Klassieke Ju|'hoansi Verhale: Ou Man Son

Lank gelede, lank voordat Onse Mense* op die aarde geloop het, in die Tyd van die Ou Nasies*, lank vóór selfs die Plat Boesmans* van die grotte wat die Eerste Volke is van wie ons werklik iets weet, het 'n Ou Man* op 'n sekere plek gewoon uit wie se oksels helder lig geskyn het.

    Wanneer hy sy arm opgelig het, was daar Lig aan een kant. Wanneer hy sy ander arm opgelig het, was daar Lig aan die ander kant. Wanneer hy albei arms opgelig het, het Lig rondom hom geskyn. Die lig het egter nét in die plek waar hy gewoon het geskyn; dit het nie ander plekke bereik nie.

    Dit was in die tyd toe onse mense nie vuur kon maak nie en die nagte donker, lank, en vreesaanjaend was. Dit was in die tyd toe onse mense vleis rou geëet het omdat ons nie van vuurmaak geweet het nie. In daardie tye het onse mense in grotte weggekruip en hulle met velle bedek wanneer hulle bang was of koud gekry het. 

    Hulle was ongelukkig wanneer die Ou Man sy arms laat sak het.

    Soms het die mense die Ou Man gevra om op 'n klip te staan sodat sy lig verder kon skyn. Soms het hy op 'n berg geklim en sy arms opgelig en dan skyn sy lig ver en verlig die hele Veld! Want hoe hoër hy was, hoe verder het sy lig geskyn.

    En wanneer sy lig geskyn het was die aarde warm en helder, en die mense kon jag en veldkos versamel, en hulle het gedans, gesing, en gesmul. 

    Toe sê die mense: “Ons sien nou: hoe hoër hy is, hoe verder skyn sy lig. As ons hom net baie hoog kan sit, sal sy lig oor die hele aarde skyn.” 

    Die mense maak toe 'n plan en uiteindelik roep 'n wyse ou vrou al die jongmense bymekaar en sê vir hulle: “Gaan na die man uit wie se oksels die lig skyn. Julle moet gaan wanneer hy slaap, en die sterkste onder julle moet hom onder sy arms vasvat, en optel, en hom heen en weer swaai, só, en hom hoog op in die lug gooi sodat hy bo die berge is, sy arms oplig en lig te laat skyn, die aarde warm maak, en groen goed kan groei.”

    Toe gaan die jongmense na die plek waar die Ou Man gelê en slaap het. Hulle het soetjies oor die rooi sand geloop om hom nie wakker te maak nie. Maar hy was in 'n diepe slaap, en voor hy wakker kon word, het sterk jongmense hom onder sy oksels opgetel en hom heen en weer geswaai, só, soos die wyse ou vrou gesê het.

    Toe, terwyl hulle hom swaai, gooi hulle hom hoog op in die lug, baie hoog, en daar het hy loop vasgesit.

    Toe die Ou Man weer wakker word en sy arms oplig terwyl hy hom uitstrek, het lig die hele aarde verhelder en warm gemaak, en groen goed laat groei. Dit was die Eerste Dag. En so was dit elke dag daarna. Wanneer hy een arm laat sak het, was die dag half-donker, en wanneer hy albei sy arms laat sak en hom omdraai om te slaap, is dit heeltemal donker. 

    Ou Man Son is nie meer 'n mens nie. Hy is nou so rond soos 'n tsamma van heen en weer in die lug rondrol. Soms is hy ver weg van die aarde en dan is dit baie koud. Wanneer hy weer nader kom, word die aarde warm, groen goed groei, en die Veld dra vrugte.  

    En so is dit tot vandag toe.

***

    Daar bestaan vele weergawes van hierdie antieke verhaal, bogenoemde is slegs een van vele, en al verskil die weergawes ook van mekaar, bly een karakter dieselfde: die besondere ou man uit wie se oksels helder lig geskyn het en wat hoog op in die lug gegooi is om Ou Man Son te word. 

    Verhale uit die Steentydperk, wat ongeveer 3,4 miljoen jaar geduur en 4,000 jaar V. C. (voor Christus) geëindig het, is uitsonderlik en skaars. Die Kxalaxadi (Kalahari) is een van die laaste plekke op aarde waar soortgelyke verhale (miskien) nog gehoor kan word. Volgens westerse argeoloë het die mensdom ongeveer 780,000 jare gelede begin om vuur te beheer en te maak en hierdie verhaal verwys na 'n tydperk vóór vuurmaak wat aandui dit is 'n oer-verhaal. 

    Nes ander metaforiese verhale van die inheemse Kxalaxadi-stamme, verwys hierdie verhaal terug na karakters en gebeure wat nie meer hedendaagse verwysings het nie, verwysings wat, ongelukkig, uit menseheugenis verdwyn het. As inheemse mense weet ons dat dié besondere Ou Man eens op 'n tyd sy eie agtergrond, avonture en stories gehad het, en dat ons vandag slegs die finale gebeurtenisse van sy bestaan aan lesers kan oordra.

*Onse Mense: die huidige, oorlewende Kxalaxadi-stamme

*Tyd van die Ou Nasies: die uitgestorwe, voorafgaande stamme (ook bekend as ''spookstamme'')

*Plat Boesmans: die stamme wat in grotte gewoon het, en nie in die Veld nie

*Eerste Volke: inheemse mense, of First Nations in Engels

*oksels: armholtes, onderarms, of blaaie.

    Alhoewel onvolledig, moet ons hierdie wonderlike juweel van ons voorouers bewaar, koester, en oordra aan die jeug (hulle verskyn ook in hierdie verhaal). 

    Hierdie klassieke inheemse verhaal behoort aan alle inheemse nasies en stamme van suider Afrika en moet as sulks aangedui word om te verhoed dat dit deur nie-inheemse mense opgeëien word. 

    Die foto hierby van die son oor die Kxalaxadi-woestyn is verskaf deur Quality Pixels Photography: The World is Beautiful. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.  

Opmerkings