Klassieke Khoekhoense Verhale: Die Vlieënde Leeus

 Lank, baie lank gelede kon leeus vlieg.

    Hulle het nie vlerke vol vere soos voëls gehad nie, maar vlerke van vel en been soos vlermuise. Die leeus se vlerke was egter baie groot, baie dik en baie sterk, en wanneer hulle nie gevlieg het nie, is die vlerke langs hul sye gevou.

    As hulle wou vlieg, het die leeus eers hul vlerke uitgesprei, die vlerke stadig op en af beweeg, en dan vinniger en vinniger totdat groot, stof wolke hoog gestaan het, en in die lug opgestyg.

    Mens en dier kon nie leef met vlieënde leeus in die omtes nie; dit was 'n slagting.

    Wanneer hulle hoog bo die aarde vlieg en 'n trop springbokke op die grond gewaar, het die leeus hul verke om hulle gevou, vinnig ondertoe gedaal, en 'n springbok met hul ysterkloue gevang voordat die springbok kon wegspring.

    Die vlieënde leeus se leier, Groot Oom Leeu, het die geheim en krag van sy nasie se vlerke in sy lêplek bewaar. Wanneer die Veld vet is sal jy sien leeus eet gewoonlik net die ingewande van prooi en los die bene, senings, en spierweefsel vir ander diere, soos hiënas, jakkalse, en aasvoëls.

    Groot Oom Leeu het egter ál die geraamtes van die diere wat sy nasie geëet het in sy lêplek op 'n krans bymekaar gemaak, en die bene só gerangskik dat nie een enkele been gebreek óf weg is nie. Op hierdie manier het hy die krag van sy nasie se vlerke beskerm, en ook hul mag oor prooi bewaar.

    Omdat hy soms vir dae óf weke weg van die krans moes vlieg om te jag, het Groot Oom Leeu die witborskraai-nasie gevra om vir hom twee, jong wit kraaie te gee om die bene in sy lêplek op te pas. 

    Wit kraaie word selde en slegs onder spesiale omstandighede gebore, soos in vloed jare, maar leeus en witborskraaie het tot vandag toe 'n baie vreemde verhouding omdat witborskraaie om en om leeus sal vlieg, leeus terg en uittart, en selfs agtervolg.

    In elk geval, twee jong, wit kraaie van die witborskraai-nasie bewaak toe die beendere van alle diere wat die vlieënde leeus eet in Groot Oom Leeu se lêplek.

    Nou dit werk só. Sommige nasies kan twee heeltemal verskillende dinge ewe goed doen. Die leeus kon, daardie tyd, op die aarde loop sowel as in die lug vlieg. 'n Ander nasie wat ook so iets kan doen is paddas, en hul leier is Brulpadda. Paddas kan op die droë grond sowel as onderwater leef. Nasies wat sulke goed kan doen is ewe magtig en kan mekaar seermaak, as 'n ding op 'n ding kom.

    Brulpadda het weer sy nasie se geheim onderwater bewaar, maar hoor op 'n dag 'n naaldekoker en 'n waterlopertjie skinder dat Groot Oom Leeu die geraamtes van alle diere wat vlieënde leeus eet in sy lêplek aanhou, en dat twee wit kraaie glo die bene oppas. 

    Brulpadda dink toe dat hy sy eie nasie teen die vlieënde leeus moet beskerm. Hy klim toe uit die vlei en gaan na Groot Oom Leeu se lêplek dieselfde dag dat hy hoor laasgenoemde het daarvandaan verkas.

    Hoog op die krans, by die ingang van Groot Oom Leeu se lêplek, kry Brullpadda die twee wit kraaie.

    ''Hoekom sit julle die hele dag hierso, wit kraaie?'' vra hy, heel onskuldig.

    ''Dit het niks met u te doen, Oom Brulpadda,'' antwoord een van die wit kraaie hom. 

    ''Dan sal ek maar hier saam met julle sit,'' sê Brulpadda toe.

    Na 'n ruk raak die wit kraaie ongemaklik oor die brulpadda met sy groot, starende oë wat voor hulle sit.

    ''Wat soek u, Oom Brulpadda?'' vra die ander wit kraai. 

    Die brulpadda skud sy kop. ''Niks. Ek wonder maar net hoekom julle die hele dag hier sit en nie rond vlieg soos jul nasie nie.'' 

    Die wit kraaie kyk mekaar en raak weer ongemaklik. 

    ''Julle moet seker vreeslik moeg wees vir heeldag so sit,'' gaan Brulpadda voort. ''Hoekom vlieg julle nie 'n bietjie en strek jul vlerke nie? Ek sal hier sit totdat julle terugkom. Ek kan mos nie soos julle vlieg nie.''

    Die jong, wit kraaie het vergeet dat Brulpadda ook magtig is. Hulle kyk in die lug op en rond en sien nêrens vir Groot Oom Leeu nie. Toe gil hulle opgewonde en vlieg weg van die krans.

    Toe hy hulle nie meer kan hoor of sien nie, gaan Brulpadda binne-in Groot Oom Leeu se grot. Hy sien die geraamtes van alle diere wat die vlieënde leeus eet en breek die bene soos droë takke! Hy breek elke been of gooi hulle stukkend teen die rots.

    Daarna kruip hy teen die krans af, spring terug na die vlei toe, en verdwyn onderwater.

    Toe die wit kraaie terug by die krans kom sien hulle oral stukkende bene. Alles was flenters! 

    Hulle vlieg reguit vlei toe en skree oor die water waarop die waterlopertjies ruk-ruk loop. ''Oom Brulpadda, hoekom is jy so goddeloos? Hoekom is jy so skelm?'' skel hulle. ''Groot Oom Leeu sal verskriklik kwaad vir ons wees!''

    Brulpadda maak asof hy hulle nie hoor nie. 

    Toe die wit kraaie weg vlieg, steek Brulpadda sy kop bo die water uit en skree:

    ''Sê vir Leeu ek is Die Man wat die Bene Gebreek Het! Sê vir hom ek bly in die vlei en as hy my wil sien moet hy hierheen kom!'' 

    Groot Oom Leeu was op daardie tydstip ver weg in die Veld. Toe hy 'n trop sebras gewaar, sprei hy sy groot vlerke uit om op te styg, maar iets voel nie reg nie; sy vlerke werk nie. Hy kyk na die ander leeus en sien hul vlerke werk ook nie. Toe weet hy iets is fout by die krans! 

    Uiteindelik besef hy dat sy nasie nie meer kan vlieg nie en stap stadig terug huis toe. Daar gekom sien hy die stukkende bene en klap woes na die twee wit kraaie met sy ysterkloue, maar omdat hy nie meer kan vlieg nie is hulle nie meer bang vir hom nie. Hulle vlieg om en om sy kop. 

    ''Groot Oom Leeu,'' sê hulle, ''Oom Brulpadda het die bene gebreek. Hy het gesê hy is in die vlei as u hom soek.''

    Toe vlieg hulle weg na hul eie nasie en vertel vir almal wat gebeur het. 

    Groot Oom Leeu hardloop teen die krans af, reguit vlei toe. Op die rand van die vlei sien hy Brulpadda sit toe oë in die son. 

    En dáár, net daar, raak Groot Oom Leeu slinks en sak hy op sy pens neer en bekruip vir Brulpadda soos 'n Skelm in die Gras. Net toe Groot Oom Leeu hom wil bespring, duik Brulpadda in die vlei en verdwyn onderwater.

    Van daardie dag af bekruip leeus hul prooi soos skelms en alhoewel hulle steeds prooi vang, is hulle nie meer so gevaarlik soos toe hulle kon vlieg nie. 

    Danksy Die Man wat die Bene Gebreek Het kan mens en dier weer leef, en soms lank leef.

***

    Hierdie verhaal moet baie versigtig benader en ontleed word omdat soveel motiewe daarin vervat is. Die hoofkarakters, met ander woorde die vlieënde leeus, wit kraaie, en brulpaddas, het elkeen gewoonlik hul eie voorafgaande agtergrond en verhale, kulturele, en simboliese betekenisse in Khoekhoense kultuur. 

    Nes inheemse verhale van die Kxalaxadi (Kalahari) verwys Khoekhoense verhale ook gewoonlik na werklike, waarneembare verskynsels soos leeus, in hierdie geval, en hou die verhale se inhoud gewoonlik nou verband met die natuurlike, werklike geaardheid, gedrag, en voorkoms van 'n onderwerp. 

    Hierdie is die eerste verhaal wat vorendag kom met leeus wat kon vlieg, iets buitengewoon, selfs vreemd, in die Khoekhoense mondelinge tradisie. As u kommentaar hierop wil lewer, of as u van enige ander bestaande weergawes van hierdie verhaal weet, gewoonlik is daar baie, kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com

Opmerkings