Klassieke Khoekhoense Verhale: Jakkals se Vrou

    Toe Jakkals met Hiëna trou, het hy een van die Miere se koeie gesteel om vir die troue te slag.

    En, nadat hy die koei geslag het, het hy sy bruid met die mooi beesvel bedek.

    En, nadat hy sy bruid met die beesvel toegemaak het, het hy vleisstukke op die slagpaal buite haar hut gehang sodat dit gekook kan word.

    En nadat hy die vleisstukke op die slagpaal gehang het, daag Leeu ongenooid daar op om van die vleis te eet. 

    Jakkals sê toe vir sy dogter om vir hom 'n leerband te gee om vir Leeu op na sy vuurmaakplek te trek. Toe trek hy en hy trek vir Leeu op tot amper by sy vuurmaakplek, en toe sny Jakkals die leerband sodat Leeu ondertoe rol. 

    ''Vir wat gee jy vir my 'n stukkende leerband?'' skel Jakkals sy dogter. ''Gee vir my 'n goeie leerband.''

    Sy gee toe vir hom nog 'n leerband en Jakkals trek weer vir Leeu op na sy vuurmaakplek. Toe Leeu se gesig naby die slagpaal is, sê Jakkals vir hom: ''Maak oop jou mond.'' 

    En Jakkals druk 'n kookwarm klip wat in 'n stuk beesvet toegedraai is in Leeu se mond, en Leeu rol weer ondertoe en val hom morsdood.

    Dáár kom die Miere aangehardloop, op soek na hul koei, en toe Jakkals hulle sien, toe hardloop hy weg. 

    Die Miere klim op tot by sy vuurmaakplek en sien Jakkals se bruid onder die beesvel. Hulle slaan en skop die beesvel, woedend oor die koei wat geslag is. 

    Hiëna dink dit is Jakkals wat haar só skop en slaan: ''Jou vaal gat!'' Skree sy onder die beesvel. ''Is dít hoe jy my behandel?''

    Sy gooi die beesvel af* en sien ander mense staan om haar.

    Toe spring sy op en hardloop weg.

***

    Hierdie pragtige, ou skat van 'n verhaal het verskillende lae en handel oor die verhouding tussen die Khoe en die Sān want onse mense verskil ten opsigte van lewenstyl en lewenswyse. Khoekhoense nasies en stamme is nomadiese herders wat met bees, bokke, hoenders en skape boer, en wild jag. Onse Sān-nasies en stamme is hoofsaaklik jagter-versamelaars wat in spesifieke gebiede, rondom spesifieke waterbronne jag, veldkos versamel en woon, soos leeus, luiperds, en jagluiperds. 

    Khoekhoense stamme moes in die verlede met hul families en vee deur Sān gebiede trek na water en weiding, of vir kulturele en geestelike geleenthede soos geboortes, troues, en sterftes, wat soms struweling met Sān-stamme veroorsaak het as gevolg van veediefstal, ontvoering (van dogters en vroue), roof, en moord. 

    Hierdie verhaal handel dan oor die kwessie van veediefstal en die gevolge daarvan. Dit het wonderlike simbole: Groot Mier en Mier was tot in 2016 gebiede in die Noord-Kaap, teen die oostelike grens van Namibië, en tradisionele vestings vir inheemse mense, Khoe en Sān. Die ''Miere'' in die verhaal is Khoe wat bees besit toe Jakkals een van hul koeie vir sy troue met Hiëna steel. Leeu daag ongenooid daar op en dring aan om ook van die beesvleis te eet wat tipies is van die werklike verhouding tussen Hiëna, Jakkals en Leeu (hulle vang, slag, en eet saam).

    *Deur Jakkals se beesvel van haar af te gooi, weier Hiëna om sy vrou te wees.

    Hierdie verhaal is regtig iets besonders. Ons het ook 'n inheemse gesegde: ''Jy is jakkals se vrou'' wat beteken 'n man maak 'n bespotting van 'n vrou. Die tekening hierby van Hyena Spirit Woman is deur PX Fuel. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com

Opmerkings