Klassieke Khoekhoense Verhale: Hulle het nie die Boodskap Gekry nie

    Van ouds af het miere baie vyande, en omdat hulle klein is, is daar baie sterftes onder hulle. Die meeste voëls is hul vyande, Miervreter leef geheel en al op miere, en Duisendpoot slaan op hulle toe om elke hoek en draai.

    Op 'n dag het van hulle bymekaar gekom en gedink dit sal goed wees om raad te hou en te kyk of hulle nie ooreen kan kom om na 'n veilige plek te vlug wanneer hulle deur voëls of diere aangeval word nie. Maar, by die byeenkoms was die miere se menings baie uiteenlopend en kon hulle nie besluite neem nie. 

    Daar is verskillende soorte miere en hul besprekinge het lank aangehou, maar tot niks gekom nie. Sommige miere kan vlieg en wou weg vlieg van hul vyande. Ander miere wou in gaatjies onder die grond vlug en daar woon. Nog andere wou 'n sterk miershoop bou wat net miere inlaat, niemand anders. Sommige miere wou in bome woon om heeltemal vir Miervreter te vermy.

    Ongelukkig het hierdie voorstelle niks bereik nie. Die miere kon nie saamstem oor 'n veilige plek vir almal nie. Elke groep besluit toe om maar hul eie voorstel te volg en verantwoordelikheid te vat vir hul eie veiligheid. 

    Op hierdie manier het elke groep miere stelselmatig 'n soort inwendige eenheid bereik wat uniek is. Elke mier het sy take en werk, en elk doen hul werk goed en gereeld. Hulle het 'n koning verkies en die werk onder mekaar verdeel sodat alles altyd vlot verloop. 

    Die probleem is dat elke groep dinge op sy eie manier doen en hulle is so besig dat nie een daaraan dink om hulself teen Miervreter of die voëls te beskerm nie. 

    Miervreter breek binne minute groot miershope af. Sodra die miere uit hul ondergrondse gaatjies kom, eet Miervreter hulle op. In die bome wag Duisendpoot die miere in, en Akkedis, die Jag-spinnekop (Eng. huntsman spider), en die voëls is vinnig, en vang vlieënde miere. 

    Toe die Koning van die Miere hoor dat hulle nie ooreen kan kom nie, het hy vir hulle 'n boodskap van eenheid en samewerking gestuur.

    Ongelukkig het die koning vir Miskruier (Eng. dungbeetle) gevra om die boodskap oor te dra en dié het, tot vandag toe, nooit by die miere uitgekom nie, met die gevolg dat daar steeds onenigheid en verdeeldheid onder die miere heers. 

***

    Hierdie verhaal was deel van 'n bondel wat in 1880 opgeneem is en, volgens die skrywer, oorvertel is deur 'n ''boesman'' (wat die sogenaamde ''Hottentot'' op daardie tydstip ingesluit het). Die betekenisse van die motiewe vervat in hierdie verhaal is eg inheems en verskyn in beide Khoekhoense en Sān nasies se volksverhale. Die foto hierby van 'n termiethoop in Namibië is geneem deur Pinnacle Digest. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com  

Opmerkings