Klassieke Khoekhoense Verhale: Die Kwêvoëls se Spook

    Die Kai Khoen vertel daar was 'n jagter wat nie na sy leermeester en die ouderlinge wou luister nie: hy het nét kwêvoëls gejag.

    Sy leermeester, wat hom leer jag het, het die jagter aangespreek en vir hom gesê hy moet ander voëls en wild ook jag anders raak die kwêvoëls kwaad, óf hulle gaan weg. Die ouderlinge het saam om die vuur gesit en hom gewaarsku dat hulle, nes die kwêvoëls, ongelukkig is met sy doen en late.

    ''Jy oortree die reëls,'' het hulle vir hom gesê. 

    Die jagter het hom egter nie aan sy leermeester nóg minder die ouderlinge se vermanings gesteur nie. Hy het aanhou kwê-voëls jag. Sodra hy kwêvoëls gewaar het hy hulle geskiet, selfs kuikens, wat 'n groot oortreding is.

    Die ouderlinge het hom agter sy rug bespreek want hulle kon nie meer mét hom praat nie. 

    ''Ons kan hom nie verban nie,'' sê die oudste jagter, ''want oral waar hy gaan sal hy kwêvoëls doodmaak. Hy is aan ons en hierdie plek verbind. Dít wat hy doen sal lyding en smart oor almal bring. Ons sal vervloek word.''

    ''Ons het gedoen wat ons kon,'' sê sy leermeester. ''Kom ons laat hierdie ding oor aan die kwê-voëls.'' Hy staan op, spoeg op 'n klip*, en gooi dit in die vuur om aan te dui hy het klaar gepraat.

    Nie lank hierna nie is die jagter wéér in die veld, weereens op soek na kwêvoëls. Hy stel sy wippe en sit doodstil onder 'n boom en wag.

    Kort daarna stryk 'n groot, grys kwêvoël neer in een van die boom se sterk takke*. Dit is die grootste kwêvoël wat die jagter nog ooit gesien het. Die kwêvoël se groot, grys kam buig en skitter in die son en wind soos 'n jagboog. Die voël draai sy kop skuins, sy slim oë afwaarts, en kyk die jagter in die oë.

    Sonder om te dink, skiet die jagter die pragtige kwêvoël met 'n pyl in die bors. Die voël wieg op die tak, maak sy oë toe, en val op die grond voor die jagter se voete.

    Die jagter tel die kwêvoël op en gaan huis toe.

    Sy vrou en kinders sien uit na aandete omdat dié kwêvoël buitengewoon groot is. Sy berei 'n sappige ete vir hulle voor en hulle eet. Later, ná die jagter sy wapens skoongemaak het, en sy vrou vir die kinders 'n storie vertel het, is almal bed toe.

    Ewe skielik en kliphard begin die kwêvoël te praat en sing in die jagter se maag terwyl hy lê en slaap. 

    ''Khoe-e-e-e! Koh-heeeeh!*'' sê die kwêvoël. ''Jy het my geëet. Ek wil in die Veld vlieg. Ek wil in die Veld wees!'' 

    Die jagter, sy vrou, en kinders skrik wakker en wonder waarvandaan die kwêvoël se stem kom. Toe sê die kwêvoël dieselfde ding in sy vrou se maag, en toe in sy kinders se mae. 

    Die jagter spring op uit sy bed, maar val onmiddellik om. Toe spring sy vrou ook op, en val om. Toe staan hul kinders op, en val om. Toe sterf almal daardie aand.

    Die volgende dag daag sy leermeester by die jagter se huis op want die skaduwees is klein op die grond, maar die jagter se deur bly toe asof hy siek is, óf slaap. Hy roep na die jagter op sy grootmens naam want 'n man en 'n kind is twee verskillende mense. 

    Toe stoot hy die huis se deur versigtig oop en dààr sien hy hoe die liggame lê.

    Geskok hardloop die leermeester na die ouderlinge. 

    ''Hulle is dood!'' skree hy, en begin huil want hy het die jagter soos sy eie seun beskou. 

    Die ouderlinge loop na die jagter se huis en ontbied die heilige dokter oppad daarheen want dit is die Dood. 

    Terwyl die ouderlinge by die deur staan en die leermeester buitekant huil, loop die heilige dokter van een lyk na die ander en bestudeer almal noukeurig. Hy sien hope grys vere oral in die jagter se huis, oral. Hier is 'n baie groot oortreding, dink hy. 

    Hy knik sy kop by elke liggaam, druk die oë toe, en bind die kakebene aan die koppe vas met leerbande. 

    ''Dis groen bessie gif,'' sê hy uiteindelik vir die ouderlinge. ''Kwêvoëls kan groen bessies eet en niks oorkom nie, maar dit is dodelik vir ons. Sy vrou het nie die pens verwyder toe sy die voël gekook het nie.'' 

    Die Kai Khoen sê tot vandag toe dat die jagter nie 'n regte kwêvoël geskiet het nie; hulle sê tot vandag toe dit was die spook van alle kwêvoëls wat hom doodgemaak het.

***

    spoeg op 'n klip: In die onlangse verlede het onse mense nog op 'n klip gespoeg, die klip op 'n gewyde hoop klippe gegooi, en gehoop dat iets goed met hulle gebeur soos om 'n goeie jagtog te hê.

    * sterk takke: Onse mense hoop jong jagters ontwikkel ''sterk takke'' (of sterk arms) vir die jagboog om sodoende goeie jagtogte te hê.

    Khoe-e-e-e! Koh-heeeeh! Dit is duidelik hierdie verhaal is van toepassing op, en verwys na, die hele Khoekhoense gemeenskap want ''khoe'' beteken mens in Khoekhoegowab.

    Hierdie wonderlike verhaal is opgedra aan die ǁhai'ǁkhaua Namaqua-stam te !autsawises, ||kharas, in die suide van ons land, dieselfde stam van oorlede Gaob Stephanus Goliat, 'n leier soos min, en sy mense, die afstammelinge en nasate van die ou Ystermond-Khoe  (|uri'amgu) nasie, wat nou Grys Kamme is. Mag u goeie jagtogte hê. 

    Die foto hierby van 'n grys kwê-voël in Namibië is afkomstig van eBird se webwerf. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com  

Opmerkings