Maandag, 19 Desember, 2022, het iets merkwaardig gebeur: Die Nederlandse eerste minister, Mark Rutte, het om verskoning gevra vir Nederland se rol in slawehandel. Dié aankondiging op die Nederlandse regering se webwerf, government.nl, lui as volg:
“Die Eerste Minister Mark Rutte het vanmiddag in 'n toespraak om verskoning gevra vir die voorafgaande optrede van die Nederlandse Staat: aan verslaafde mense in die verlede, oral in die wêreld, wat as gevolg van daardie optrede gely het, sowel as aan hul dogters en seuns en hul nageslagte, tot vandag toe.”
Die Nederlandse premier het sy land se verskoning by die Nasionale Argiewe in Den Haag gemaak, in die teenwoordigheid van verteenwoordigers van organisasies wat aangedring het Nederland moet die nagevolge van slawehandel erken.
“Ons doen dit, en doen dit nou, sodat ons, op die vooraand van 'n belangrike gedenkjaar, saam 'n pad vorentoe kan vind. Ons deel nie net 'n verlede nie; ons deel ook 'n toekoms. So met hierdie verskoning skryf ons nie 'n punt nie, maar 'n komma.”
Die premier se verskoning is 'n belangrike deel van die Nederlandse regering se reaksie op 'n verslag getiteld “Kettings van die Verlede” (Eng. Chains of the Past) wat in Julie van 2021 deur die Slavery History Dialogue Group voorgelê is. Dié verslag het aangeraai dat die Nederlandse regering voort moet gaan met erkenning, om verskoning vra, en herstel in verband met slawehandel in die Koninkryk.
Die Nederlandse regering sal 200 miljoen Euro beskikbaar stel vir 'n fonds wat beoog om bewusmaking te versprei, betrokkenheid te bevorder en die hedendaagse gevolge van slawerny aan te spreek. Die toekenning van fondse sal in oorlegging met afstammelinge en ander betrokke partye geskied.
Daarbenewens het die regering voorgestel dat 'n onafhanklike herdenkingskomitee gestig moet word. Die komitee sal op 1 Julie, 2023, die taak opgelê word om 'n uitgebreide en waardige herdenking van die geskiedenis van slawerny van stapel te stuur, tesame met die Karibiese dele van die Koninkryk, Suriname, en ander lande.
“Hierdie komende jaar van herdenking, wat op 1 Julie begin, sluit in verskeie groot geleenthede regoor die Koninkryk. Die Koning voel persoonlik baie betrokke by hierdie onderwerp en sal op 1 Julie die herdenking in Amsterdam bywoon. Die gedenkjaar sal ruimte skep vir sosiale, kulturele en opvoedkundige inisiatiewe regdeur Nederlandse samelewing.”
Volgens Mark Rutte is sy regering se verskoning slegs die eerste tree. Die Nederlandse regering beplan ook om dié land se rol in die geskiedenis van slawerny 'n aansienlike deel van die onderwys-leerplan te maak.
Die merkwaardigste van die Nederlandse regering se onderneming om slawehandel te herdenk en te begin met herstelling, is seker sy onderneming om 'n nasionale museum en 'n kennissentrum op te rig, en om mense te help om hul van te verander sou daardie naam met slawerny verband hou.
Rutte gee toe in sy toespraak dat Nederland nie teen die feite van geskiedenis kan stry nie: Teen 1814 is 'n geraamde 600,000 kinders, mans, en vroue van Afrika na die Amerikas en Karibiese-eilande vervoer deur Nederlandse slawehandelaars onder die gesag van die Nederlandse Wes-Indiese Kompanjie, en tussen 660,000 en 'n miljoen mense was in die verre ooste mee handel gedryf deur die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie.
***
Lees hier verder:
1. Speech by Prime Minister Mark Rutte about the Role of the Netherlands in the History of Slavery, Government of the Netherlands: https://www.government.nl/documents/speeches/2022/12/19/speech-by-prime-minister-mark-rutte-about-the-role-of-the-netherlands-in-the-history-of-slavery
2. Government apologises for the Netherlands' role in the History of Slavery, 19 December, 2022, Government of the Netherlands: https://www.government.nl/latest/news/2022/12/19/government-apologises-for-the-netherlands-role-in-the-history-of-slavery
3. Dutch PM apologises for Netherlands' role in Slave Trade, The Guardian, 19 December, 2022: https://www.theguardian.com/world/2022/dec/19/dutch-pm-apologises-for-netherlands-role-in-slave-trade
5. The Dutch Atlantic: Slavery, Abolition and Emancipation, Kwame Nimako and Glenn Willemsen, Pluto Press, 2011: https://www.plutobooks.com/9780745331072/the-dutch-atlantic/
6. Dutch East India Company Trade Network, 18th Century: https://transportgeography.org/contents/chapter1/emergence-of-mechanized-transportation-systems/dutch-east-india-company-trade-network/
Opmerkings
Plaas 'n opmerking