Klassieke |xam Verhale: Antie Aardwolf se Les

    Toe |kâg'n* baie jonk was, het hy en sy familie by Antie Aardwolf gaan kuier, daar waar sy bly.

    Maar, hulle het haar onkant gevang want sy het niks gehad om vir hulle voor te sit nie, en haar gaste was honger na hul lang reis.

    Toe huil Antie Aardwolf diep in haar hart en gee vir hulle een van haar kleintjies om te eet.

    Hulle het haar bedank, maar omdat ons nie 'n kosbare gawe van die hand mag wys en ondankbaar wees nie, het haar gaste die kleintjie met 'n swaar gemoed gaargemaak en met almal gedeel om te eet. Antie Aardwolf het nie saam geëet nie.

    Toe gaan |kâg'n en sy familie terug huis toe, daar waar hulle bly.

    Ongelukkig was die jong |kâg'n inhalig en ongemanierd en, op 'n dag, gaan hy op sy eie na Antie Aardwolf se huis, daar waar sy bly. Hy maak 'n vuur naby haar huis en vra vir nóg een van haar kleintjies om te eet.

    Antie Aardwolf het een van haar kleintjies oor die vuur na hom uitgehou en toe |kâg'n na die kleintjie uitreik, gryp sy sy arm en trek hom vorentoe in sy eie vuur in.

    |kâg'n se hande, knieë, en voete het lelik gebrand. Hy het opgespring en weggehardloop.

    Dit is dan hoe |kâg'n geleer het om dankbaar te wees. 

    Dit is hoe |kâg'n geleer het om nie inhalig te wees nie. 

***

    Vir inheemse mense in suider Afrika is die ergste seker dat die jong |kâg'n op sy eie teruggegaan het na Antie Aardwolf en haar vir nóg een van haar kleintjies gevra het om te eet, nadat sy reeds 'n kosbare kleintjie vir haar gaste opgeoffer het. Hy was gevoelloos en uiters swak gemanierd en het verdien om deur sy eie inhaligheid (die vuur) gebrand te word.

    Hierdie wonderlike verhaal is ook deel van ons inheemse morele waardestelsel.

    *|kâg'n (ook |kaggen, cagn, kang) 

    Die foto hierby van 'n aardwolf in Namibië is geneem deur Safari2Go (namibian.org). Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com. Wees dankbaar vir alles wat jy ontvang. Moet nooit inhalig wees nie.  

Opmerkings