In my bydrae tot Tobie Wiese se Wreed en Mooi is die Dood (2019) verduidelik ek hoedat die Khoi-San se oeroue geloof in ’n hiernamaals, gewaarborg deur die Opperwese, die hartseer na ’n begrafnis versag. Hier gaan dit om die gedeelde trauma van die Khoi-San as geheel. Uitstaande momente sluit die volgende in:
1488Die ontmoeting tussen die Gourikwa aan die suidkus en verbygaande Europeërs eindig in ’n tragedie. ’n Klompie dorstige Portugese, onder leiding van Bartolomeu Dias, skep water uit die Gouritsrivier sonder die toestemming van die Khoi-veewagters en wou selfs van die vee steel. Hulle word met klippe bestook en Dias skiet ’n veewagter met sy kruisboog dood. Daardie hartseer verhaal is van geslag tot geslag saans by vure deur ons voorouers oorvertel en dis deur Portugal se eie historikus, João de Barros, in sy Decades da Asia in die middel 1500’s geverifieer.
1510
Amptenare van die Portugese onderkoning, Franciskus de Almeida, was nie tevrede met die afgehandelde ruilhandel in die Goringhaikwa-kraal nie. Om meer vee af te dwing het hulle ’n paar kinders ontvoer. Dit het op ’n bloedige skermutseling uitgeloop. De Almeida en 60 van sy manne is gedood en die kinders bevry. Om daardie vernedering te verdoesel het die Portugese in Europa die idee versprei dat die Khoikhoin “mensvreters” is. Daarna het hulle die Kaap vir ongeveer 80 jaar vermy, wat verhoed het dat hulle Suid-Afrika soos Mosambiek en Angola gekoloniseer het (Christo van Rensburg, So kry ons Afrikaans, 2012).
1657
Die eerste gronddiefstal vind plaas al langs die vrugbare Liesbeeck. Johan Anthoniszoon van Riebeeck en ’n aantal amptenare se kontrak van vyf jaar is verby en hulle benodig ’n inkomste. Die Verenigde Oosindische Companjie (VOC), as opperbevelhebber in Amsterdam, gee die opdrag dat die Kaapse Khoi onteien moet word, waarna 11,5 hektaar vir elke vryburger afgebaken word. Die kommandeur se plaas, Boschheuvel, aan die suidelike hang van Huri╪oaxa (Tafelberg), staan vandag bekend as Bishopscourt.
Vir die eerste inheemse mense was grond egter ’n gawe van die Allerhoogste en ’n onvervreembare gewoontereg. Daardie geestelike uitgangspunt het gebots met die Romeins-Hollandse reg dat grond ’n kommoditeit is wat privaat besit kon word - hetsy met geweld (JN McLachlan, in Fundamina, volume 25, 2019). Die Goringhaikwa-stamhoof Gogosoa vra die kommandeur: “As ons Holland toe gaan en dieselfde aan julle doen, sal julle dit toelaat?” Ondanks versetoorloë het die Khoi-San se toegang tot hul tradisionele weigrond begin verbrokkel. Henry Bredekamp se titel van een van sy boeke is veelseggend: Van Veeverskaffers tot Veewagters (1982).
Die besluit van die handelsgedrewe VOC het ’n gevestigde, godsdienstige basis gehad. Reeds in die laat 11de eeu het Pous Urbanus II sy militêre ekspedisies “kruistogte teen heidene” genoem wie se lande beset kon word. Dit het later vergestalt in die Beleid van Ontdekking (Eng. Doctrine of Discovery) van Pous Alexander VI wat in 1493 aan Christene die reg vergun het om die lande van nie-Christene te beset. Daardie pouslike dekreet was ’n jaar na Christopher Columbus se ekspedisie uitgevaardig (Wikipedia: Pope Urban II; Pope Alexander VI). Onvermydelik het dit die gewaande meerderwaardigheid van wit mense versterk.
1674
Sy is !Oro|gōas deur haar ma genoem, maar het bekend geword as Krotoa. Daardie eenvoudiger naam is deur Van Riebeeck vervang met Eva. Die film, Krotoa, wat op haar lewe gebaseer is, was met ’n mengeling van woede en hartseer in 2017 deur vele Khoi-San-leiers ontvang ten spyte van Chrystal-Donna Roberts se briljante vertolking. Bewondering vir die agtienjarige Khoi-meisie wat ’n kritieke rol as veeltalige hooftolk in 1660 gespeel het tydens vredesonderhandelinge na ’n versetoorlog, lei hedendaags tot allerlei eerbetonings: onder meer Krotoa se Plek in Georges-wandelhal deur Stad Kaapstad in 2012; ’n herdenkingsdiens in die Groote Kerk met rituele by die Kasteel de Goede Hoop in 2016; Sylvia Vollenhoven se drama, Krotoa-Eva van de Kaap, in 2019 en in 2024 die 350ste herdenkingsplegtigheid van haar dood op Robbeneiland.
Hierdie goedbedoelde eerbetuigings kan egter die intense eensaamheid wat !Oro|gōas in haar latere lewe op Robbeneiland beleef het, versluier. Haar keuse om met ’n Europeër te trou en in die Christelike kerk te laat doop, het geweldige konflik met haar eie mense teweeggebring. Omdat sy gepoog het om in twee wêrelde te leef, het Dalene Matthee haar in Pieternella van die Kaap (2000) haar tereg die “tweekop-vrou” genoem. Die vroeë dood van haar eggenoot, Pieter van Meerhoff, die gesagsfiguur op die tronkeiland, het haar depressie verdiep. Haar kinders is in pleegsorg geplaas wat haar dranksug vererger het en sy sterf op 29 Julie 1674 as ’n eensame verworpene. Tog word sy deur ons as ’n ikoon beskou wie se pyn ons s’n geword het.
1713
Dan Sleigh deel in sy laaste boek, Riviervloot (2022), mee dat admiraal Johannes van Steelant se vloot vanaf Batavia op weg was toe sy vyf kinders pokke opgedoen het. Aan die Kaap het Van Steelant dit egter verswyg omdat hy bang was dat hy sy werk sou verloor. Sy kinders se besmette klere het hy in die slawelosie laat was, waar die dodelike epidemie uitgebreek het. Van die slawe en Europeërs is dood, maar geskikte medisyne het vele gesond gemaak. Kinderpokke was egter vreemd vir ons en onse kruiedokters kon dit nie keer nie. Binne enkele maande het sowat die helfte van die Skiereilandse Khoi gesterf en baie het uit die Kaap begin vlug. Onwetend het hulle die virus saamgeneem en 10 jaar later het mense selfs in die Noord-Kaap omgekom. Dis moeilik om die omvang van ons hartseer oor daardie tragedie onder woorde te bring. Grafte van opgehoopte klippe kan vandag nog in Namakwaland gesien word.
1700’s tot 1800’s
Mohammed Adhikari vertel die grusame verhaal van die langsame volksmoord op die Boesmans in sy The Anatomy of a South African Genocide: The Extermination of the Cape San Peoples (2010). Terwyl die VOC afhanklik was van ruilhandel met die veeryke Khoikhoin, het hulle “wilde bosjesmannen” beskou as “schepselen” sonder ’n siel, kultuur, wette, en godsdiens. Hierdie skandalige hoofstuk in ons land se geskiedenis het begin toe gewapende trekboere in die vroeë 1700’s oor die Limietberge trek en hulself in die jaggebied van die Obikwa San bevind (later Riebeeck Kasteel en Tulbagh genoem). Die vreemdelinge se ongebreidelde jag op wild (die Boesmans se kos) het tot weerwraak gelei en hulle het 40 beeste van ’n trekboer gesteel, ’n inheemse sin vir regstelling, waarop die Hollanders met ’n strafkommando antwoord.
Die Obikwa-leier, Koerikei, konfronteer veldwagmeester Van der Merwe: “Julle het al die plekke geneem waar die Eland en ander wilde diere leef. Hoekom kan julle dan nie daar gaan bly waar die son sak nie? Dis tog vanwaar julle kom?” Van der Merwe antwoord: “Ek meen julle het genoeg grond.” Koerikei: “Ons sal nie die land van ons geboorte verlaat nie. Nee, ons sal julle inkommers wegdryf!” Dit was die begin van die menseslagting wat langer as 100 jaar geduur het te midde van felle verset. Die |xam van die |xamka !au (Boesmanland) het soos vele ander clans erge hongersnood gely vanweë die wild se uitroeiing. In 1792 het hulle slagters van die Kompanje wat daar gaan vee koop het, se gewere afgevat en sowat 6,000 skape en 250 beeste gebuit. Twee strafkommandos het daarna twee krale summier uitgewis en 546 Boesmans gedood, ’n straf totaal buite verhouding met die oortreding.
Na vele ander voorbeelde merk Adhikari op dat die kommandos van die Hollandse koloniale bewind opgetree het as “mobile killing squads”. Vroue en kinders is gevange geneem en moes op plase as slawe gaan werk. Die VOC het daardie rampsalige praktyk van die trekboere geïnstitusionaliseer as ’n inboekstelsel en die kinder-inboeselings moes dan vir die baas werk tot op die ouderdom van 25 jaar.
Nog ’n mensonterende deel van die volksmoord was toe ’n resolusie in 1792 ’n beloning van 15 riksdaalders vir elke San wat gevange geneem is en 10 riksdaalders vir elke kind onder die ouderdom van sewe jaar, beloof het.
Die Boesmans se leefwyse en kultuur was byna vernietig, maar in die sewentigerjare het !gam |gaub Regopstaan Kruiper dit op die natuurreservaat, Kagga Kamma, begin herstel. In 1994 het sy seun, Dawid, in die VN ’n pleidooi oor hul inheemse regte gelewer, met die gevolg dat vyf jaar later ses plase in die Kgalagadi Grenspark oorhandig is aan die Kalahari Boesmans. Dit het bygedra tot ’n verwerking van hul eeue-oue misère.
1816
Die veelbewoë lewe van Sara Baartman is deeglik onder die loep deur C. Crais en P. Scully geneem in Sarah Baartman & the Hottentot Venus (2009). Nadat hul gesin se inheemse name eensydig deur ’n trekboer in die Kamdeboo verander is, is sy op pad na Kaapstad as vyftienjarige waarskynlik verkrag. Daar het sy ’n liefdesverhouding met ’n Hollander aangeknoop en gedurende 15 jaar se arbeid as huishulp ’n vriendskap met Hendrick Cezars en Alexander Dunlop. Hulle het haar in 1810 oortuig om haar liggaam in Londen ten toon te stel, wat egter ontaard het in ’n fratsvertoning met ’n onwillige Sara. Na ’n hofsaak, aanhangig gemaak deur ’n menseregte-organisasie, het Dunlop en Sara uitgewyk na Manchester.
Hy sterf en sy moes die mas in Parys opkom. Daar het die wêreld se voorste kenner van vergelykende anatomie, Georges Cuvier, haar vergeefs probeer oorreed om ’n intieme, biologiese ondersoek toe te laat. Sara sterf aan longontsteking in Desember 1815 waarna Cuvier haar liggaam opeis en in die Museum vir Natuurgeskiedenis dissekteer. Sy bevinding, wat vir 100 jaar as gesaghebbend beskou is, was dat die Khoi-San meer dier is as mens. Meer spesifiek is sy ontleding van haar geslagsdele: Die Khoi-San is nader aan die orangoetang as aan die mens. ’n Gipsbeeld is saam met haar liggaamsdele in flesse vir byna twee eeue lank uitgestal, eers by die Jardin des Plantes en vanaf 1937 in die Musée de l'Homme. Haar vernedering het ons vernedering geword en dié van alle mishandelde vroue.
Ons kon eers werklik rou nadat Diana Ferrus se ontroerende gedig oor haar die Franse regering beweeg het om haar oorskot terug te besorg aan Suid-Afrika in 2002. Sara Baartman is op ’n heuwel te Hankey, naby die Kamdeboo waar haar naelstring begrawe is, met ’n staatsbegrafnis ter ruste gelê.
1950
Ons gedwonge herklassifisering tot Kleurlinge in 1950 onder die Bevolkingsregistrasiewet en gedwonge verskuiwings luidens die Wet op Groepsgebiede, het in ’n identiteitskrisis en psigosomatiese pyn gekulmineer. Ruimtelike apartheid blyk bykans onomkeerbaar te wees. Ons, as Boesak-gesin, is uit Somerset-Wes geboender en onse hartseer weerklink steeds in miljoene ander s’n.
2025
Na die weiering om deel te mag hê aan die Kodesa-onderhandelinge, het ons ons in 1995 tot die VN gewend. Vier jaar later het president Mandela die Nasionale Khoi-Sanraad gestig wat onse grondwetlike inskakeling moes beding. Ondanks die promulgering van Wet 3 van 2019 is tot op hede nog nie ’n enkele stamhoof of gemeenskap erken nie.
Sewe jaar gelede het ’n nuwe baken van hoop verrys, naamlik die Eerste Nasies Sentrum in Gogosoaweg 1, te Observatory. Dis dieselfde terrein waar die eerste gronddiefstal in 1657 plaasgevind het. Na die inwyding op 14 Maart van hierdie unieke wêreldklasgebou, sal een van die fokusse op intergenerasie-trauma wees.
Bowenal is ons geloof gegrond in Tsuî||Goab, die Gewonde God wat empaties saam met ons treur (soos ek verduidelik in So glo ons, 2016), maar ook dat ons smeekgebed om volkome heling verhoor sal word.
***
Hierdie artikel het op 20 Maart, 2025, op Litnet: Krities Afrikaans se webwerf verskyn. Dr. Willem “Willa” Boezak is in die Noord-Kaap gebore, en het eers 'n diploma en toe 'n meestersgraad cum laude verwerf aan die Universiteit van Wes-Kaap (UWK). Daarna het 'n hy 'n doktoraat in teologie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam in Nederland verwerf, gevolg deur 'n PhD in Maatskaplike Wetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad (UCT). Hy is 'n ten volle gekwalifiseerde maatskaplike werker, navorser, en was vir twaalf (12) jaar 'n dosent in teologiese etiek by UWK. Hy stal gereed kuns uit by die Kasteel in Kaapstad en skryf artikels en opstelle.
Lees die oorspronklike artikel hier: https://www.litnet.co.za/die-khoi-san-se-eeue-oue-trauma/
Kry ons in die hande by nossobgroep@gmail.com
Opmerkings
Plaas 'n opmerking