Die Kai Khoen sê die ystervarke het twee wagters. Hulle is soos beskermers en oppassers wat alle ystervarke oppas.
Hulle sê die Ystervark konings lyk amper soos mense en dat hulle regop loop soos mense, maar is groter as ystervarke en het ystervark gesigte.
Wanneer die Ystervark konings fluit en met hul stawwe op die grond slaan, hardloop alle ystervarke terug na hul gate. Die Ystervark konings kom glo andersins nooit uit hul gate nie en verkies om ondergronds te bly.
Eendag gaan twee mans Veld toe om ystervarke te jag, maar Khoena waarsku hulle teen dit.
“Moenie, moenie,” waarsku Khoena. “Nes die baviane het die ystervarke beskermers. Bly weg en los hulle uit!”
Maar die mans luister nie en gaan jag ystervarke.
In die Veld vang en maak die mans baie ystervarke dood. Hulle was dom want hulle het nie geweet die ystervarke het oppassers nie.
Toe kom een Ystervark koning onder die grond uit en kyk om hom rond. Toe kom die ander Ystervark koning ook onder die grond uit en kyk om hom rond.
Hulle sien die mans maak ystervarke genadeloos dood.
Een Ystervark koning fluit en slaan met sy staf op die grond, en die ander Ystervark koning fluit en slaan op die grond met sy staf, maar die ystervarke hardloop nie terug na hul gate toe nie want die mans maak te veel ystervarke dood.
Die een Ystervark koning grou 'n gat en toe een van die mans daarin trap, breek sy been. Die ander Ystervark koning rol 'n groot, ronde klip na die ander man. Toe hardloop die Ystervark koning op een plek totdat stof hoog in die lug opstaan en die man dink 'n renoster bestorm hom. Toe hy omdraai om weg te hardloop, struikel en val hy hom morsdood teen die klip.
Die mans se mense het hulle gesoek en vir Khoena gevra waar die mans is en Khoena het vir hulle gesê die mans het ystervarke gaan jag. Khoena het hulle nie vertel dat een van die mans in die Veld lê en kerm nie. Khoena het hulle nie vertel dat hulle die mans gewaarsku het om nie ystervarke te jag nie want ystervarke het oppassers.
Vir 'n lang, lang tyd het die mans só in die Veld gelê, dáár waar die Ystervark konings woon, tussen die ystervarke se dooie liggame, waar Khoena nie 'n voet wil sit nie.
Khoena het vir niemand vertel dat hulle op die Wind kon hoor hoe die Ystervark konings skree:
“Dis die laaste keer! Dis die laaste keer dat so baie van my mense vermoor word!”
Die Kai Khoen sê die Ystervark konings het nie ophou skree toe die mans sterf nie. Inteendeel, hulle het aanhou skree oor alle ystervarke wat doodgemaak is, en geskree totdat die mans se beendere hard en wit in die sand gelê het.
***
Hierdie ingewikkelde verhaal handel, onder andere, oor ons inheemse geloof dat diere beskermhere het, wat hulle bewaar en oppas. Dit waarsku teen die oormatige jag van diere, iets wat vir onse mense afstootlik is, en een van ons grootste taboes is.
Dit is 'n verhaal vir volwasse mans wat besnyde* en ingesnyde* jagters is. Vóór, en tydens kolonialisme, is hierdie verhaal aan jong mans oorvertel wat vir die eerste keer, met die aanvang van puberteit, Veld toe gevat is.
*Sodra hul stemme breek, is jong Khoekhoense mans van dieselfde ouderdomsgroep Veld toe geneem vir inisiëring, opvoeding, en is hulle ook besny.
*Jagters is gereeld (of selde, afhangende van die soort jagter en sy vaardigheid) deur heilige dokters tydens genesingseremonies ingesny vir beskerming, geluk, gesondheid, en teen slangbyte. Onthou, ons het 'n reël dat slegs besnyde en ingesnyde volwasse mans die jagboog mag maak, gebruik, en jag, want hulle is “skoon” en “toegelaat” deur die Veld om daar te wees.
Hierdie verhaal is opgedra aan almal wat hul Naman / Namaqua-herkoms eerbiedig en waardeer, wat trots Nama is, en diegene wat verbintenis met hul Nama-herkoms soek. Toxoba luister na die Kai Khoen. Die kunswerk hierby is genaamd Porcupine Monster en is geskep deur AI Image Generator. As u tot hierdie blad wil bydra, kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking