en Rooi Joggom is ver!

    En hy spring weer weg, maar hy sê nie meer die boodskap nie want die jammerte oor die toorgoed was in sy hart.

    En hy eet die pad tot by die middelberg se nek. En toe gewaar hy langs die los klip links van die pad sit 'n Sān man en in sy hardloop hoor hy die vaal maat roep: “Wat is die treur dat my broer vandag so stadig loop?”

    En Riet-alleen stuit by hom. “Kan my boeta hardloop?” vra hy. 

    “Die vroue van Jakkalsdraai het my so vertel,” sê die vaal Sān man

    En Riet se hart brand in hom, want hy het nog nooit een gekry wat sy stof kon asem nie. 

    “Sal dit wees tot bo-op die nek?” vra Riet-alleen. 

    “Haitsî!” sê die vaal Sān man, “die bobbejaan hol die berg uit. Nee, my boeta, dit sal wees tot by die spits klip,” en hy wys terug tot onder in die leegte, en hulle staan klaar.

    En toe hulle wegspring, gly die vaal Sā'b van Riet weg. En Riet druk sy oë toe, en hy haal uit. En toe hy die grond gelyk voel onder sy voete, kyk hy weer, en hy sien die vaal Sā'b soos 'n klein stoffie ver in die wapad. En toe hy sy hand oor sy oë sit, gewaar hy dit is Naxali se oribietjie*. En hy slaat op sy mond, en sy hart word sag in sy lyf. En hy draai om en spring berg uit, en hy sê net: “My Ta se Ta!”

    Dit was donker toe Riet-alleen op die wal van Moetmekaar se drif uitkom: en daar stuit hy vir die eerste maal weer. Toe die Weerlig slaan, sê hy: “Haitsî! Dis Naxali wat lig maak om my te soek!” En hy bêre sy lyf. 

    Van ver kon hy die swart water hoor brom, want die rivier was kwaai, en voor hom in die drif siet hy die aandlig soos die stert van 'n vis die maalwater swaai. 

    “Deurgaan of ramkie se snaar!” sê Riet-alleen, en hy trap die water in. 

    En oorkant, teen die wal, sit ou Naxali se !narakierie, en Riet-alleen hoor dat sy hom uitlag. En toe sê hy: “Haitsî, ausi! Netnou sal ons met mekaar van naby gesels. My vuurmaakplek is na die bokant!” 

    En net dáár het die groot ongeluk hom gevang. Hy het vergeet dat hulle by Xamadukies gehoor het dat Naxali op oulaas die toorgoed gekry het wat haar baas maak oor die krokodil. 

    En toe Riet-alleen die swart water inloop en hy voel dit maal, toe sing hy die regmaakliedjie: 

    “Ek vat hier en jy vat daar

    O, julle Geel-goed, gryp mekaar.”

    Maar dit kon nie help nie. Oorkant teen die wal gewaar hy die maalgat voor sy voete, en deurkom is min. En toe siet hy net langs hom die groot soetdoringstomp met een punt in die vlak water. 

    Hy klim stadig op en hy loer waar Naxali se !narakierie sit en hy lag lekker in die holte van sy hand. En toe voel hy die soetdoringstomp roer onder hom, en roer onder hom, en hy klou vas met al sy naels, en hy roep sy oor-oupa se grootnaam, drie keer. Maar dit help nie. 

    Hy hoor die !narakierie roep: “My ou boet, watter kant is jou vuurmaakplek?”

    Maar hy het die antwoord vergeet. 

    Toe gewaar hy die soetdoringstomp is Naxali se krokodil; en toe hy hom weer kry, lê hy hoog op die sandwal waar hy vandaan gekom het, maar hy weet dit nie. 

    En hy spring weer weg en begint weer op sy voorkop slaan, en hy onthou weer Haitsî'haibeb se boodskap, en hy skiet die nag in. En voor hom siet hy die groot vuur, en hy stuit tussen hulle net met die kom van die Rooidag, en hy begint sy boodskap opsê. 

    Maar eer hy halfpad was, gryp hulle hom, en toe gewaar hy dat hy weer terug is in Xamadukies, en dis sy einste oupa wat hom aan die linkerbeen beet het. 

    En Haitsî'haibeb sê vir Klipdas-Eenoog: ''Ons moet hom stywer span as die snaar van die groot ramkie!''

    En daar het hulle die vuurtjie doodgemaak van Riet-alleen-in-die-Roerkuil. 

***

    Volgens die Europese-Afrikaanse skrywer, Eugéne N. Marais, is hierdie besondere inheemse verhaal aan hom oorgedra deur Auta Hendrik, of “ 'n Boesman, Outa Hendrik” en het dit vir die eerste keer in Marais se boek, Dwaalstories en Ander Vertellings, in 1927 verskyn. Marais het ook 'n portret van Auta Hendrik wat deur Erich Mayer in 1913 geteken is, by die eerste uitgawe van sy boek ingesluit.

    Die Nossob Xrup (Groep) bestempel hierdie verhaal as eg inheems en oorspronklik afkomstig uit die Khoekhoense mondelinge tradisie om verskeie redes maar hoofsaaklik as gevolg van Haitsî'haibeb, wat Marais verkeerdelik spel as ''Heitsi-eibib''. Marais kon die Towenaar Haiseb se naam slegs só spel omdat hy dié naam en die uitspraak daarvan by iemand gehoor het wat vertroud was met Haitsî'haibeb se verhale. Haiseb is nie afkomstig óf deel van die Afrikaanssprekende Europese gemeenskap in suider Afrika se literatuur nie, maar is wel 'n belangrike godheid en karakter in Khoekhoense verhale. 

    Nes Eugéne N. Marais, skryf die Nossob Xrup dan hierdie pragtige verhaal toe aan Auta Hendrik (of Outa Hendrik, ook Ou Hendrik), die “Boesman”, heel waarskynlik Khoekhoeb, as die regmatige outeur.

    Die redigering is behartig deur Mûs ||arebē van die Nossob Xrup:

    * ''Boesman'' is verander na Sān man, en meisie

    * ''...ta se ta'' is verander na Ta se Ta (verkorting van Tatab / Autab vir vader of grootpa)

    * ''Heitsi-eibeb'' is verander na Haitsî'haibeb

    *  ''tgorra'' is verander na |'xora

    * ''...wolf'' is verander na jakkals

    * ''meide'' is verander na vroue

    * ''uitspeelspel'' is verander na toorgoed

    * Gammadukies is verander na Xamadukies

Opmerkings