deur Izzy Sasada
- Namibië se bekroonde program, Community-based Natural Resource Management (CBNRM), ontvang aansienlike ondersteuning;
- Twee (2) CBNRM-bewaringsgebiede is in die laaste vestings vir inheemse mense in suider Afrika geleë, die Jû|'hoan en !Kûng;
- Navorsing dui egter aan dat die natuurlike hulpbronne in die Jû|'hoan en !Kûng se bewaringsgebiede handelaars, veewagters en trofee-jag gidse meer bevoordeel as inheemse gemeenskappe, wat nie toegang tot hul tradisionele grond het nie.
Namibië se bekroonde CBNRM-program, waardeur die regering oënskynlik landelike en inheemse gemeenskappe geleentheid gee om hul eie natuurlike hulpbronne te bestuur en daaruit voordeel te trek, geniet aansienlike westerse ondersteuning.
Navorsing dui egter aan dat, binne-in die twee (2) CBNRMs wat vir die inheemse Sān-gemeenskappe aangewys is, die Nyae Nyae-bewaringsgebied van die Jû|hoan en die Nǂa Jaqna-bewaringsgebied van die !Kûng, gewetenlose handelaars, beeswagters en trofee-jag ondernemings groter voordeel trek.
Die inheemse gemeenskappe se tradisionele bestaanswyse en leefwyse word derhalwe bedreig, en sonder alternatiewe om elders beskutting, voedsel en werk te kry, staar hierdie gemeenskappe armoede, hongersnood, uitbuiting en opsystooting in die gesig.
Dit sal die uitwissing van die wêreld se oudste kulture teweegbring, en weerspieël 'n groeiende patroon waarvolgens gemeenskappe wat oor die meeste inheemse natuurkennis beskik, verhinder word om natuurlike hulpbronne te benut. Die verlies aan toegang tot hul grond is veral vernietigend omdat hulle op natuurlike hulpbronne staatmaak vir hul onafhanklike en self-voorsienende leefwyse.
Grond Diefstal in die Nǂa Jaqna-bewaringsgebied
Die !Kûng gemeenskap wat in die Nǂa Jaqna-bewaringsgebied woon, sien hoe hul tradisionele grond oorrompel word deur veewagters van Namibië se groter etniese groepe en hoe dit stilswyend deur sentrale en plaaslike regeringsowerhede goedgekeur word.
Die owerhede in die bewaringsgebiede aanvaar blykbaar onwettige omkoopgeld van nie-inheemse setlaars in ruil vir weiding op tradisionele !Kûng gronde, binne-in bewaringsgebiede, en bevoordeel mense met politieke bande vir grondtoekenning.
Nie-inheemse setlaars het reeds hierdie bewaringsgebiede in 2002 ingedring, maar 'n toestroming het vanaf 2012 verskerp. Onlangse navorsing dui daarop dat meer as vyf-en-sestig (65) onwettige setlaars die bewaringsgebiede teen Februarie, 2021, al beset het.
Alhoewel die Nǂa Jaqna-bewaringsgebied al sedert 2013 'n hofsaak aan die gang het om heinings in die bewaringsgebied te verwyder, is die heinings nog steeds nie verwyder nie en het baie meer onwettige nie-inheemse setlaars in die bewaringsgebied opgedaag.
Die beeste wat deur die setlaars gebring is vreet die veldkos, veldvrugte, en vernietig die saailande van inheemse plante wat die !Kûng-gemeenskap geplant het, en belemmer hul toegang tot volhoubare voedselbronne.
Professor Robert Hitchcock, 'n antropoloog aan die Universiteit van Nieu-Mexiko wat al dekades lank saam met inheemse gemeenskappe in Namibië werk, het per e-pos gesê:
''In Nǂa Jaqna is sekere dele van die bewaringsgebied oorgeneem deur buite belange en is hulle omhein, en hulle probeer die Sān-gemeenskap verhoed om toegang tot die gronde wat omhein is te verkry, en hulle gebruik die polisie om mense in hegtenis te neem sou hulle die grond betree wat hulle vir hulself opgeëis het.''
Hitchcock het gesê dat dit die onderwerp was van 'n hofsaak wat in 2013 aanhangig gemaak is en in 2015 deur die bewaringsgebied gewen is.
''Die probleem is dat die hooggeregshof versuim het om die uitslae van daardie hofsaak af te dwing.''
Tydens veldwerk wat ek in 2012 gedoen het, het 'n bejaarde egpaar oor die gevolge van die toestroming van nie-inheemse setlaars gepraat.
''Ons het slapelose nagte oor hierdie mense,'' het hulle gesê. ''Die beeste stroop tot ons huise, en die bewaringsgebied doen niks daaraan nie. Hulle vernietig byna alles wat dit vir ons moeilik maak om bessies en wortels te vind.''
Die egpaar is gedwing om neute, wat deur die setlaars se beeste opgebring word, te eet.
Verder is daar sjebiens (Eng. shebeens) en kroeë wat deur nie-inheemse setlaars in die Nǂa Jaqna bewaringsgebied bestuur word. Dié besighede dra nie by tot die ekonomiese ontwikkeling van die inheemse gemeenskap nie.
Die Dilemma oor Trofee-jag in die Nyae Nyae
Oos van die Nǂa Jaqna-bewaringsgebied, in die Nyae Nyae-bewaringsgebied, verduur die Jû|'hoansi gemeenskap soortgelyke ongeruimdhede ten opsigte van toegang tot hul grond.
Dié gebied het een van die hoogste trofee-jag kwotas in die land van die Namibiese regering gekry.
Wêreldbewaringsorganisasies, soos die World Wildlife Fund (WWF), hou vol dat trofee-jag, onder sommige omstandighede, voordelig as 'n natuurbewaringsinstrument vir sekere diersoorte of spesies kan wees, en dat trofee-jag aanvaarbaar is in gevalle waar die inkomste van trofee-jag lewensbestaan-en wyse verbeter.
Maar oor die jare het beweringe teen trofee-jag ondernemings uit plaaslike gemeenskappe in die streek opgeduik wat draai om toegang tot natuurlike hulpbronne.
''Ons mag nie meer in ons bewaringsgebied jag of veldkos versamel nie, al is dit ons reg om dit te doen,'' het 'n Jû|'hoansi ouderling in die Nyae Nyae-bewaringsgebied gesê. ''Wanneer ons uitgaan om te jag, word ons weggejaag en gesê dit is hulle grond.''
Namate gesprekke op beleidsvlak oor die toekoms van trofee-jag toeneem, moet die perspektief van inheemse gemeenskappe op grondvlak ingesluit en voor oë gehou word, en sulke gesprekke moet die gemeenskaplike impak van beleide in ag neem.
Te Veel op die Spel
Inheemse mense, die oudste inwoners van suider Afrika, is een van ses (6) inheemse bevolkingsgroepe in Namibië. Vandag beslaan hulle minder as 2% van die nasionale bevolking en het oor geslagte heen uitsluiting en gronduitsetting tydens kolonialisme en onder die Suid-Afrikaanse apartheidsregering ervaar, vóór Namibië se onafhanklikheid in 1990.
Die Nyae Nyae en Nǂa Jaqna bewaringsgebiede is twee (2) van die laaste vestings vir inheemse gemeenskappe in suider Afrika.
Die !Kûng en Ju|'hoansi gemeenskappe is die enigste etniese groepe in Namibië wie se gesondheidstatus sedert onafhanklikheid agteruit gegaan het. Hul bestaan en leefwyse sal heel waarskynlik aanhou daal tensy hul grondregte beskerm en gewaarborg word.
Sou hierdie mishandeling voortduur, naamlik die omheining van hul hulpbronne en die gepaardgaande gebrek om vir hulself te kan voorsien binne-in hul bewaringsgebiede, mishandeling deur dominante etniese groepe en trofee-jag ondernemings, sal geslagte se inheemse kennis, antieke kulture en tale binnekort verlore gaan.
***
Izzy Sasada is 'n joernalis, filmmaker en fotograaf wat op die mens se verhouding met die natuurlike wêreld fokus, van trofee-jag in die Kalahari-woestyn tot onwettige goud myne in die Peroewiaanse Amasone.
Hierdie kommentaar is 'n reaksie op 'n artikel gepubliseer deur John Grobler op Mongabay, 26 Februarie, 2019: It Pays, but does it Stay? Hunting in Namibia's Community Conservation System: https://news.mongabay.com/2019/02/it-pays-but-does-it-stay-hunting-in-namibias-community-conservation-system/
Lees hier verder:
1. Namibia's First Peoples Struggle to Access their Traditional Lands, Izzy Sasada, 19 April, 2023, Mongabay: News and Inspiration from Nature's Frontline: https://news.mongabay.com/2023/04/namibias-first-peoples-struggle-to-access-their-communal-lands-commentary/
2. Community Conservation in Namibia requires Balance and Understanding, Gail Potgieter, 29 May, 2019, Mongabay: News and Inspiration from Nature's Frontline: https://news.mongabay.com/2019/05/community-conservation-in-namibia-requires-balance-and-understanding-commentary/
3. San get Eviction Order against Tsumkwe Farmers, The Namibian, 16 August, 2018: https://namibian.com.na/san-get-eviction-order-against-tsumkwe-farmers/
Opmerkings
Plaas 'n opmerking