Die Verhaal van ǁkhau, ǀapa Khoeb (Rooi Man) van Groot Namakhoeland

    deur Medwin Swartbooi 

    ǁkhau het in !garob (die Veld) saam met sy gagab (geesdier) gewoon wat soms Aríb ('n hond), Pírib ('n bok), en selfs ǀhôas ('n kat) is.


    Wanneer hy gaan jag, het ǁkhau altyd terug omgekyk na sy matjieshut en sy twaalf seuns voor sy hut gesien staan wat hom voorspoed met die jagtog toewens, en wanneer hy hulle sien dan sê hy vir homself: 

    ''Kyk my Bondelswart kinders,'' want vanver lyk hulle soos swart bondeltjies. 

    Hy noem hulle toe !gamiǂnû ǁkhauǀgôan, die Bondelswart kinders van ǁkhau.

    Een dag gaan ǁkhau en sy gagab, hierdie keer 'n hond, !garob toe om te gaan jag. 

    Oppad steek 'n pendoring hom in die voet, en bloed loop op die grond waar hy trap, en kinders rys op uit die grond waar sy bloed loop, en die kinders sien hul vader se beseerde voet en maak vir hom skoene van velle (velskoene) om die bloeding te stop sodat leeus hom nie kan opspoor nie, sodat sy voete nie weer deur pendorings gesteek word nie.

    En ǁkhau noem toe hierdie kinders ǁhaboben (velskoendraers) en van daardie dag af dra die Rooi Man van Groot Namakhoeland velskoene. 

***

    Medwin Swartbooi is van ǀnomsoros (Karasburg), in die ǁkharasstreek van Namibië. Hierdie verhaal dra hy op aan die inheemse !gamiǂnûn (Bondelswart) gemeenskap. Alle regte tot hierdie werk rus met die skrywer. Die foto hierby is van Kai ǁkharas (Groot Karasberge / Great Karas Mountains) en is aanlyn verkry van Namibia: Endless Horizons. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.  

Opmerkings