Toe die Diere gemaak is het hulle nie kos en water gehad nie. Toe moet die een dier die ander se vlees eet en bloed drink, maar dit gee 'n uitroeiery onder hulle af; dog wat anders kon hulle doen?
Hulle huil toe oor hul toestand en soek om verbetering.
'n Baie groot olifant, wat so groot is dat hy oor 'n koppie of 'n randjie kan sien, praat toe en sê:
“As ek dood is, sal ek dit baie lekkerder hê as nou. Dan is ek 'n Groot Gees wat geen kos en water nodig het nie want geeste eet en drink nie. En as ek 'n gees is, dan sal ek na julle omsien.
My bene sal ek laat bome word wat vrugte vir julle kan lewer. My senings sal plante word wat op die grond rank en vir julle wilde waatlemoene en komkommers dra. My hare sal op die grond groei en gras word. Dan sal julle oorgenoeg kos hê.”
Toe vra die diere hom: “Nou hoe lank gaan jy nog lewe? En hoe lank moet ons wag? Want 'n olifant word baie oud.”
Hy antwoord: “Hoe lank ek sal lewe weet ek nie. Al wat julle moet doen is, julle sal julle se tyd moet afwag.”
Toe vra die diere weer: “Waar kry ons water om te drink?”
Hierop gee die Groot Slang met die blink steen op sy kop, antwoord: “So gek om dood te gaan is ek nie, maar ek sal aan 'n plan dink om water te maak. As ek dood is dan kan ek dit nie doen nie.”
Van al die diere wat sterk genoeg is om die Groot Olifant dood te maak, is die Groot Slang met die blink steen op sy kop die enigste want hy is nie alleen baie sterk nie, maar ook baie giftig.
Die Groot Slang sê toe: “Groot Olifant, jy het jou eie vonnis uitgespreek. Jy moet woord hou! Op die plek moet jy dood dan sal jy en ons gelukkiger wees as nou.”
Hierop val die Groot Slang op die Groot Olifant en byt hom dood. Toe het al die diere vir eers genoeg kos en drank aan die vlees en bloed van die olifant.
Dieselfde aand nog sien die diere die Groot Gees van die olifant met vurige oë en 'n vurige bek rondstap, maar die gees stap weg en doen niks aan hulle nie.
So het hy aand vir aand kom kyk na sy aas, waaraan die diere eet tot daar glad niks meer oorgebly het nie, behalwe sy bene, senings, en hare.
Toe praat die Groot Gees met sy bene, sy senings, en sy hare dat hulle bome, rankplante, en gras moet word wat kos aan die diere moet verskaf, en dat hulle hul eie sade moet dra om hulself verder voort te plant.
Toe groei daar Bome, Rankplante, en Gras.
Maar daar was toe nog geen water nie.
Hiervoor het die Groot Slang met die blink steen op sy kop mos belowe om voor te sorg.
Hieroor spreek die diere toe die Groot Slang aan en vra hom hoekom hy nog langer wag om vir hulle water te maak.
Op die plek kruip hy onder die grond in en maak die Ondergrondse Waters wat uit fonteine borrel en loop. Die gras en bome langs die fonteine groei toe welig en geil, maar die plante op die berge en die vlaktes kwyn, verlep en verdor.
Toe huil daardie plante op die berge en vlaktes en soebat die Groot Maan en die Sterretjies om snags van hul water op hulle uit te giet. Maar die Groot Maan en die Sterretjies antwoord dat hulle net genoeg water vir hul eie gebruik het en niks daarvan kan spaar nie. Daarop ween die plante op die berge en die vlaktes hartverskeurend. En toe huil die plante naby die fonteine ook saam oor die lot van hul broers en susters. Hierdie rou gekerm was te veel vir die Groot Maan en die Sterretjies wat toe ook met die dorstiges bitterlik saam huil en hul trane val snags in druppels op die blare van die plante sodat hulle soggens nat gedou is.
Die geval is nou, die diere het genoeg drinkwater by die fonteine wat deur die Groot Slang met die blink steen op sy kop gemaak is, ook het die plante wat by die fonteine groei volop water, maar die berge en vlaktes is droog en dor. Dan kom die Son se warm, dorstige strale en die dorstige Wind en lek die dou trane soggens vroeg op.
Daar was 'n Groot Bul wat baie graag gras geëet het. Hy kon nie genoeg daarvan kry nie. Hy sê toe vir die diere dat hy water sal maak wat uit die lug val, reën, en orals op die velde uitstort. Die Groot Bul neem toe van die water in die fonteine en gooi dit in die lug op. Hy stap van fontein na fontein en smyt water in die lug op. Die Wind kom toe van ver af en dryf al daardie waters bo in die lug saam om wolke te vorm, dan blaas hy die wolke om reën oor die velde uit te skud.
En só het die Eerste Reën ontstaan.
Later, as daar Droogte oor die land heers, word daardie einste Reënbul gesoek, gevang, en deur die Heilige Dokters rondgelei en die plekke uitgewys waar dit droog is. Die plekke wat hulle hom nie wys nie, bly droog totdat hulle hom eendag daardie plekke gaan wys.
Van toe af is daar genoeg kos en water vir al die diere.
Maar party diere is te moorddadig en wederstrewig en kan nie ophou om te moor en verslind nie. Hulle wil glad nie gras en veldvrugte eet nie. Leeu, Luiperd, Hiëna, die Wildkatte, Valk, Uil, en nog baie ander behoort tot hierdie klas, om niks anders as vlees te wil eet nie. Aasvoël het gesê hy is tevrede met die aas van dooie diere.
En só bestaan die wêreld vandag nog: Die een leef van die ander en sonder die ander kan die een nie bestaan nie.
Kai aiôs
***
“Opmerkings: Sommige van die geeste stories van Boesmans is nogal heel mooi opgestel; dog vir kinders wat alte graag daarna luister, vind die ouers dit nie so doeltreffend soos gewone stories nie en so het ons goed gevind om sulke verhaaltjies te onderdruk en waar hulle nogal op die toneel verskyn, met hulle so min kennis te maak as moontlik; dog dié soort stories staan in nou verbinding met Boesmangodeleer (mitologie).” - G. R. von Wielligh
Hierdie verhaal is Nommer 24 uit Boesman Stories (Deel I: Mitologie en Legendes), versamel en geskryf deur Gideon Retief von Wielligh, oud Landmeter-Generaal van die Z. A. Republiek, 1919. Hierdie weergawe van Die Diere vra om Kos en Water is geredigeer deur Anya Namaqua Links vir die Nossob Xoa Xrup. Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking