Aartappelslaai kom oorspronklik uit Duitsland in sentrale Europa, en het in Namibië tydens die Duitse koloniale tydperk aangekom. Dit word aanlyn beskryf as 'n slaai wat met gekookte aartappels (of “erdappels” soos sommige van onse mense sê) gemaak word, 'n slaaisous, en 'n verskeidenheid ander bestanddele, soos groente en gekookte eiers. Volgens aanlyn bronne is dié slaai al meer as 500-jaar oud.
Die Duitsers noem dit Kartoffelsalat en verskillende weergawes van dié slaai bestaan soos die resep ook mettertyd na ander lande versprei het.
In sommige lande, byvoorbeeld, word die slaaisous met mayonnaise gemaak. In ander gebruik hulle weer gewone jogurt óf suurroom.
In die suide van Duitsland word aartappelslaai teen kamertemperatuur of warm bedien met gepekelde asyn, en is die gewildste ander bestanddele spek en groen ui.
In die noorde van Duitsland eet hulle aartappelslaai koel of koud met 'n mayonnaise sous en gekookte eiers, uie, en agurkies.
Die Amerikaanse weergawe van aartappelslaai aard na die suid-Duitse resep en die Asiatiese weergawe aard weer na die Amerikaanse weergawe, maar is soeter en bevat meer eiers. In Frankryk maak hulle aartappelslaai met mayonnaise (natuurlik, wat anders?) of vars room en voeg hulle seldery en waterkers by. Japan se weergawe is nogal interressant want dit word met fyngemaalde aartappels of kapokaartappel (Eng. “mashed potatoes”) gemaak met mayonnaise of rys asyn en dan voeg hulle mostert, ham, komkommer, wortels, en gekookte eiers by. Rusland s'n is netso interressant; dit word met gelyke dele aartappel, geelmielies, ertjies, pietersielie, en appel gemaak en dan gooi hulle net sout en peper oor vir smaak. In Suid-Afrika maak sommige hul aartappelslaai met kondensmelk en voeg biltong en kaas by. Dit verbaas my nogal dat die gekookte aartappels in baie lande nie geskil word nie.
Dit daar gelaat, daar is letterlik duisende resepte vir aartappelslaai op YouTube en die Internet. 'n Mens wil skoon slaai maak los soveel resepte is daar. Sommige restaurante het kamma gourmet aartappelslaaie wat net onderstreep hoe algemeen en gewild dié slaai is.
In Namibië het inheemse mense ook mettertyd aartappelslaai begin maak en eet soos die plaaslike Duitse bevolking, sodat aartappelslaai vandag 'n betroubare item op inheemse spyskaarte is. Ons eet nie juis kapokaartappel nie, maar as ons 'n sak aartappels kry, of die prys vir 'n kilogram is redelik, dan maak ons 'n slaaitjie. Braaivleis kort tog iets sonder aartappelslaai, of hoe?
En so het ons dan ook ons eie weergawes.
Die resep wat ek in my oorlede ma se kombuis geërf het lyk soos die suid-Duitse weergawe met 'n mayonnaise sous, gekookte eiers, uie, en pietersielie, soms agurkies by. Ons skil nou weer die gekookte aartappels, sny in blokkies op, voeg suiker en melk by die mayonnaise om 'n romerige, soet-suur slaaisous te maak. My ma het geglo haar slaai moet in die yskas oornag en die volgende dag geëet word. Ek eet myne sodra dit afkoel (kamertemperatuur) want 'n yskoue aartappel in die kies laat pyn my kake en tande.
Ek het al koue, sout aartappelslaai geëet, baie heerlik, grof met stewige aartappel stukke, veral ná begrafnisse - baie vullend. Ek het ook al koue, soet aartappelslaai geëet, ook heerlik, soms grof, maar altyd fyn amper soos kapokaartappel, met 'n romerige mayonnaise sous, uie, en gekookte eiers. Beide soet en sout, grof en fyn slaaie se beskikbaarheid word deesdae deur die ekonomie bepaal. Fyn, soet slaai met sout braaivleis word vinnig opgeëet, en growwe, sout aartappelslaai loop lekker as bykos soos byvoorbeeld, groente.
Die punt is, smaak verskil.
'n Vyf-honderd-jaar oue dis soos aartappelslaai is ook nou gewild in warme suidelike Afrika waar dit byna onmoontlik is om aartappels natuurlik aan te kweek en groei sonder hoë finansiële insette. Aartappels is endemies aan die koel Andes in Peru, Suid-Amerika (Peru het blykbaar 4,000 variëteite van aartappels), en is deur Spaanse koloniste eers na Europa uitgevoer, vanwaar dit na die res van die wêreld en ook suidelike Afrika gereis het. Aartappels word plaaslik op groot, kommersiële plase onder besproeiing gekweek. Hulle hou van klam, ryk, vrugbare grond en verkies 'n koel klimaat (nie hoër as 25 grade Celsius) met maksimum ses (6) ure se sonskyn.
Hierdie veelsydige knol is wel voedsaam. Dit bevat vitamiene B6 en C, kalium, sink, en proteïne, en die skil bevat vesel wat belangrik is vir vertering. Dit laat voel mense ook langer versadig wat moontlik tot gewigsverlies kan bydra en is dit vet-vry, kolesterol-vry, en bevat natuurlike sodium (sout).
Alhoewel aartappels nie 'n stapel in ons geweste is nie, eet ons tog pakke aartappelskyfies of harde tjips op, hou ons ook van slap tjips, en maak elkeen hul eie weergawe van aartappelslaai. Niemand kan egter spog dat hulle s'n die beste is nie omdat aartappelslaai resepte hemelsbreed, en van land tot land, verskil.
***
Lees ook:
1. International Potato Centre (Peru), Native Potato Varieties: https://cipotato.org/potato/native-potato-varieties/
2. Wikipedia, Potato salad: https://en.wikipedia.org/wiki/Potato_salad
3. Ask.com: The Origins of Traditional Potato Salad: An Historical Perspective: https://www.ask.com/culture/origins-traditional-potato-salad-historical-perspective
Wil jy 'n spesiale aartappelslaai resep met ons deel? Of het jy 'n interressante aartappelslaai verhaal? Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking