Klassieke Khoekhoense Verhale: |apa !nab (Die Rooi Skilpad)

Die Kai Khoen vertel dat wanneer die Maan en die Son teenoor mekaar in die lug staan, wanneer dit Dag én Nag terselfdetyd is, op sulke vreemde tye word |apa !nab (Rooi Skilpad) gebore.

Hulle sê Rooi Skilpad is nie soos ander skilpaaie nie. Hulle sê hy is oud en wys gebore. 
   Terwyl ander skilpaadjies met mekaar speel, sit hy tussen die Groot Mense; eers by die mans, dan by die vroue. Wanneer die Groot Mense Veld toe gaan, bly hy nie soos ander skilpaadjies by die huis nie, hî'î, hy is saam Veld toe. 
    Hulle sê hy het nie baie woorde nie, maar baie ore. Van kleins af luister en verstaan hy alles soos 'n wyse ou man. Wanneer die ander skilpaadjies hom soek, vind hulle hom altyd tussen die Groot Mense. 
    Sy hoë dop is rooi, sy groot pote is rooi, sy pens is rooi, sy gesig en stert is rooi. Die ander skilpaaie het hulle met rooi poeier ingesmeer om soos hy te lyk, maar die poeier het afgeval. Rooi Skilpad is rêrig rooi. 
    Hulle sê hy is 'n ou man in 'n jong man se dop. Hy leer die Groot Mense se gewoontes aan en Hul maniere. Hy dink en praat soos Hulle. Hy het nie vriende van sy eie ouderdom nie want die ander jong skilpaaie verstaan hom nie. 
    Hoekom is jy rooi?” terg hulle hom, en dan loop hy weg na die Groot Mense. 
    Rooi Skilpad leer alles wat hy kan, vinnig en vroeg, by die Groot Mense. Omdat hy alles van die wêreld, sy mense, en sy tyd wil weet, leer die Groot Mense hom met graagte. Hulle hoef nie met hom vir die regte tyd te wag nie want hy is oud en wys gebore. Nog vóór hy vir die eerste keer Veld toe is met sy ouers, toe ken hy reeds die Veld se geheime. 
    Toe hy volwasse is, kom die Bose Gees tussen hulle woon. Dit is Kai |Khurub (Groot Droogte) oor die hele wêreld. Die Groot Rivier droog op, die bome se basse en takke droog uit, die Veld se vrugte raak op, die grasse breek af, die grond bring niks op nie. Sulke tye gebeur vreemde goed. 
    Die brandmaer beendere en velle van die grootste en sterkste nasies soos Olifant, Leeu, Buffel, Gemsbok, Eland, Kameelperd, lê oral in die sand. Die lug daar bo is blou, leeg, en droog. 
    Elke Nuwe Maan pleit Rooi Skilpad se mense met Groot Vader Reën, roep Hom aan, prys Hom, die hele nag deur, om terug te keer na hulle en die Bose Gees van tussen hulle te verwyder, want die verwoesting is groot. Maar elke Nuwe Maan se Horings wys afwaarts. 
    Sulke tye gebeur vreemde goed. 
   Die Wilde Hond eet haar babas. Die Seekoei verwerp haar ongebore kalfie. Die Leeu verslind sy welpies. Die Krokodil en Seekoei, wat altyd in vrede saam in die Groot Rivier woon, is dodelike vyande. En die Arende, Aasvoëls, Baviane, Neushorings, Uile, en Valke val die Skilpad-nasie genadeloos aan. 
    Die Groot Mense kan hulself verdedig deur in hul doppe te kruip, maar die kleintjies is weerloos. Dit is so erg dat 'n hele geslag van Rooi Skilpad se mense verdwyn, en sy mense versprei oral om hul eiers op te pas. Hulle word uit die lug aangeval en op die grond maak die baviane op die Groot Mense sowel as die klein skilpaadjies jag. 
    Die Skilpad-nasie slaap gewoonlik die hele nag deur, maar onder sulke omstandighede word sommige van hulle nagdiere want in vreemde tye gebeur vreemde goed. 
    Op 'n moeilike dag, daag 'n swerm neushorings op in hul gebied en vlieg laag, heen en weer, soos afgryslike skaduwees. Die neushorings spring bedreigend van klip tot klip naby die skilpaaie. Elke skilpad word deur ses of sewe neushorings dopgehou. Die Groot Mense bly vir lang tye, soms tot die sonsondergang, bewegingloos in hulle doppe. 
    Die Skilpad-nasie ly geweldig onder die neushorings. Hulle is dors en honger, uitgeput van in vrees lewe, hul bewegings is beperk, hul eiers en kleintjies in gevaar. 
   Een oggend, met die Rooidag, die heilige tyd net vóór sonopkoms, staan Rooi Skilpad vroeg op voor sy skaduwee en bedank die Heilige Maan vir alles wat hy ontvang het en toe loop hy na buite met sonopkoms asof alles weer reg is, asof die Veld weer vet is. 
    Ou Neushoring!” skree Rooi Skilpad teen die koppies en oor die droë Veld. 
   Uit 'n boom sien die Koning van die Neushorings met sy blink, skerp oë 'n groot, rooi skilpad op die grond en lek sy snawel af. 
    Wat soek jy, Rooi Skilpad?” vra hy met 'n grynslag. 
  Vandag,” sê Rooi Skilpad, “maak ek jou dood, Ou Neushoring. En, wanneer ek jou doodmaak, moet jou mense my mense uitlos en iewers anders gaan.” 
    Die hele swerm lag vir Rooi Skilpad. Hul skaterlag weergalm oor die Veld. 
    Vir my?” vra die koning. “Ek is die grootste neushoring, skilpad. Ek het die sterkste snawel. Ek sal jou met een ruk van my nek insluk.” 
   Dis reg, Ou Neushoring,” sê Rooi Skilpad, “maar belowe my hier, voor almal, dat jou mense iewers anders sal gaan en my mense sal uitlos as ek jou doodmaak.” 
    Die neushorings skater weer van die lag. 
    Ek belowe, Rooi Skilpad,” sê die koning. “Belowe jy ook vir my dat wanneer ek jou insluk en opeet, jou mense uit hul doppe sal kom sodat ons skilpadvleis kan eet.” 
    Ek belowe, Ou Neushoring,” antwoord Rooi Skilpad sonder om te aarsel. 
    Die Koning van die Neushorings spring uit die boom, land op die grond, en loop met sy lang bene doelgerig na Rooi Skilpad. Met een vinnige beweging gryp hy die skilpad op in sy magtige snawel en druk vir Rooi Skilpad met sy sterk tong in sy keel af. 
  Die Skilpad-nasie, wat alles dophou, is met afgryse vervul. Die neushorings spring opgewonde in die bome en op die klippe rond. 
    Skielik hoes die koning asof hy verstik. 
    Sy groot oë water. 
    Hy gryp na sy keel en kap teen dit met 'n vlerk. 
   Hy hardloop in die rondte, hyg, probeer vlieg, sak op die grond neer, klap sy vlerke dat die stof staan, en val om, morsdood. 
    Dis doodstil. 
    Wat maak ons nou?” vra een van die Groot Mense. “Hulle is albei dood. Wat word van die beloftes wat gemaak is?” 
    'n Neushoring vlieg skielik op en laat almal skrik. “Ons leef soos tevore!” 
    Nee!” skree 'n stemmetjie en toe almal weer kyk, sien hulle Rooi Skilpad kruip uit die dooie Koning van die Neushorings se snawel. 
    Hy is rooier as ooit want hy het in die neushoring se keel vasgesit. “Nee, julle moet my mense uitlos en iewers anders gaan!” 
    Die Groot Mense kruip verbaas uit hul doppe. Die neushorings het nog nooit so iets in hul lewens gesien nie: 'n Skilpad wat 'n neushoring kan doodmaak! Skilpaaie is dan kos? Dis die orde van dinge. Hulle is verslae. Die nuwe Koning van die Neushorings roep sy nasie byeen en hulle vlieg weg na 'n ander plek. 
    In vreemde tye gebeur snaakse goed. Wanneer die Maan en die Son saam in die lug skyn, wanneer dit Dag én Nag terselfdetyd is, op sulke vreemde tye word |apa !nab (Rooi Skilpad) gebore.

***

Hierdie antieke Khoekhoense verhaal is opgedra aan die oorspronklike twaalf (12) Kai !garib (Groot Rivier / Oranjerivier) nasies waarvan slegs die Kai Nama'gū'a (Groot Namaqua) vandag in daardie omgewing oorleef. Een van die Groot Rivier nasies wat tydens kolonialisme met hul dialek verdwyn het, is die Aini'gū'a (soms “Eini”, of Einiqua), en baie van hul oorlewende mense is aangeneem deur die Nama, onder andere. Hierdie ou verhaal is moontlik afkomstig van die Aini. Daar bestaan verskillende, geskrewe, en mondelingse weergawes van hierdie verhaal, ook met verskillende motiewe. 
    Ter herinnering aan |apa !nab en sy mense wat eens hier was: U word steeds onthou. Die kuns, deur Lauren Akaety van Displate, is genaamd Turtle Fire. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com      

Opmerkings